Atlete span saam vir borskankerbewusmaking

Organiseerders Monice Cox (links) en Rosa-Marie Cronjé (regs). (Foto: Verskaf)

Altesaam 118 kranige roeiers en fietsryers het Sondag in Montana, Pretoria, byeengekom om deel te neem aan die eerste 100 Rowers for 100 Breast cancer screenings-geleentheid.

Roeiers kon in spanne van drie inskryf teen R350 per inskrywing. Dié geld is geskenk aan die niewinsgewende organisasie ILoveBoobies, wat spesifiek borsondersoeke vir vroue uit minderbevoorregte gemeenskappe fasiliteer.

Borsondersoeke speel ʼn belangrike rol in die opsporing, voorkoming en behandeling van borskanker, hoewel ʼn groot aantal Suid-Afrikaanse vroue weens ʼn gebrek aan geld nie ondersoek kan word nie.

Volgens Rosa-Marie Cronjé, organiseerder van die geleentheid, ondersteun hulle die IloveBoobies-organisasie omdat hulle ʼn verskil in vroue se lewe maak.

“Dit is ongelooflik hoe die plaaslike gemeenskap op die inisiatief gereageer het en 118 deelnemers het binne ʼn bestek van twee weke vir die geleentheid ingeskryf,” sê Cronjé.

Sy sê hulle wou eerder ʼn geleentheid skep waar lede van die publiek ʼn aktiewe rol kon speel as om bloot vir skenkings te vra.

“Ons almal weet dat fisieke gesondheid belangrik is vir algemene welstand. Daarom het ons besluit om ʼn geleentheid te skep waar atlete in spanne saam kon roei of fiets ry en sodoende hulle daaglikse oefening kry terwyl hulle ʼn goeie doel ondersteun.”

Altesaam 118 kranige roeiers en fietsryers het Sondag in Pretoria byeengekom om deel te neem aan die eerste ‘100 Rowers for 100 Breast cancer screenings’-geleentheid.

ʼn Groep atlete uit Kaapstad het ook virtueel by die geleentheid aangesluit. ʼn Afstand van altesaam 740 km is tydens die geleentheid afgelê.

Monice Cox, mede-organiseerder, sê die geleentheid is geïnspireer deur ʼn persoonlike ervaring met borskanker.

“Ek is vroeg verlede jaar gediagnoseer met borskanker nadat ek ʼn klein knop gevoel het toe ek ʼn selfondersoek gedoen het. Natuurlik was dit ʼn groot skok, aangesien my familie nie ʼn geskiedenis van borskanker het nie en ek nog nie 30 jaar oud is nie,” vertel Cox.

Sy het pas haar behandeling voltooi en wou ander inspireer deur haar persoonlike reis met die siekte. “Baie mense is nie bewus daarvan dat borskanker een van die mees algemene kankersoorte onder vroue is nie. Dit is noodsaaklik dat vroue weet hoe belangrik dit is om gereeld ondersoek te word om te verseker die kanker word vroeg opgespoor en doeltreffend behandel.”

Borskanker word elke 29 sekondes wêreldwyd gediagnoseer en een uit nege vroue ontwikkel dit in hulle leeftyd. Cox sê hulle ondersteun ook die nuwe #ScreenHerSaveHer-veldtog deur die radiologiegroep Keystone Medical, wat daarop gemik is om vroue ingelig te hou oor die uitdagings van borskanker.

“Dit kan ʼn baie eensame en verwarrende reis wees, maar deur die #ScreenHerSaveHer-veldtog kan vroue wat borskanker het of gehad het hulle ervarings deel. Daar is baie dinge wat die kenners nie deel nie, maar eendersdenkendes kan mekaar deur hierdie moeilike tyd help.”

ʼn Groter roeigeleentheid word beplan vir Oktober wanneer dit amptelik borskankerbewusmakingsmaand is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.