Atterbury ken 65 nuwe beurse toe

Atterbury-Trust-beurse

Foto: Atterbury Trust.

Atterbury Trust se beursspan het pas al die onderhoude vir 2016 se beurse afgehandel. Ons hoor by Zahn Hulme hoe dit verloop het.

Hoeveel beurse kan julle volgende jaar toestaan?

Daar is 65 nuwes. Op die oomblik het ons so 170 studente in die program, met ongeveer 30 wat aan die einde van die jaar klaarmaak. Daar gaan dus volgende jaar nader aan 200 heeltydse studente wees. Die beursprogram gaan beslis van krag tot krag!

Is daar genoeg in die begroting om almal wat julle wil, te help? Hoeveel kandidate het julle gespreek?

Ag, ons wens ons kon almal help. Ons het 130 onderhoude gedoen, maar op die ou end is daar mense wat ons moes wegwys. Ons het ʼn begroting en dan bepaal ons op grond van die onderhoude wie die hulp die nodigste het, baie gemotiveerd is en wat ook in ons opinie eendag die grootste verskil in ons land sal maak. Dit breek mens se hart om studente weg te wys, maar ons moet die mees belowende kandidate kies.

Julle het sekerlik roerende stories gehoor. Kan jy een of twee uitsonder?

Ja daar was baie; dié wat my bybly was die kinders wat swaar grootgeword het. Daar was die een meisie wat sulke helder, pynlike herinneringe aan haar kinderjare met ʼn alkoholis-pa met ons gedeel het. Dit was duidelik dat sy alkoholverwante dood ʼn diep indruk op haar gemaak het. Sulke dinge ruk mens. Dan was daar een seun wat in ʼn stadium in ʼn park in die Paarl gebly het, maar sedertdien met die hulp van een van sy onderwysers Pretoria toe getrek het. Hy het tans  ʼn groep weldoeners wat hom met bydraes help.  Ook vanjaar se hoofseun van die Hoërskool Tuine in Pretoria. Hy het reeds op 18 ʼn fyn ontwikkelde sin vir reg en verkeerd en sulke ongelooflike goeie waardes. Sy lewensuitkyk is sosuiwer as mens sy omstandighede in ag neem. Ek het lanklaas ʼn 18-jarige ontmoet wat my so beïndruk het.

Wat het jou vanjaar die meeste opgeval gedurende die onderhoude. Is daar ʼn tendens te bespeur?

Ek kon sien daar is meer van die universiteite wat begin agterkom wat Atterbury Trust doen en studente wat by hulle vir finansiële hulp aanklop, na ons verwys. Ons het byvoorbeeld uit Noordwes meer as 20 aansoeke gekry van behoeftige ingenieurstudente. Van hulle is reeds in hul eerste jaar op universiteit, maar hulle sukkel om finansieel die mas op te kom. Dan is daar ook vir die eerste keer ewe veel seuns en meisies; in die verlede het ons altyd meer meisies gehad.

Hoe werk die keurproses? Is daar ʼn kortlys?

As die aansoeke sluit, kyk ons deur elkeen om te sien wie volgens ons kriteria kwalifiseer. Vanjaar het ons omtrent 500 aansoeke gehad. Ons oorweeg die finansiële behoeftigheid en dan kyk ons na hul punte, hul veelsydigheid, of hulle ekstra werk doen om geld te verdien. Die klompie wat hieraan voldoen, word genooi vir ʼn onderhoud. Ons het vanjaar 130 studente gespreek en ons het onderhoude reg oor die land gehou – in Potchefstroom, Kaapstad, Durban, Stellenbosch, Bloemfontein. In die onderhoud kyk ons na hul huishoudelike omstandighede en ons maak seker van hulle behoeftigheid. Dan kyk ons ook na hul studierigting en evalueer of ons dink dit is ʼn goeie rigting vir die student, of hulle weet wat dit behels, of hulle al navorsing daaroor gedoen het. Ons vra hulle uit oor sport, kultuur en buitemuurse bedrywighede; wat hul stokperdjies is, wat hul sosiaal doen. Ons is op die uitkyk vir mense wat eendag ʼn impak gaan maak in die samelewing, wat leiding gaan neem want die beursprogram gaan ook vir ons oor die bou van ʼn generasie wat eendag ʼn verskil kan maak, wat kan teruggee. So evalueer ons die aansoeke op grond van die onderhoude en kies die top 65.

Wanneer kies julle en hoe gaan julle die nuwe beurshouers laat weet?

Ons het almal reeds teen einde September laat weer, ook die onsuksesvolle kandidate. 

Hoe lyk die nuwe 65 as ʼn groep?

Hulle is omtrent die helfte seuns en meisies. Daar is ʼn paar wat al eerstejaars is, ʼn groot klomp ingenieurs en ook onderwysers. Daar is ook  ʼn hele klompie wat BComm en BRek gaan studeer. Hulle doen oorwegend professionele rigtings.

En nou is die aansoeke weer oop vir 2017 se beurse, reg? Waarvoor hoop julle?

Dis reg ja. Ons hoop dat ons volgende jaar 70 studente sal kan help. Dit sal beteken dat ons sowat R500 000 ekstra nodig het. Dit is werklik ʼn eer om soveel talent en dryfkrag in ʼn groep jongmense te sien, soveel honger om hulself te bekwaam en ʼn bydrae te kan maak, dus sal ons graag die ekstra geld wil bymekaarkry. Donasies is baie welkom, en ons sal ook met ons gewaardeerde medewerkers saamspan om te kyk hoe ons die ekstra geld kan insamel.

  • Atterbury Trust is as ’n Publieke Voordeelorganisasie (PBO) geregistreer. Dit beteken dat donasies wat deur maatskappye en/of individue aan die Atterbury Trust gemaak word, belastingaftrekbaar is. Lees hier hoe jy maklik ʼn donasie kan maak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.