AVBOB ondersteun klein ondernemings met R10 miljoen-hulpfonds

Mpume Ntaka, informele handelaar

Mpume Ntaka van Mfume, 30 km suid van Durban, verkoop al langer as 20 jaar vrugte en groente in Isipingo. In Julie 2021 het dié inisiatief heeltemal tot stilstand gekom weens die grootskaalse verwoesting van eiendomme en sakeondernemings in KwaZulu-Natal en Gauteng.

Talle nie-versekerde klein ondernemings is heeltemal vernietig, wat eienaars en werknemers in ’n uitsiglose situasie laat beland het. In reaksie op dié dringende behoefte om bystand het AVBOB die R10 miljoen- AVBOB Rampverligtingsfonds gestig waarmee dié groep die nood van soveel moontlik benadeeldes wil verlig.

Die bestuur van die plaaslike Isipingo Life-kantoor, wat die Isipingo-gebied bedien, het ses informele handelaars – wat naby die tak sake doen – geïdentifiseer om aansoek om hulp te doen. Vanweë die aard van die produkte van hierdie handelaars, hoofsaaklik bederfbare vrugte en groente en snoepgoed, het die voorgestelde donasiepakket bestaan uit ’n gazebo, tafel, tafeldoek, stoel en voorraad.

Die steun van die AVBOB Rampverligtingsfonds sal Ntaka, sowel as ander informele handelaars, ’n finansiële hupstoot gee, asook ’n geleentheid om van voor af te begin en vars voorraad aan te koop.

“Die plek waar ek my voorraad hou, is geplunder, wat beteken het dat ons niks gehad het om te verkoop nie,” sê Ntaka. “Die opstande het Isipingo baie sleg getref en baie winkels het óf hul deure gesluit, óf is heeltemal verwoes. Ons het baie klante en geld verloor en kon nie kos vir ons gesinne koop nie.”

Bevoordeeldes kan nou hul ondernemings herbou

Carl van der Riet, uitvoerende hoof van AVBOB, glo dat AVBOB as verantwoordelike korporatiewe instelling besef dis van kritieke belang dat hulp verleen word aan die gemeenskappe wat hulle bedien en wat deur die gebeure geraak is, veral KMMO’s en ondernemings sonder versekering.

Hy sê voorts: “AVBOB is ten nouste betrokke by en toegewyd aan die gemeenskappe wat ons bedien deur ’n wye spektrum inisiatiewe, met die verbetering van lewens as uiteindelike doel. Op dié manier bly ons getrou aan ons handelsmerkbelofte: ‘Ons is hier vir jou®’.”

Die fonds se huidige begunstigdes sluit in Sukuma Primary School en ses informele handelaars wat naby die Isipingo Life-kantoor handel dryf. Mamphego Phasha Studios, SHAPE Café, Mams FM, Rise Against Hunger Africa en NGOConnectSA is reeds aangewys as begunstigdes wat vir finansiering in aanmerking kom. Tot op datum het die fonds ’n ondersteuningsbedrag van altesaam R2,5 miljoen geskenk aan 16 nie-versekerde ondernemings, nie-regeringsorganisasies en organisasies wat geraak is deur die KZN- en Gauteng-onluste.

Sukuma Primary School

Sukuma Primary School, wat in Umlazi geleë is, bied vir leerders uit die gemeenskap talle buitemuurse aktiwiteite en programme aan. Die skool het ook onder die burgerlike onrus deurgeloop. Die skoolhoof, Anne Makhanya, sê dat die onluste en plundering ’n uiters negatiewe uitwerking op die leerders gehad het en hul vordering op skool belemmer. “Klaskamerdeure is afgebreek en stowe en emmers is gesteel. Kinderstoeltjies is gesteel, onderwysers se stoele is gesteel, dakverf is gesteel, ons Suid-Afrikaanse vlag is gesteel – ook die sonpanele van ons vraghouerbiblioteek.”

Die AVBOB Rampverligtingsfonds maak dit vir Sukuma Primary School moontlik om die skade te herstel en die gesteelde goedere te vervang. Dis duidelik dat die skool AVBOB na aan die hart lê, want AVBOB het in 2018 ’n vraghouerbiblioteek geskenk wat dit vir die skool moontlik maak om sy leerders se leesvaardighede te verbeter – iets wat dikwels vir hulle ’n groot uitdaging is. “Ons hoop dat die skool sal kan voortgaan om so ’n waardevolle diens aan die leerders en die gemeenskap van Umlazi te lewer, nadat AVBOB ons gehelp het,” sê Makhanya.

SHAPE Café (Sebokeng-tak)

Itumeleng Hlapane, SHAPE Café se stigter

SHAPE Café, die enigste koffiewinkel in die hele Vaal-gebied, is vir baie klein ondernemings ’n gerieflike plek waar werkers kan gaan sit en werk. Ná sy sluiting is klante gedwing om groot afstande af te lê vir alternatiewe lokale. “Ons moes ons onderneming van 12 Julie tot 1 September 2021 sluit, wat ons sonder ’n inkomste vir daardie tydperk gelaat het,” sê Itumeleng Hlapane, SHAPE Café se stigter en uitvoerende hoof. “Met behulp van die AVBOB Rampverligtingsfonds kon ons weer belangrike toestelle soos koffie-, roomys- en slush-masjiene koop om aan die gang te kom en ons onderneming te herbou.”

Mamphego Phasha Studios

Thebello Mothlokoa, eienaar van Mamphego Phasha Studios

Die verlies aan kliënte en werknemers weens die onrus het nie net tot rampspoedige finansiële verliese gelei nie, maar het sake-eienaars ook van hul selfvertroue, drome en passie beroof. “Ons het alles verloor waarvoor ons gewerk het sedert die maatskappy se stigting in 2016,” sê Thebello Mothlokoa, eienaar van Mamphego Phasha Studios. “Ons het vertroue verloor in ons vermoë om te herbou, wat ons moedeloos gemaak het. AVBOB se fonds het dit egter vir ons moontlik gemaak om nuwe toerusting aan te koop en dit het my drome en geloof in die mensdom herstel.”

Die AVBOB Rampverligtingsfonds lê hom daarop toe om gemeenskappe te versterk deur steun te gee aan dié wat swaar getref is. Die doel van die inisiatief is om betekenisvolle hulp aan huidige en toekomstige begunstigdes te verleen en terselfdertyd die uitwerking en gevoel van verlies wat deur soveel klein ondernemings en entrepreneurs ervaar is te verlig.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Goeie nuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.