Baanbrekerinisiatief wil meisies, vroue bemagtig

Benette Rautenbach, die FroueVonds se projekkoördineerder, saam met Annemarie van Heerden, Helpende hand se streeksorganiseerder van Mpumalanga en KwaZulu-Natal, wat die eerste skenking tot die R1 miljoen doelwit gemaak het. (Foto: Roelien Malan/WorthIt Photography)

Helpende Hand het Donderdagaand ʼn baanbrekerinisiatief bekendgestel waardeur hy meisies en vroue deur verskeie projekte wil bemagtig om hul eie lewens te verander, én pilare in hul gemeenskappe te word.

Die inisiatief, FroueVonds, is gisteraand tydens ’n glansgeleentheid in Moonshot Café in Pretoria bekendgestel. Die fonds se twee ambassadeurs, die sangeres Monique Steyn en die sakevrou Elma McKenzie, was van die vele bekendes en vooraanstaande vroue wat die geleentheid bygewoon het.

René Roux, adjunk- uitvoerende hoof van kommunikasie by Solidariteit Helpende Hand, verduidelik hulle het besluit om die naam van die fonds as “FroueVonds” te spel, “want alles loop nie altyd reg nie”.

“Dit is ons slagspreuk vir hierdie merkwaardige fonds wat nog soveel lewens gaan verander,” sê Roux. “Vroue is die ruggraat van ons samelewing en die hart van die huis en almal weet welstand begin by die huis. Net soos die historiese Susanna Smit bereid was om kaalvoet oor die Drakensberge te trek, is dit nou die tyd om ons land se vroue by te staan en te bemagtig.”

Dewald Wasserfall sing “So Sterk Soos ’n Vrou” by die bekendstelling. (Foto: Roelien Malan/WorthIt Photography)

Tydens die bekendstelling is verskeie vroue vereer vir die belangrike werk wat hulle in hul gemeenskappe verrig. Een hiervan is dr. Elizabeth “Rina” Venter wat vereer is vir die werk wat sy vir meer as 20 jaar as maatskaplike werker gedoen het. Sy was ook minister van nasionale gesondheid en gesondheidsontwikkeling van Suid-Afrika van 1989 tot 1994. Sy was die eerste vrou in die Suid-Afrikaanse geskiedenis met ’n pos in die kabinet.

Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, is ook vereer vir die wyse waarop sy as waghond vir die Afrikaanse taal, kultuur en erfenis optree.

Dewald Wasserfall, wat sy jongste treffer, “So sterk soos ’n vrou”, beskikbaar gestel het as temalied vir die FroueVonds, het óók die geleentheid bygewoon en die liedjie daar gesing as huldeblyk vir al die sterk vroue wat die fonds ondersteun en daarby baat gaan vind.

Die motiveringspreker Susan Coetzer. (Foto: Roelien Malan/WorthIt Photography)

“Ons het die fonds geskep vir meisies en jong vroue wat hulp nodig het op alle vlakke in hul lewensfase,” sê Roux. “Die fonds fokus daarop om hierdie vroue te bemagtig en te ondersteun met die nodige opleiding, kennis en produkte wat hulle mag benodig om verligting te bring in hul lewens, asook om vir hulle ’n pad te skep om uit armoede en ander situasies uit weg te breek.

“Dit is vir die FroueVonds belangrik dat ons kwessies wat vroue na aan die hart lê saam met kundiges in verskeie velde takel. Ons poog om veral vroue wat al moed verloor het weer hoop te gee deur vir hulle geleentheid tot oop gesprekke te bied oor kwessies soos selfvertroue en selfbeeld, mishandeling, verkragting, suksesvolle lewenskeuses, mamma wees en nog talle ander.”

Roux het beklemtoon dat die FroueVonds alleenlik ’n sukses sal wees as die gemeenskap hande vat. “Ons is vasbeslote om die projek af te skop deur R1 miljoen se skenkings in tien dae in te samel sodat ons met ’n groot knal kan wegspring. Ons het jou gawes, talente, getuienisse, raad, wysheid, stories, geleenthede, kundigheid en omgee nodig.”

Elma McKenzie, stigter van Placècol, Sarina Frauenstein, aanbieder, en Monique Steyn. (Foto: Roelien Malan/WorthIt Photography)

Die FroueVonds het onder meer hande gevat met Placècol en Imbalie Beauty om te verseker dat behoeftige vroue die geleentheid gegun word om opleiding in skoonheidsterapie te ontvang en hulle daardeur in staat stel om hul eie inkomste te verdien en só die kringloop van armoede te verbreek.

“Ondersteuners verseker ook dat duisende behoeftige Afrikaanse laer- en hoërskoolmeisies nie skooldae as gevolg van hul menstruasiesiklus moet misloop aangesien hul ouers nie sanitêre doekies kan bekostig nie. Ons sorg tans vir 3 000 meisies maar moet teen 2021 sorg dat 4 000 meisies hierdie noodsaaklike produkte ontvang sodat hulle op die selfde vlak as al hul skoolmaats kan wees,” sê Roux.

Helpende Hand se Studiefondsentrum (SFS) het ook pas die Susanna Smit Studiefonds gestig. Met dié studiefonds wil Helpende Hand dit vir meisies moontlik maak om te gaan studeer asook studente help om hul grade te voltooi wanneer daar onvoorsiene finansiële probleme opduik.

Hannes Noëth, Helpende Hand se uitvoerende hoof

Hannes Noëth, Helpende Hand se uitvoerende hoof. (Foto: Roelien Kruger/WorthIt Photography)

Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Helpende Hand, het verduidelik die FroueVonds is nie ʼn noodfonds nie – dit is ʼn hoopfonds. “Die FroueVonds is nie ʼn antwoord nie; dit is die pad. Die FroueVonds is nie net geld nie; dit is die uitweg. Die krag en roeping van die vrou as vrou en moeder moet nie onderskat word nie. Die FroueVonds wil die rol van die vrou erken, versterk en bevestig,” het hy gesê.

Vir meer inligting besoek Helpende Hand se webblad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Darius ·

Wow… respek!! goeie werk Hepende Hand, ek haal my hoed af vir julle. Kaalvoet en bietjie vir bietjie gaan ons weer wen!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.