Baanbrekers van die binneland   

Binne die waenhuis. (Foto: Verskaf)

Die Ditsong Pioniersmuseum in Silverton, Pretoria, beeld die inspirerende storie van die eerste pioniers wat hulle in die binneland gevestig het onverwags treffend uit.

Ek besoek die pragtige terrein met sy uitgestrekte groen grasperke, kabbelende stroompie en ganse op ʼn koel weeksoggend. Heimlik verwag ek verval en agteruitgang, maar wat ek vind verras my. ʼn Vriendelike ontvangs, goedversorgde terrein en kundige toergids sorg vir ʼn interessante besoek aan die tyd van my pioniervoorvaders.

Caroline Griessel het in 1985 reeds as ʼn vrywilliger by die Pioniersmuseum begin werk en is later permanent aangestel. Sy lei my al geselsend oor die bruggie na die hart van die museumkompleks: die oorspronklike pioniershuis.

Tussen die mure van ʼn pioniershuis

Die bad. (Foto: Verskaf)

Hoewel die gebied in en rondom Pretoria sedert die Vroeë Steentydperk deur mense bewoon en benut is, het die eerste wit setlaars hulle in 1836 in die gebied kom vestig. David Botha was deel van die Groot Trek en het hom en sy familie op die plaas Hartbeesfontein gevestig. Hier het hy die pioniershuisie waarin ek vandag vol verwondering staan, gebou. Dit is een van die oudste en bes bewaarde wonings van die vroeë setlaars in die ou Transvaal.

Ek buk effens om by die kombuisdeur in te gaan en word deur ʼn skemer koelte omvou. In die groot vuurherd staan verskillende potte uitgestal, soortgelyk aan dié wat in die pionierstyd gebruik is. Caroline wys na ʼn groot koperpot. “Dié een is spesifiek gebruik om melktert te maak. Dis groter as wat ons melkterte vandag is, maar daar was baie soettande wat saam moes eet,” lag sy.

Op die kombuisrak pryk blikke, skottels en ʼn verskeidenheid houers en sakke, nes hulle dit in daardie dae gebruik het. Bo die herd hang velsakke, waskerse en bossies droë laventel aan houtbalke. Ek slaan my hande saam oor die vindingrykheid toe Caroline vertel dat vroue destyds laventel as reukweerder gebruik het.

“Hulle het lapsakkies gemaak wat oor die skouer kon haak en knus onder die arm ingepas het. Daarin het laventel gekom, sodat sy lekker kon ruik, ten spyte van al die harde werk wat ʼn vrou op die plaas gedoen het.”

In die eetkamer lê daar velmatte op die misvloer en die traporreltjie staan reg vir ʼn paar vrolike deuntjies na ete. ʼn Voetstofie is onder ʼn riempiesbank ingestoot, gereed om vanaand se moeë voete te lawe na ʼn dag se harde werk. ʼn Ysterbad in die hoek van die slaapkamer sou die lywe een maal per week behoorlik laat blink.

Van bestaansboere tot bedrewe dorpenaars

Die bakoond. (Foto: Verskaf)

Ons stap buitentoe, na waar ʼn kruietuin aangelê is om in die gesin se behoeftes te voorsien. Kruie was ʼn baie belangrike deel van die pioniersvrou se lewe, aangesien dit kwale moes dokter, en kleur en geur aan die andersins eentonige dieet van daardie tyd moes verleen.

In die groentetuin sou jy wortels, boontjies, spinasie, tamaties en ertjies kry en in die vrugteboord is appelkose, pruime, pere, appels en perskes geplant. Die nedersetters het in dié tyd ʼn bestaansboerdery bedryf met ʼn bietjie koring en mielies, buiten die groente en vrugte.

’n Entjie verder is die geherkonstrueerde waenhuis. Dit huisves tans ’n ossewa wat aan David Botha behoort het, ’n donkiekar, ʼn kapkar en ’n uitstalling van toerusting wat deur ’n boer gebruik sou word vir houtwerk, smidswerk en ander take op die plaas.

Water is aanvanklik, van 1854, deur ’n stelsel van watervore na Pretoria se inwoners gelei. Daar is in 1854 begin met die grawe van die voor. Teen April 1855 was die voor al tot by die poort gegrawe. Hoewel die stelsel uitgebrei is totdat Pretoria deurkruis was met vore, was dit mettertyd nie meer voldoende om water aan al die inwoners te voorsien nie.

 Pretoria is op 16 November 1855 as dorp geproklameer – ʼn mylpaal vir die pioniers wat hulle hier gevestig het. Die dorp het mettertyd die hoofstad van die Zuid-Afrikaansche Republiek geword en dié status behou tot Uniewording in 1910. Dit is in die 1860’s deur reisigers as ʼn stil en rustige landelike dorp beskryf. Die inwoners het melkkoeie, ʼn slagding of twee, vrugtebome en groentetuine gehad. Pretoria was die sentrale ruspunt vir jagters, prospekteerders en handelaars, met ivoorhandel wat as een van die eerste nywerhede in Pretoria beskou kan word.

Terwyl ons verby die vrugteboord na die dorsvloer en meule stap, vertel Caroline my dat die plaas Hartbeespoort en sy pioniershuisie in 1874 aan ʼn Duitser Hans Mundt verkoop is. Mundt was ʼn vooruitstrewende boer wat die tuin, landerye en boorde intensief bewerk en sy produkte in Pretoria bemark het. Hy het hokke vir varke, hoenders en kalkoene gebou, asook ʼn proviandkamer vir die berging van gedroogde vrugte, heuning, eiers, beskuit, groente, biltong en gansvere. Sy rookkamer is gebruik om hamme en wors in te rook.

Die ontdekking van goud in Pelgrimsrus en Barberton het die verkeer na die ooste laat toeneem en meer klandisie vir Mundt na Hartbeespoort gebring. In 1892 het Pretoria elektrisiteit gekry, wat ʼn nuwe hoofstuk in die dorp en land se ontwikkeling ingelei het. Binne die bestek van sowat 50 jaar het die pioniers groot baanbrekerswerk in die binneland verrig.

Die pionierspot bly aan die kook

Die kombuisrak. (Foto: Verskaf)

Voor die Covid-19-pandemie was ʼn groot deel van die Pioniersmuseum se inkomste afkomstig van die opvoedkundige programme oor die pionierslewe wat vir skole en tuisonderriggroepe aangebied is. Volgens Caroline begin die aanvraag na dié toere nou weer geleidelik toeneem.

“’n Opvoedkundige program duur gewoonlik ongeveer drie uur. As deel van die program bak ons brood en maak botter. Elke leerder kry eers die kans om ʼn balletjie deeg in ʼn blikbord te knie. Ons skud dan almal saam aan ʼn botteltjie room en vir die leerders is dit werklik ʼn ervaring om te sien hoe die botter en karringmelk skei,” vertel sy.

Die gids gooi dan die karringmelk af, was die botter met skoon, koue water en voeg
sout by na smaak. Daarna mag dié wat wil, die botter proe.

Leerders maak ook ʼn draai by die bakoond wanneer die panne met deeg in die oond gesit en die oond toegemaak word, asook wanneer die gaar brood na ongeveer ʼn uur uitgehaal word. Opvoedkundige personeel geniet varsgebakte brood saam met hulle tee aan die einde van die dag en elke leerder ontvang ook ʼn proesel wat dikwels nog warm is, sodat die botter daarin smelt.

Vir Caroline is die lekkerste deel van haar werk om stories en staaltjies uit die pionierstyd te vertel. “Omdat ons kerse maak is dit heerlik om ná ʼn demonstrasie ʼn paar stories oor die opsitkers te deel. Vroue het in die ou dae slim maniere uitgedink om ʼn boodskap mee oor te dra, soos om koffie te skink in ʼn koppie en piering wat nie bymekaar pas nie. Ek het ook gehoor dat party vroue ʼn bietjie sout in hul voorskoot se sak weggesteek en so nou en dan ʼn bietjie op die kers gegooi het sodat dit langer sou brand en hulle langer kon kuier.”

Wat maak die Pioniersmuseum nog relevant vandag, waarom moet mense dit besoek? Caroline glimlag. “Die Pioniersmuseum is vir my baie spesiaal omdat jy ʼn stukkie geskiedenis sowel as pure plaas in die middel van ʼn groot stad kan beleef. Dis ʼn rustige omgewing met lowergroen grasperke waar eende, ganse en skape kom bedel vir mielies. Wat meer wil ʼn mens hê?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.