Baba Lee: ‘Dis heerlik om hom terug te hê’

Baba Lee (Foto: Facebook)

Klein Lee Janse van Rensburg van Vereeniging, wat op 2 Januarie gebore is en reeds talle terugslae in sy kort lewe beleef het, sterk goed by die huis aan nadat hy drie weke lank om sy lewe in die hospitaal moes veg.

Judith Janse van Vuuren, Lee se ouma, het Maandag aan Maroela Media gesê Lee is nou al twee weke by die huis en dit gaan goed met hom.

“Die enigste probleem was dat hy heeltyd sy melk opgebring het, maar ons het eergister die melk verander. Ons hoop dit sal hom help, want hy was so ʼn bietjie olik.

“Die seer op sy armpie is amper gesond en dit gaan goed met hom. Hy is nou ʼn vraatjie en raak lekker vet,” skerts sy.

Maroela Media het vroeër berig Lee se ouers, Nikita en Shaun, het kort voor Nuwejaar gehoor hul ongebore baba se hart klop te vinnig. Die dokter het Nikita aangeraai om hom op 2 Januarie weer te kom spreek. Lee is daardie selfde middag nog met ʼn keisersnee in die Vereeniging/Kopanong-hospitaal gebore.

Hy het voor sy geboorte ʼn stoelgang in die baarmoeder gehad en daarvan ingekry. Vrugwater het ook in sy longe beland. Hoewel hy direk ná geboorte suurstof ontvang het, het hy kort daarna epileptiese aanvalle begin kry.

Baba Lee (Foto: Facebook)

Hy was tien dae lank in die intensiewesorgeenheid, gekoppel aan sewe druptoestelle en ʼn hart- en suurstofmasjien. Dokters het ook deurgaans sy bloeddruk en breinaktiwiteit dopgehou. Hy is daarna na die hoësorgeenheid oorgeplaas toe dokters ʼn virus ontdek wat sy hele liggaam besmet het.

Lee het in ʼn stadium ook sepsis in sy linkerarm ontwikkel nadat van die medikasie uit ʼn drup in sy weefsel beland het. Die klein vegtertjie het egter sedertdien wonderbaarlik goed herstel en is einde Januarie uit die hospitaal ontslaan.

Lee se gesin wag nou net vir die uitslae van Lee se breinskandering wat hulle op 26 Februarie sal ontvang. Die sepsis in sy arm word ook geleidelik gesond.

Janse van Vuuren sê dit is heerlik om Lee by die huis te hê nadat dit ʼn tyd lank so sleg met hom gegaan het.

“Dit is vir ons ʼn groot, groot wonderwerk elke dag; dat hy deurgehaal en aan ons teruggegee is, dit is ál wat hy is – ’n klein wonderwerk. Dit is heerlik om hom by die huis te hê,” het sy gesê.

Op die pad vorentoe sal Lee gereeld die pediater moet besoek en hy moet vir ses maande medikasie ontvang om sy epileptiese aanvalle te beheer. Sodra die gesin die uitslae van die breinskandering ontvang het, sal hy ook daagliks fisioterapie kry om sy breinfunksionaliteit te stimuleer.

Lees alle vorige berigte oor Baba Lee op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sophia ·

So ‘n pragtige ou seuntjie! Ons bid dat God hom volkome sal herstel en hy sommer ‘n geseënde lewe sal hê!

M ·

Ons dien ‘n Almagtige Groot God en Hy hoor verseker elke gebed. Jy is ‘n regte klein vegtertjie en het in almal se harte gekruip.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.