Baba met gesplete verhemelte ʼn brawe knaap

Noah Buys, voor en na die operasie. (Foto: Verskaf)

“My hart was stukkend om hom daar te laat in die teater. Soveel dinge maal op daardie oomblik deur jou kop, en die manier waarop hy na my gekyk het net voordat hy onder verdowing gegaan het, was bloot hartverskeurend.”

So vertel Tanya Buys van Lydenburg in Mpumalanga en mamma van klein Noah Buys, die baba wat op agt maande al twee operasies moes ondergaan om sy gesplete verhemelte te herstel.

Maroela Media het vroeër berig dat dié brawe klein knaap met sy helderblou ogies op vyf maande sy eerste operasie moes ondergaan om met die herstelproses te begin. Tydens hierdie operasie in Augustus is sy sagte verhemelte herstel. “Die herstelperiode daarna was uitdagend omdat hy vir twee weke op ʼn spesiale manier gevoer moes word,” vertel Buys.

In sy jongste operasie, wat op 28 Oktober plaasgevind het, het prof. KW Butow en sy span by die Life Wilgers-hospitaal in Pretoria die harde verhemelte, die neusmembraan asook Noah se neus en lippie herstel. Die operasie het drie uur geduur.

“Noah was ses dae in die hospitaal, maar teen die tweede dag was hy sy ou self en het hy amper geen tekens van pyn getoon nie,” sê Buys. Sy vertel dat voeding vir klein Noah weer eens ʼn uitdaging was, omdat hulle hom slegs met ʼn spuit, 5 ml op ʼn slag, in die eerste drie dae kon voer. Daarna is hy stadig met ʼn bekertjie begin voer.

Buys vertel dat Noah tans geen suigaksies met sy mond mag maak nie en dat hy eers by sy opvolgafspraak aan die einde van November die groen lig kan kry.

“Ons is nou in die tweede week sedert hy ontslaan is en hy herstel ongelooflik mooi. Hy het ook baie goed aangepas met sy voeding,” sê Buys.

Noah Buys kort na sy tweede operasie. (Foto: Verskaf)

Noah se pad na volle herstel is egter nog lank en in Februarie volgende jaar sal hy vir sy eerste evaluasie by ʼn spraakterapeut aanklop. Hier sal hy oefeninge ontvang om by die huis te doen voordat hy met spraakterapie begin.

“Ons het ʼn geldinsameling begin vir sy spraakterapie omdat die mediese fondse nie ten volle daarvoor betaal nie en die totale bedrag draai by R120 000 per jaar. Hy sal dié terapie twee jaar lank moet kry,” sê Buys.

Op nege sal Noah ʼn beenoorplanting ondergaan waartydens been uit sy heup gebruik sal word om sy tandvleis te herstel. Hy sal moontlik ook draadjies kry. Op 14 sal Noah na verwagting sy laaste operasie ondergaan waartydens ʼn mediese span die finale aanpassings aan sy neusmembraan en neus sal aanbring.

Benewens die uitdaging wat dié woelige agt maande oue seuntjie aan haar stel, is die 27-jarige Buys tans besig om haar studie in finansiële ouditering aan Unisa af te handel.

“As ek terugkyk op dit waardeur Noah is van geboorte tot nou, loop my hart oor van trots. Die manier waarop hy alles hanteer het en hoe vinnig hy genees het, het ons voete onder ons uit geslaan.

“Noah is ʼn klein grapjas op sy eie; daar gaan nie ʼn dag verby dat hy nie vreugde en glimlagte in ons huis bring nie, maar daar is geen woorde wat werklik die seer in ʼn mamma se hart beskryf wanneer jy daai klein lyfie in teater moet invat en hom daar te moet laat in die genade van ander mense se hande nie,” sê  sy. “Nietemin lê my vertroosting in die krag van gebed en met die wete dat ons hemelse Vader sy hand oor hom sal hou,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Liza ·

Noah jy is pragtig boeta…. tannie bid dat Jesus jou sal dra deur jou lewetjie.

???? leser ·

pragtige verskil van eerste foto tot laaste, dankie aan die dokters en personeel
seuna, ek dra jou ook op in Jesus naam vir volkome herstel
ouers, sterkte vir julle , Jesus kyk ook na julle

Annalie ·

Die gesin kan aansoek doen by Prof Butow dat hy hulle verwys na die Pretoria Universiteit se Kaak, Gesig en mond kliniek toe. Staatsdokters wat multi-disiplinêre diens lewer teen n fraksie van privaat mediese koste. My seun is deur selfde proses, ek verstaan die druk op mamma. Prof Kurt en sy span is die beste. Sterkte vir julle. Ons gebede is by julle.

Blouoog ·

Pragtige ou blouoog seuntjie. Te jonk vir pyn. Hoekom betaal die medies nie alles in so n geval? Sterkte Noah.

sannie ·

Ons dank die VADER Vir vordering in die mediese wetenskap.

Natascha ·

Dank asan ons Hemelse Vader vir Sy hand oor klein Noah.
Ons bid hom n spoedige herstel toe.

jean ·

Pragtige, brawe ou dingetjie!…Ons weet Liewe Jesus hou jou vas elke dag!

Liza ·

Ag moederliefde wat ‘n pragtige ou dingetjie, kleine Noah ek bid vir jou herstel proses en liewe Jesus sal mooi na jou kyk want Sy genade is groot…..Sterkte vorentoe liefste mamma en pappa dink aan julle en bid ook vir julle…….

Philip ·

Ek self is met ‘n dubbel spleet gebore.. Ek is nou 22jaar oud en my laaste operasie was gedoen in Oktober 2019. Al my operasies was gedoen deur Prof Butow in Wilgers. Geen beter dokter as hy om dit te herstel nie! Ek is baie tevrede met alles wat gedoen is.
Dit is ‘n moeilike pad gewees om te stap maar was alles die moeite werd gewees!

J ·

Ons seuntjie het Goldenhar sindroom en is 9 jaar terug gebore ook met n gesplete verhemelte en sy regter oor skulp is afwesig en regter oogie kleiner. Ons gaan ook na prof KW Bütow toe by wilgers Hospitaal hy is fantasties. Ek sal hom aanraai vir enige ouers wat se kind met n gesplete verhemelte gebore word. Ons seun se volg operasie lê voor waar hulle n stukkie been uit haal of by sy rib of ken om in sy gum in te plant.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.