Baba ná 75 dae in ‘borrel’ ontslaan

Tayla Grace Christie in die hospitaal. Foto: Verskaf

Klein Tayla Grace Christie is Maandag uit ʼn hospitaal in Ballito in KwaZulu-Natal ontslaan nadat sy die eerste 75 dae van haar lewe in ʼn beskermende “borrel” moes deurbring toe sy ná swangerskap van 31 weke gebore is.

Elrize Kruger, Tayla se ma, is tydens haar swangerskap met ʼn mediese toestand gediagnoseer wat veroorsaak dat die baba se ontwikkeling tydens swangerskap vertraag of heeltemal tot stilstand kom terwyl die baba nog in die baarmoeder is. Tayla moes noodgedwonge vroeër in die lewe gebring word en het by geboorte slegs 995 g geweeg.

Tayla het in die paar dae na haar geboorte nog gewig verloor totdat sy net 805 g geweeg het. Die broeikas waarin sy gehou is, is in ʼn beskermende “borrel” omskep deurdat plastiek gebruik is om die broeikas te bedek om te help om Tayla warm te hou en haar teen lig en klank te beskerm.

Sr. Eloise Strydom, eenheidsbestuurder van die Netcare Alberlito-hospitaal se neonatale-waakeenheid waar Tayla behandel is, het gesê dit kan vir vroeggebore babas traumaties wees indien hulle sintuie oorstimuleer word ná geboorte en daarom was dit belangrik om Tayla se omgewing so stresvry as moontlik te hou.

Strydom het ook gesê aangesien Elrize nie in staat was om genoeg kolostrum te produseer om klein Tayla te voed nie, is skenkerkolostrum en -borsmelk gebruik om Tayla die nodige voeding te gee wat sy nodig gehad het om te oorleef.

Tayla is aanvanklik deur ʼn buis gevoer voordat ʼn spuit en later ʼn bottel gebruik is om bykomende voeding vir haar te gee. Ná 60 dae was sy sterk genoeg sodat die buis verwyder kon word.

Tayla en haar ouers, Elrize Kruger en Jason Christie, by hul dogter in die hospitaal. Foto: Verskaf

Hoewel dit normaal is vir babas om gewig te verloor kort na geboorte, is vroeggebore babas veral geneig tot infeksie en verskeie ander komplikasies, het Strydom gesê. “Babas wat baie ondergewig is, sukkel ook op hul liggaamstemperatuur te handhaaf. Deur Tayla aanvanklik omtrent net kolostrum en later borsmelk te voer, kon ons haar help om so vinnig as moontlik weer gewig op te tel.”

Dit was ʼn bittersoet oomblik vir die verpleegpersoneel toe Tayla uiteindelik ná 75 dae in die waakeenheid – en met ʼn liggaamsgewig van 2,1kg – kon huis toe gaan. “Ek kan nie vir die hospitaalpersoneel genoeg dankie sê vir die ondersteuning en sorg wat hulle aan ons familie gegee het nie. Die werk wat hierdie verpleegsters doen, kan net as fenomenaal beskryf word,” het Elrize gesê.

“Dit was moeilik om totsiens te sê vir die wonderlike ondersteuningstelsel by die hospitaal, maar ek sal aan die verpleegspan dink elke keer as ek die klassieke musiek hoor wat ek in die neonatale waakeenheid vir Tayla gespeel het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Landie ·

Wat ‘n goedvoel storie is hierdie nie?? Soveel mense wat saamgewerk het om hierdie klein mensie ‘n kans op lewe te gee. En ‘n mamma en pappa wat saam hard baklei het. Ek kan dink dat die personeel ‘n traandruppeltjie in hulle harte gaan hê nadat sy ontslaan is. Later voel dit asof sy almal se baba is. Wel gedaan Netcare Alberlito-hospitaal, julle kan voorwaar trots wees op julleself en julle personeel. :)

tokkie ·

Ag moeder – baie sterkte – hoop sy gaan van krag tot krag

Uvonka ·

Sterkte vir die piepklein prag Pop en haar ouers. Sy is ‘n klein vegtertjie en sal net van krag tot krag gaan elke dag want sy is Liewe Jesus se klein wonderwerk!

Karma ·

Ek was bevoorreg om járe gelede in die prenatale eenheid te werk van die hospitaal waar ek opleiding ontvang het, te werk. Eendag kom ‘n piep-piep-klein babatjie in, op net 645g (27 weke) was sy tegnies-gesproke ‘n miskraam en het die dokters haar weinig kans gegee om te oorleef.

Moeder was baie hartseer – dit was hul eerste swangerskap wat meer as 16 weke gehou het (en sy het al 4 keer swanger geraak). Maar Kleinding het verbete voortgeveg: eers post-natale geelsug oorwin, geweldige gewigsverlies in die eerste week getoon en slegte reaksie op pre-Nan gehad.

Moeder wou vreeslik graag borsvoed en daar is toe vir haar medikasie gegee om haar melkproduksie te volhou (sy het elke drie ure uitgemelk, al kon Kleinding nie die melk kry nie). Onthou, dit was vóór die dae van “kangaroo-mothering” en moeders wat kolostrum/ borsmelk kon skenk. Daardie dae was dit formulemelk en glukose-water en/of binne-aarse voeding vir prem’s.

Presies 66 dae na haar geboorte is Kleinding vir die eerste keer uit die broeikas gehaal en kon Moeder haar baba vashou. En wonder bo wonder: geen asemhalings- of ontwikkelingsdefekte nie! Twee jaar later loop ek Mamma en (nou) woelwater raak in ‘n inkopiesentrum …. en sy is die pragtigste, bekkigste, woeligste dingetjie! En tien teen een is Moeder vandag al ‘n Ouma ………..

Genade ·

My seuntjie is in 2012 op 25weke gebore oor dieselfde probleem sy lyfie en koppie het ophou groei en moes n nood keiser ondeegaan op 25weke. Hy het maar n volle 620g geweeg en in die eerste week gewig verloor tot op 560g. Hy was in Unitas hospitaal in NNICU vir 101dae ook toe gemaak met gladwrap oor sy bedjie. Vandag is hy n gesonde 5jarige woelwater.

LS ·

Ai, wat ‘n mooi storie en stories van die lesers !
So bly alles het goed gegaan met almal !!!
Geniet die klein woel water mamma en papa, daar is niks lekkerder as om ouer te wees nie!

Lizl Jacobs ·

Dis hoe ek voel oor die nicu personeel van femina netcare in pta. My seun op 25 wekies gebore en 970g geweeg. Hy word vrydag 8 en is volmaak. Huistoe na 100 dae in icu gewig 2.01kg. Hy is n wonder werk. Doen goed op skool selfs al geel belt in karate. My vrugwater het op 19 weke gebreek en ek was in die hospitaal tot hy op 25 weke opgehou groei het. Hy is gediagnoseer met groot woorde maar kortliks onaktiewe bynier funksie. Hy het baie goeie behandeling gekry by sy pediater en verpleeg personeel. Vandag is hy helemal normaal soos al die ander seuntjies van sy ouderdom. Al nie nicu is voorwaar engele.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.