Babanuus vir Christel van den Bergh en David Louw

Christel van den Bergh en David Louw. (Foto: Instagram/Christel van den Bergh)

“Ons het kort na Daniël se geboorte besluit om nog ʼn kind te hê; hoe gouer hoe beter. Toe gebeur dit baie vinnig!”

Só gesels die sepiester Christel van den Bergh oor haar en David Louw se tweede babaseuntjie wat op pad is.

“Ons is aangenaam verras, ek het kort voor Kersfees uitgevind dat ek weer swanger is, en ek was toe al drie maande in die swangerskap in,” het Van den Bergh aan Maroela Media vertel.

Van den Bergh, wat al 25 weke swanger is, is verlig dat hierdie swangerskap tot dusver net so maklik soos haar vorige een is.

“ʼn Swangerskap is mos nie ʼn las nie, dis vir my lekker om swanger te wees. Ek is gelukkig dat ek nie siek of moeg voel nie. Die bababoepie het ook onlangs eers bietjie begin wys, maar ek dra eintlik klein.”

Van den Bergh het gegons oor hoe rustige baba Daniël, die paartjie se eerste seuntjie, tot dusver was.

“Dit gaan so lekker wees om vir hom ʼn beste maatjie te kan gee. Ek is besig om ʼn teorie te toets. Ek probeer alles wat ek in my eerste swangerskap gedoen en geëet het, herhaal. Ek dink dit het definitief ʼn uitwerking op jou kind aan die einde van die dag.”

Moederskap het vir Van der Bergh natuurlik gekom.

“Ek dink dis omdat ek al bietjie ouer is. Ek word 40 die jaar. Alles is so kosbaar, en dit gaan so vinnig verby. Daniël is al amper ʼn jaar oud! Ek wil rustig wees, nie onnodig stres nie en ʼn goeie leefstyl handhaaf. Hierdie ‘eet vir twee’-besigheid is vir my eintlik net ʼn klomp bog wat dit net moeiliker maak om weer die gewig ná die swangerskap af te skud.”

Aangesien die swangerskap kort nadat Van den Bergh ophou borsvoed het sy opwagting gemaak het, is die uitdaging om sekere kos- en dranksoorte uit haar dieet te sny veel kleiner.

“Ek is baie lief vir sushi, wat dit bietjie moeilik maak, maar oor die algemeen is dit vir my maklik om sekere goed uit die dieet te sny.”

Sy vertel trots dat Louw se beskermingsdrang nou net nóg sterker is.

“Hy sal soms vir my sê om sekere swaar goed nie op te tel nie en om versigtig te wees.”

Sy sien uit om hul gehegte gesin uit te brei.

“Dis nou ons klein gesinnetjie. Ons sal soms net in die huis staan en ʼn groepdrukkie vir mekaar gee. Dit is so ongelooflik kosbaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kiewiet ·

Baie baie geluk julle dis wonderlik.. Jy is n pragtige vrou, geniet die swangerskap dis so kosbaar..baie geluk aan pappa ook..julle is so n mooi paartjie.

Chantel ·

Dis sulke goeie en lekker lees nuus, Ek hoop vir julle dat die tweede baba net so rustig is, alhoewel dit selde die geval is. Rus maar genoeg.

Hannelie ·

Baie geluk julle twee. Die twee boeties gaan sommer lekker maatjies wees. Geniet die laaste paar maande van swangerskap.

007 ·

Gooi maar klippe as julle wil! Maar dis geen goeie maniere om kinders in die lewe te bring as julle nie getroud is nie. Dit is ‘n sonde en ‘n skande.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.