Badplaas se balleramme

slipper-1919302_640

Die ding het meer as 30 jaar gelede gebeur toe ons nog lekker jonk was en vir baie kans gesien het. Dis iets om te onthou, maar ter wille van iemand wat dit dalk al vergeet het, wil ek maar ou koeie uit die sloot grawe. Of dalk gevierde balleramme in hulle herinneringe op die verhoog laat dans … Ek maak maar op my onthou staat en as ek dalk ietsie bylieg, bly dit steeds die reine waarheid.

Ek was die pas aangestelde hoof van Laerskool Badplaas – ʼn man wat nog sy make moes maak. ʼn Geleentheid om dit te doen, het onverwags opgeduik toe ʼn vriendelike, ondernemende balletjuffrou, liewe tannie Boots, soos ons haar leer ken het, kom vra het of sy nie dalk balletlesse by die skool kon aanbied nie. Haar entoesiastiese geesdrif was aansteeklik en ek kon nie anders as om vir haar die groenlig te gee nie.

Vrydagmiddae het die liewe mammies hulle pragtige dogters, van speenoud tot so 12, 13 jaar oud skool toe gebring en tannie Boots (soos in stewels, maar daai fynetjies met effense hakkies, skerp puntjies en ritssluiters teen die enkel op) het hulle in al die fynere kunsies van ballet ingelei. Opgewonde, trotse mammies het dopgehou hoe hulle spruite die balletkunsies stadig maar seker bemeester het. En tannie Boots het geweet hoe.

Dit het van meet af goed gegaan, maar dit was eers hier teen die middel van die tweede jaar dat die poppe regtig begin dans het. Tannie Boots het gebel en gesê sy wou voor die Vrydag se oefening ʼn saak met my bespreek. ʼn Nare beklemming het op my toegesak, want ek was bang sy kom sê vir my dat sy nie meer kans sien vir die balletstorie nie. Allermins, het dit duidelik geblyk te wees.

Sy het opgewonde vertel hoe tevrede en bly sy was oor die vordering van ons pragtige meisietjies – darem meisies ook, want van hulle was al in (die destydse) standerd vier en vyf! Al die goed het mooi en sag op die oor geval en ʼn stuk trots het op my neergesak. Ek was innig dankbaar dat die prestasie onse skooltjie te beurt geval het. Sy het opgewonde vertel van haar voorneme om ʼn behoorlike balletkonsert op die planke te bring. Ek wou weet of ons saaltjie se verhoog groot genoeg sou wees. Sy het half onthuts reageer en my ingelig dat die Oord se groot saal net reg sal wees vir die moeder van alle balletkonserte in Badplaas se geskiedenis. “Wat sê jy, meneer?” wou sy met ʼn vonkel in die oog weet. “Laat waai, Meraai!” het ek gesê en my voorgevoelentheid het my laat gewaarsku dat daar ʼn bielie van ʼn ding aan’t kom was.

Ek kon sien dat sy nog nie klaar gepraat het nie en toe ek haar kans gee, vertel sy dat sy iets in gedagte had wat die hoogtepunt van die konsert sou wees. “Hm, seker Margot Fonteyn?” het ek so effens uit die hoogte gevra. Eintlik net om te wys dat ek ook balletname in die hogere kringe ken. Sy het laggend, ontkennend geantwoord. Toe het sy met ʼn duidelik sigbare ondeundheid haar plan ter tafel gelê en ek kon met ‘n veertjie omgetik word.

“Jy wil hê ek moet tien fiefierige manne op Badplaas uitsnuffel en ek weet nie eens van een enkele nie!”

Sy het ʼn stuk uitgewerk met tien MANNE as die balletdansters (ons woord vir mansdanser). Ek het nog in die lug gehap toe sy met amperse sadisme gesê het, nee, opdrag gegee het, dat ek die manne bymekaarmaak moes maak. “Jy wil hê ek moet tien fiefierige manne op Badplaas uitsnuffel en ek weet nie eens van een enkele nie!” het ek onthuts geprotesteer. Met haar oë op skrefies getrek, was sy duidelik uitdagend: “Nee, meneer!” het sy voortgegaan. “Jy is een en nou moet jy net nog nege sterk, bruingebrande manne bymekaarmaak. Helemaal ontredderd het ek haar gevra of sy ernstig was. “Ja, natuurlik!” het sy vasbeslote gesê. “Die kortste, die langste, die lywigste, die harigste, die koddigste, die skaamste, die stilste, die seningrigste, die lompste en wat nog en jy kan besluit watter een van die klomp jy is! Wat sê jy, hopelik die dapperste een, meneer?”

Totaal uit die veld geslaan, het ek geduldig, gedienstig en gedwee ingewillig om die uitdaging te aanvaar. Ek wou my nog uit die ding praat, maar tannie Boots het haastig koers gekry na die saal toe waar huppelende, dansende meisies haar vrolik ingewag het. Daar agter die lessenaar het ek my kop weer in rat gekry en dit was asof ek opgewonde begin raak het oor die vooruitsig. Ek het nogal binnepret beleef toe ek begin dink het aan moontlike kandidate en het met groot lekkerte ʼn lysie van manne wat aan die vereistes sou voldoen, begin neerskryf.

Onse rondelyf-dominee was eerste op my lys. Toe’t ek ʼn klompie boere begin lys. Adri van Niekerk was die kleinste. Ingelsman Pat Homer met die rooi hare was ook die harigste. Willie, my kollega, het die mooiste bles gehad. Jan Basson was jonk, lank, frisgebou en hubaar. Mike van Breda was die ou met ʼn pens en ʼn bles. Piet van Heerden was die stoutste. Volgende op my lys was die Badplaas Oordmanne. Coen Aveling was die swaarste. Hennie Scott was die kortgebakerde, niks-nonsens-ou. Klippies Stone was die skaam, ordentlike ou. Ek, die keurder, het die mooiste snor gehad.

Adri van Niekerk was die kleinste. Ingelsman Pat Homer met die rooi hare was ook die harigste. Willie, my kollega, het die mooiste bles gehad. Jan Basson was jonk, lank, frisgebou en hubaar

Ek het die dominee eerste genader, maar hy het half driftig walgegooi en hom vinnig uit die ding gepraat. Hy’t seker maar ʼn voorgevoel gehad en kon hom seker nie indink hoe hy Sondag van die preekstoel af, met amper al die dansters op die kerkraadsbanke, die gemeente in die oë sou kon kyk nie. Wat die ander manne betref, het ek hulle lag-lag in die ding ingepraat en heel gou was dit duidelik dat die manne gees gevang het. Met fyn aanvoeling het hulle ʼn ding sien kom en hulle wou deel van die ding wees.

Die oefenry was nogal ʼn prettige spulletjie, maar ons was begeesterd om te wys wat in ons steek. Tannie Boots het die musiek mooi uitgewerk. Iewers tussen die Swanemeer, die Neutkraker Suite, oom Jim Muller se keurspel en oom Mynie Reyes se kwadriele het sy die regte musiek opgetoor. Sy’t musiek wat by elke lyf pas en ander musiek wat by al die lywe pas, uitgesnuffel. Toe’t sy al die danspassies bymekaargemaak wat by ons en die musiek pas. Dit was nou regtig iets moois en die dansters se entoesiasme het dit nog mooier gemaak.

Die vroue het intussen die toetoes, balletskoene en die Alice bands met die strikke gemaak. Al die balleramme het vrede gemaak met die pienk en wit en al die blinkers en sterretjies. Wat saak gemaak het, was ons vaste voorneme om naam te maak vir skool, volk en vaderland. Ja, ook vir die mammas en die kindertjies. En tannie Boots.

Die groot aand het aangebreek en dit was ʼn onvergeetlike petalje. Vroeg-vroeg het dit begin met die grimering. Kyk, hulle het ons mooi opgedollie. Ons het met getuite lippe geduldig gewag tot die goed behoorlik rooi gesmeer was. Die snorre was as’t ware met dik rooi onderstreep! Toe’t hulle met sagte pastelkleure op die wange en om die oë gewerskaf tot ons almal mooi ingekleur was. Wat ons vir mekaar te sê gehad het, is liefs nie hier ter sprake nie! Hardebaard-manne praat anders as blinkoog-meisietjies …

Die aantrekkery was so iets tussen ʼn fiasko en ʼn fantasie. Sonder ʼn enkele vrou se hulp het ons in ons toetoes en skoentjies ingeseil en ingeklim. Die manne wie se borskaste al hangkaste geword het, moes inworstel, maar as ʼn man wou, kon hy. Toe ons eers behoorlik geklee was, het die vroue die fynere afrondingswerk kom doen en seker gemaak dat niks skeef is nie. Ek weet nou nog nie of hulle gehuil of gelag het nie, maar die trane het geloop. Seker omdat hulle so trots op hulle manne was. Ek dink ons was vir hulle besonder mooi. Behalwe vir ou Coen, wat heeldag ampshalwe ʼn kantoormens was, se wit lyf wat mooi by die pienk en wit gepas het, het die res van ons anders gelyk: Bleek bolywe met bruin arms van die mou af tot by die vingerpunte. Bleek voete tot by die enkels, bruin bene tot bokant die knieë en wasbleek boontoe. Noudat ek weer daaraan dink, weet ek die vroue se trane was lagtrane.

Dit was langnaweek en al wat vakansiehouer en Badplaser is, het die Oordsaal volgepak, jy kan maar sê daar was ʼn geesdriftige afwagtende skare. Daar was kort-kort luide applous wat ons daarvan verseker het dat dit ook ʼn waarderende skare was.

Daar sit ons toe nou en wag vir die groot oomblik as ons oproepdansmusiek sou begin. Man, maar toe gebeur daar ʼn onverwagse ding. Een van die balleramme het in sy versiendheid, perfekte aanvoeling en tydsberekening ʼn ekstra koffer saamgebring. In dominee Ronnie, seker maar as gevolg van sy fyn aanvoeling, se afwesigheid, word die koffer toe oopgemaak. Al winkende het daar ʼn hele paar kruike met ou Bruine se sjerrie vir ons verleidend gelê en uitlok.

Met die skrapse ou kleertjies aan ons lywe, was ons dit eens dat ons voorsorg moes tref dat ons darem net so ʼn warmtetjie in ons lywe moes kry. Die eerste ronde was vir die warmte, die tweede vir soepelheid, die derde vir selfvertroue, die vierde vir gemoedelikheid en nog so ʼn paar vir die wis en die onwis. Dit was nie lank voordat daar ʼn daadkragtigheid, ʼn soort dringendheid om te presteer, by ons posgevat het nie.

Ons was so besig met ons spanpraatjie dat ons nie eens die oproepmusiek gehoor het nie. Toe iemand benoud vir ons kom roep het, moes ons blitsvinnig tot verhaal kom. Coen, die grootste heel voor, gevolg deur Adri die kleinste en dan die res. Man, en toe gebeur daar ʼn ding. Adri, die preutste van ons almal, trek toe so ʼn rooi wille-gewillige-vrouepruik oor sy kop … sommer so met die indans.

Adri, die preutste van ons almal, trek toe so ʼn rooi wille-gewillige-vrouepruik oor sy kop … sommer so met die indans

Toe groot Coen fyntjies en ligvoets, al dansend sy verskyning maak, het dit geklink soos toe oorle lewende Thys Lourens op Loftus sy span op die veld gelei het. Toe Adri agter hom die veld indans, was die applous nog luider! Haai foeitog, en toe reusagtige ou Coen ligvoets, op sy tone, sy draai moes maak, sien hy vir Adri. Met dié kry hy toe nie sy draai nie en daar slaat hy neer soos ʼn dooie os! Arme Adri, wat nie sy brieke kon kry nie, tuimelrol toe met flitsende rooi puik bo-oor hom. Man, maar toe klink dit soos die dag toe Frik du Preez gedrop, gescore en geplace het. Hoe tannie Boots dit reggekry het, weet ek tot vandag toe nie, maar sy het die spul weer aan die gang gekry en een vir een het die balleramme onder luide applous en uitroepe die verhoog ingedans – elkeen op sy eie goedgeoefende en goedgeoliede manier. Die selfvertroue was daar. Die wil was daar om bo ons vermoë te presteer – net vir tannie Boots wat soveel vertroue in ons gehad het!

Ag, dit was mooi! Daar was nuutverworwe soepelheid en grasie. Al trippelend, fyntjies en op die tone is elke beweging sorgvuldig vervolmaak. Met vonkelende oë en engelglimlaggies is die koppe vorentoe laat sak, dan weer agteroor gegooi en met wysvingers op die duime het die hande soepel om die polse gedraai. Soos wat ons bymekaar verbygedans het, het ons goedkeurend vir mekaar geknipoog. En bo-oor ons het daar so ʼn afkoelende OBS-wolkie gehang wat ons teen algehele uitbranding beskerm het.

Ons was so halfpad met die groepdans, toe ʼn dame, meegevoer met wat sy beleef het, verhoog se kant toe beweeg het. Sy het haar oormekaargevoude arms op die verhoog laat rus en ons toe met besonderse oorgawe toegejuig. Dit was so ʼn jillende, amper gillende gelag met uitroepe soos “so iets het ek in my lewe nog nie gesien nie”, “ek kan dit nie glo nie”, “oeeee, dis so mooi” en nog baie meer. Dit het naderhand gevoel of ons net vir haar dans – o ja, en vir ons vroue en ons kinders en ons vrinne! Ons vir jou, Suid-Afrika …

Ná die laaste dansie is ons weer kleedkamer toe van waar ons huppelend en trippelend teruggekom het vir die laaste buiging. Ons het ons plekke langs mekaar ingeneem. Hande gevou voor die mae, koppe wat diekant en daaikant toe knik en die fraaiste glimlaggies vir al wat bewonderaar was. Van die skare se kant af was daar luide en waarderende applous.

Hier vlak by ons was onse besonderse bewonderares met bewondering wat uit haar laggende oë uitgestraal het en toe die applous begin afneem, het sy haar versoek gerig: “Ag, julle moet deur die hele land toer! Ek sal alles vir julle reël! Julle moet net gaan toer!” Die gordyn is toegetrek en alles was verby. Ons het nooit gaan toer nie en wat van ons organiserende toerleidster geword het, weet ek tot vandag toe nie.

En nou, 35 jaar later, wens ek ons kon dit weer doen

En nou, 35 jaar later, wens ek ons kon dit weer doen. Ongelukkig is omtrent die helfte van die balleramme nie meer met ons nie en ek weet nie of tannie Boots nog leef en sou kans sien nie, maar as ons nog almal geleef het en sou KON, dan MOES ons dit weer doen! Dalk sonder die ondersteuning van ou Bruine se sjerrie, maar met kieries, pakke hoëbloeddruk-, rumatiek- en anti-inflammatoriese pille, ʼn groot fles Voltaren en ʼn bottel mampoer vir die wis en die onwis. En ou Adri met ʼn grys pruik!

Dalk sou ons liewe bewonderares haar wens om met ons te gaan toer kon bewaarheid. Ek wonder of sy onthou. Sy moet nog onthou, want sy het dan beloof sy sal ons nooit vergeet nie. Net soos oorle Bles hartroerend gesing het: “Ek sal jul nooit, nooit, NOOIT, NOOIT vergeet nie! Ek sal jul altyd, ALTYD onthou!”

Ons vreugde in die verre verlede is ‘n vashouplek, koele rusplek, lagplek vir

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Snuffels ·

Baie dankie Johan, het nou heerlik gelag hier by my lessenaar. Waar woorde wat jy skryf “as ek dit net weer kon doen”

Hennie Scott ·

Ek het iets geskryf maar dit blyk asof dit nie deur is nie. Hier is dit nou weer en as dit dalk nou twee keer verskyn … vergewe asb!

Ek het hierdie vertelling van die Balleramme van Badplaas baie geniet. Self groot geword op Carolina (die buurdorp) het ons die warm water van Badplaas (vir die Hoëveld) baie geniet. Hierdie vertelling was nou werklik só ietsie uit die ou goeie dae van die ou Oos-Transvaal en toe ons nog in die Transvaal gebly het.

Ek self het ongelukkig tannie Boots se Balleramme in die Oord die langnaweek gemis, maar daar is darem nog so hier en daar ‘n naam wat bekend klink van die Balleramme uit die omgewing soos Adri van Niekerk vir my.

Ek self is Hennie Scott en ek sien van die Oord se manne was daar ook ‘n Hennie Scott wat betrek was. Werklik ‘n naamgenoot maar ek glo nie ons het al ontmoet nie.

Shalom aan almal van Badplaas en ook destyds van Carolina waar ek so 52 jaar gelede in matriek was.

Leana ·

Wat ‘n heerlikheid!!! Ons almal verlang soms terug na dit wat wás en groot vreugde verskaf het. Hoe ouer ‘n mens word, hoe meer beweeg jy terug na jou wortels en die mense wat jou pad gekruis het en besondere oomblikke met jou gedeel het.

Verstom ·

Ag dis wonderlik, ek so lekker gelag! Laat my ook verlang na heerlike vakansies toe die lewe nog so lekker soos smarties was! Dankie vir die oulike artikel.

Rina Rossouw van Pta ·

Johan…ek het lanklaas my self so ingelewe en in my gees saam gedans …self sonder om enige ou knertsie te moes drink. Wonderlik heerlike onskuldige pret….watter uitstekende idee van fondsinsameling vir jou gemeenskap met allerhande broodnodige instansies. Wat se jy Johan? Ons geleerde vrinne– praat mos deesdae van ouderdom -is net ‘n nommer. EK DAAG JOU UIT JOHAN…..en sommer vir Hennie. (wat nou nie di Hennie was nie) Wat is die verskil tussen 37 en 73 net meer wysheid en pret. Kom ons stof dit af en kyk wie kan eerste ‘n konsertjie uitdink….ten bate van fondsinsameling.. Met al ons lekker tegnologie met …sommer selfone wat mens oral die beste oomblikke kan rondstuur deesdae – kan dit net VET AMAROELA MED PRET wees… Wat se julle? Dankie Maroela Media vir julle wonderlike werk met die ” koerantjie”

Hes ·

Watter lekkerte was dit nou nie om hierdie vertelling te lees nie. In my kop het ek die hele video beleef, en omtrent geniet. Die platteland het altyd groot waardering vir die plaaslike inwoners se talente en die bereidwilligheid om hulle waardigheid vir ‘n “saak” op die tafel,,, verhoog… te sit.

Trix ·

Ek het lanklaas so laas so onbeheersd gelag! Johan, jou skryfstyl voel asof ek self daar was! Inderdaad benut die platteland elke potensiaal van iedere mens, en op sy beurt. voeg dit waarde toe in die gemeenskap. Die platteland is kosbaar en onvervangbaar!
Doe so voort Johan, ons wag vir jou volgende belewenis.

Yolande Gibbon ·

Ai Johan. Ek was een van die dogtertjies wat saam gedans het daardie dag. Onthou jul optrede asof dit gister was! Verlang sommer nou baie terug na die plek en mense!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.