Bakkies, Appel en Adam vier vyf jaar van #HelpJag

Appel, Bakkies Botha en Adam Tas (Foto: Helpende Hand)

Bakkies Botha, Appel en Adam Tas het vanjaar vir die vyfde agtereenvolgende jaar die jaarlikse #HelpJag-jagtog aangepak om te help sorg dat duisende Afrikaanse kleuters se magies daagliks vol bly.

#HelpJag is ʼn inisiatief wat poog om Solidariteit Helpende Hand se voedingsprojekte aan te vul en te sorg dat proteïene, in die vorm van wildsvleis, deel uitmaak van ʼn voedsame bord kos wat daagliks aan 8 000 hulpbehoewende kleuters voorsien word. Jagters word aangemoedig om bokke of wildsvleis vir Helpende Hand te skenk. Helpende Hand betaal dan vir die verwerking daarvan voordat dit na die hulpbehoewende skole in Afrikaanse gemeenskappe versprei word. HelpJag het oor die afgelope vyf jaar reeds meer as 120 ton wildsvleis ingesamel, verwerk en versprei.

Dié drie ambassadeurs van #HelpJag het onlangs saam met ʼn groep afgevaardigdes van Helpende Hand en Wild & Jag/Game & Hunt in die hartjie van die Limpopo-bosveld gaan kuier om wildvleis vir die projek aan te vul.

Gepantser teen die koue in parkas, wat deur Boerboel Wear geborg is, is hulle ruim by die Thithombo-wildsplaas ontvang wat vanjaar se jagtog en bokke geborg het.

Thithombo, wat bome en water beteken, is sowat 150 km buite Pretoria geleë, waarvan 120 km op die N1-deurpad op pad Polokwane toe is. Die wildsplaas is 10 km vanaf die Nylsvley-natuurreservaat naby Mookgophong (Naboomspruit) geleë.

Thithombo en die naburige Monate Game Lodge beslaan altesaam 3 000 hektaar ongerepte Afrika-bosveld, waar alle wild vry rondloop. Hierdie wildsplaas huisves alle algemene wild in groot getalle, asook buffels, swartwitpense, tsessebes en bastergemsbokke.

Die jagliefhebbers kon by die Thithombo Boskamp in een van agt tente met goeie geriewe oornag wat gesorg het dat hulle warm kon slaap, warm kon stort en behoorlik van die stad se geraas kon afsluit. Van 16 tot 22 mense kan gemaklik in die kamp, bo-op ʼn natuurlike koppie, slaap.

In die aand het die eienaars vir peuselhappies, braaivleis en bykosse gesorg, terwyl daar heerlik om die plaas se kenmerkende boma gekuier is. Dit is die einste boma waar die sanger Rikus Nel besluit het om die video van sy liedjie getiteld “Hardekole”, op te neem.

Ontbyt is by die 4-ster Monate Game Lodge, wat sedert 2014 deur Thithombo se eienaars besit word, geniet. Monate spesialiseer in troues en konferensie en kan tot 84 mense akkommodeer. Met troues kan gaste by die Thithombo Boskamp en die Witkoppie Plaashuis op die wildsplaas oorbly wat in totaal 120 beddens bied.

Aan die einde van die twee dae lange jagtog het die groep na Pretoria teruggekeer met 648 kg se wildsvleis wat uit drie blouwildebeeste, een waterbok, twee blesbokke en drie rooibokke bestaan.

Bakkies, Appel en Adam is dit eens dat vanjaar se jagtog een vir die boeke was. Hulle noem dat dit heerlik was om weer saam te kon kom om vir ʼn goeie doel te jag, en dit op ʼn wildsplaas wat glo en volhard in volhoubare en etiese jag.

“Ons poog gedurig om die publiek bewus te maak van die groot hongersnood onder ons land se kleuters, en hoe ʼn jagter met ʼn barmhartige hart ʼn bydrae tot liefdadigheid kan lewer. Elke koedoe kan daagliks ongeveer 40 kleuters vir ʼn maand lank voed. Een gemsbok gee daagliks aan 26 kleuters ʼn bord kos vir ʼn hele maand lank. Selfs ʼn springbok kan daagliks ses kleuters per maand van ʼn gesonde maaltyd voorsien,” sê Margole Riekert Helpende Hand se projekorganiseerder van #HelpJag.

Wen groot saam met #HelpJag

Jy en ʼn vriend, of vriendin, kan van 30 Augustus tot 2 September ʼn jagtog na Sans Souci Safaris saam met Jay du Plessis, Ricus Nel en Bakkies Botha wen. Die prys sluit die volgende in: verblyf, etes en twee bokke wat gejag kan word.

Inskrywings vir dié lootjies beloop elk R250. Vir meer inligting besoek www.helpjag.co.za.

Die trekking vind Vrydag, 12 Augustus plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.