Bakkies en vriende gaan aanhou braai vir ’n goeie doel

Bakkies Botha by sy braaivleisvuurtjie. (Foto: Verskaf deur Helpende Hand.)

Die oud-Springbok Bakkies Botha saam met sy vriende, die sangers Adam Tas en Appel, asook Buffelsfontein se Meyer le Roux, onderneem om langer vir ’n goeie doel te braai nadat die staat van inperking verleng is.

Botha, sy onderneming Bakkies the Butcher, en sy vriende het aanvanklik op 10 April hul braaitange opgetel om in samewerking met #HelpJag en ander rolspelers in afsondering te braai om kos vir behoeftige gesinne in te samel. So het hulle ook sommer solidariteit getoon met almal in die Covid-19-pandemie wat op die voorgrond werk. Die projek word onder die vaandel van #BraaiVirAnder gedryf.

Die projek sou vir ’n week duur, maar nadat pres. Cyril Ramaphosa aangekondig het dat die afsondering met twee weke verleng gaan word, het die rolspelers besluit om aan te hou braai vir hierdie doel.

“#BraaiVirAnder is ’n landwye deernis-braai. Saam met hierdie bekendes en kultuurinstansies soos die FAK en Rapportryerbeweging, wil ons die publiek aanmoedig om saam te braai as hulle kan. Almal wat tot die einde van die afsondering ’n braaivleisvuurtjie aansteek, kan die gebaar ondersteun en só ook aan almal dink wat nog op die voorgrond werk, asook aan gesinne wat glad nie kos het nie,” sê Margolé Riekert, Helpende Hand se projekorganiseerder van #HelpJag.

Riekert verduidelik Helpende Hand het reeds tydens die begin van die staat van inperking sy #WitStrik-inisiatief van stapel gestuur om mense sover te kry om vir hulle ’n wit strikkie uit enige materiaal tuis te maak, dit op sosiale media te plaas en dit dan elke dag te dra, én so solidariteit met dokters en mediese personeel te wys.

“Met #BraaiVirAnder wil ons deur #HelpJag die #WitStrik-poging na ’n volgende vlak neem en terselfdertyd bewusmaking skep en dankbaarheid betoon vir die opofferings wat elke gemeenskap se gesondheidswerkers op die voorste linie, verskaffers van noodsaaklike dienste, weermaglede, die polisie en metropolisielede, én ons boere tydens die afsondering maak, asook vir die uitwerking daarvan op die minderbevoorregtes in ons gemeenskappe,” sê sy.

Riekert voeg by al kan mense nie tydens die afsondering uitgaan nie, kan hulle steeds help deur ’n finansiële bydrae te maak wat #HelpJag in staat stel om vleis aan te koop, te versprei en só behoeftiges te voed. Besoek www.helpjag.co.za om ’n bydrae te maak.

Riekert moedig die publiek aan om ’n foto te neem as hulle aan die projek deelneem. Die foto’s kan op sosiale media gedeel word saam met die woord “#BraaiVirAnder”. Deelnemers staan die kans om ’n Bakkies the Butcher-geskenkpak te wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Schalk N ·

Aitsa so is dit veronderstel om te wees. Dankie aan Bakkies en al die ander wat die Projek ondersteun…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.