Banksy-skildery samel miljoene in vir gesondheidsorg

Banksy se skildery getiteld ‘Game Changer’. (Foto: Banksy)

ʼn Skildery deur die anonieme graffiti-kunstenaar Banksy het sowat £14,4 miljoen (sowat R293 miljoen) op ʼn veiling vir liefdadigheidsorganisasies wat gesondheidsorg ondersteun, in Brittanje ingeoes.

Die skildery getiteld Game Changer beeld ʼn jong seun uit wat met ʼn superheld-verpleegsterpop speel. Dit het saam met die koperspremie uiteindelik £16,8 miljoen (sowat R344 miljoen) behaal.

Afslaershuis Christie’s sê dit is ʼn “wêreldrekord” vir ʼn Banksy-skildery op ʼn veiling. Christie’s het onderneem om ʼn “beduidende gedeelte” van die geld aan liefdadigheidsorganisasies te skenk wat saam met die nasionale gesondheidsdiens werk, waaronder die Southampton Hospital-liefdadigheidsorganisasie.

Afslaer Jussi Pylkkanen het gesê Banksy se belofte om die opbrengs van die veiling vir liefdadigheid te skenk, is ʼn “ongelooflike gebaar” en het dit as ʼn “geskiedkundige oomblik” beskryf.

Banksy het voorheen gesê die £9,9 miljoen (sowat R202 miljoen) wat hy ontvang het vir sy stuk Devolved Parliament, wat uitbeeld hoe die Britse parlement deur sjimpansees oorgeneem word, die hoogste was wat hy ooit vir een van sy skilderye betaal is.

Game Changer het tydens die eerste vlaag van die Covid-19-pandemie in die voorportaal van die Southampton General Hospital gehang.

Die kunswerk is in Mei verlede jaar by die hospitaal afgelewer met ʼn nota wat gesê het: “Dankie vir alles wat julle doen. Ek hoop hierdie helder die plek ʼn bietjie op, selfs al is dit net in wit en swart.”

Dit het naby ongevalle gehang en volgens personeel het dit gehelp om die moraal te lig.

ʼn Afdruk van die skildery sal steeds in die hospitaal hang.

Bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.