Barabbas – die ander Jesus

Wadi Qelt tussen Jerigo en Jerusalem. (Foto: Nour Tayeh/Unsplash)

Deur Pierre Massyn

Jesus Barabbas was bang. Nie soseer vir die dood nie. Hy het immers die dood geken, daar waar hy in sy grot in die voetheuwels van die Yehuda-gebergte[1] buite Jerusalem by die Wadi Qelt geskuil het.

Van daar kon hy toeslaan op almal wat hy en sy bende kon oorrompel: handelaars en veewagters, Samaritane, tollenaars en karavane wat tussen Jericho en die setel van die tempel pendel. Maar toe oorval hy die legionnaire en steek hom dood… vir  ’n leersak wyn, ’n paar goeie sandale en ’n soldy van ’n paar denarii[2].

Skielik was hy ’n soort held – al was hy ’n renegaat– juis omdat hy nie vir Rome se tirannie teruggedeins het nie. Mense het hom in die geheim begin bewonder. Daardie tweegesig van ’n tetrarg, Herodes, was nie sy koning nie. Hy was nie eens ’n volbloed Jood nie, net Pontius Pilatus se skoothondjie. Hy, Jesus Barabbas, sal eendag sy mense lei. Maar toe betrap die Romeinse patrollie hom en sy makkers in daardie selfde pas waar hy juis beplan het om hulle voor lê. En jy mors nie met Rome nie…

“Jy sal vrek, jou Joodse hond, en stadig ook!” het die Romeinse wag hom die vorige aand toegesnou waar hulle in die smerige sel wat andersins as pakkamer deur die Romeinse garnisoen in Jerusalem gebruik is, gesmyt was. Jesus Barabbas het onmiddellik gesnap wat daardie aanmerking beteken. Die kruis. En dit het hom laat sidder. Die kruis. Die wreedste dood denkbaar. Rome se manier om te waarsku: dis hoe ons met diegene werk wat dit durf waag om ons gesag uit te tart. Jy mors nie met Rome nie…

Jesus Barabbas het al by geleentheid die verskriklike lyding van gekruisigdes eerstehands ervaar – die paar keer wat hy dit wel gewaag het om Jerusalem ongemerk binne te glip vir ’n ietsie by ’n taverna, of om sy woeste baard en sy boskasie weer ’n slag te laat knip, het hy eintlik ’n groot kans gewaag, want sy ruwe voorkoms het hom gans te opsigtelik gemaak. Die gemarteldes op die kruise het hom aangegryp…hy het die manne hoor kerm, grotesk en oopgespalk. Hy kon sien en voel hoe hulle hortend snak soos hulle veg vir elke asemteug. Hoe die onbeskryflike pyn deur hul hande en voete vreet, hande en voete wat met stomp spykers vasgenael is, om die lyding te vererger, skouers wat uit hul oksels geskeur word…

Hulle drie, hy en sy twee maats, sou saam gekruisig word buite Jerusalem wat tot barstens toe vol was soos met elke Paasfees. Nakend sou hulle daar hang, op ’n besige toegangsroete, waar almal kon sien wat gebeur met rowers en rebelle wat hulle teen die mag van Rome verset. Ja, die bonkige Jesus Barabbas het geweet van die afgryslikheid van die kruisdood. Nogtans het hy sy skrikbewind in die berge voortgesit.

Sy naam het al hoe bekender geword. Hulle het hom sommer Barabbas begin noem, want daar was die ander Jesus. Die wonderwerker. Hy wat deur die hoëpriesters en die skrifgeleerdes en die Fariseërs gehaat was.

“Kom hier, jou gemors! Die prokurator wil jou sien!”

Twee soldate gryp hom, sleepdra hom na Burg Antonia, Pilatus se vestingpaleis. Toe ontvou die hele spektakel voor hom, tref hom met die geweld van ’n Romeinse kortswaard. Die goewerneur is daar, sy hooghartige gelaatstrekke strak van min slaap en die stres oor die Joodse opstand wat hom in die gesig staar. Hoekom is daar elke Paasfees moeilikheid onder die Jode? Hoe lank moet hy nog sy tyd mors in hierdie sonverbrande uithoek van die Romeinse Ryk? Hoe verlang hy nie na die koel wingerde van Italië nie, na die strelende winde van die Middellandse See nie. Nou sit hy vanoggend met hierdie spul opstandelinge in Judea, en die son het skaars opgekom.

Barabbas se blik verstar nou op die ander man, die sentrale figuur in die drama. Die man in die purper kleed. Dit moet dan die man van Nasaret wees. Barabbas skat hom so in sy vroeë dertigs. Goed gebou, regop postuur, lenig en effens langer as die gemiddelde Jood. ’n Hoë voorkop wat getuig van buitengewone intelligensie. Die neus, effens geboë, soos wat jy in die Semitiese volksgroepering kry. ’n Ferm, dog simpatieke mond. Heuningkleurige hare, skouerlengte, verbleik deur son en see[3], maar nou vol bloedspatsels. Kortgeknipte kastaiingbruin baard. Sterk hande, dié van ’n ambagsman, kon moontlik ’n skrynwerker in ’n ander lewe gewees het. Hul oë ontmoet. Die ander man se oë, vol deernis en begrip. Is dit ’n sweempie van gerusstelling, selfs vrede, wat hy, die struikrower, tussen die pyntrekke op die man se gebreekte lippe bespeur? Wil hy dalk sê: “Ek sal vir jóú sterf, Barabbas”?

Hy bloei vrylik soos hulle hom geslaan het. Die Romeinse geseling met die flagellum – die wrede kats met stukkies been, hake en yster, wat stukke vleis uit jou liggaam ruk.  Die doringkroon op sy bebloede hoof, die jouende skare. Wat wil hulle hê? Hulle wil bloed hê, die bloed van die ander Jesus, sy naamgenoot. En eenkant staan Pilatus se vrou bewend en pleitend, vir die man se lewe.

“Claudia Procula, gaan nou in! Die skare raak opstandig!” beveel Pilatus sy vrou. Hy het juis vanoggend sy lyfkneg beveel om sy cuirass[4] aan te gespe. ’n Mens weet nooit wanneer ’n verdwaalde klip deur een van die Jode na sy rigting geslinger kan word nie. En die skottel dan? Wie sou verkies om sy hande hier buite op die borswering te was terwyl hy dit in die luukse privaatheid van die paleis kon doen?

Nou staan die twee manne – albei Jesus – langs mekaar: die woestaard en die gegeselde. Vir Pontius Pilatus het die oomblik van waarheid aangebreek. Hy moet kies. Hy weet wie en wat hy moet kies. Tog kan hy nie kies nie. En Pilatus, goewerneur van Judea, vra uiteindelik die vraag, byna desperaat, maar met die hooghartige minagting waarmee hy gewoonlik sy Joodse onderdane aanspreek: “Watter een van die twee moet ek dan vir julle loslaat, soos wat die gebruik op jul Pasga bepaal?”

Barabbas weet hy verdien die dood. Hy is ’n geweldenaar, ’n gevaar vir die samelewing wat al Romeinse bloed laat vloei het. Nie die ander Jesus nie. Buitendien, het die menigte hom dan nie nou die dag nog ge-Hosannah toe hy die stad op die donkievul binnegery het nie? Nee, sekerlik sal hulle die ander Jesus kies, die een wat net goed gedoen het, mense genees het, water in wyn verander het en op die See van Galilea geloop het. Wat selfs dooies kon opwek, sondes kon vergewe. Daardie stories het sy ore bereik, selfs in sy onherbergsame skuilplek waar hy gelê en wag het vir sy volgende slagoffer. Is die gepeupel miskien verward oor die twee Jesusse?

Dan maak hulle die dodelike keuse, en Kajafas, die hoëpriester, skreeu die hardste. (Hoekom sou sy klere geskeur wees? wonder Pilatus.)

“Gee vir ons Barabbas! Laat Barabbas vry!” dreun dit oor die plein. Dis nou duidelik: Barabbas is die volksheld. Hy wat sy rug styf gemaak het teen Romeinse gesag.

Pilatus se gesig raak nog strakker. Hy is die konsul van Rome, die keiser se gevolmagtigde. Hy het die mag oor lewe en dood hier in Judea. Hy moet nou besluit tussen ’n Joodse opstand en die teregstelling van hierdie man, wat hy voor sy siel weet, aan niks skuldig is nie, behalwe dat hy die Joodse owerhede met hul verlammende stel wette, reëls en voorskrifte uitgedaag het.

Die drama bou op na sy hoogtepunt. Pilatus swig. “Laat Barabbas vry,” beveel hy die praefectus[5]. Hy praat doelbewus Grieks, die lingua franca, sodat die skynheilige Joodse leiers wat die skare aanhits, dit kan verstaan, al praat hulle Aramees onder mekaar.

Maar wat dan van die ander Jesus? En toe dreun dit opnuut in sy ore: “Kruisig hom!  Laat sy bloed op ons en ons kinders wees!”

En dit was ook so – in die jaar 70 toe Jerusalem onder Titus verwoes is en weer veel later tydens die pogroms[6] en die Joodse volksmoord in Europa.

Hulle het Jesus Christus gekruisig tussen die twee misdadigers wat saam met Jesus Barabbas moes sterf. Jesus het letterlik in Barabbas se plek gesterf. Onder die brutale Romeinse regstelsel, moes dit Barabbas wees wat gesterf het. Maar dit was nie deel van God se plan nie. Indien die Romeine die verkeerde Jesus – Barabbas, wat die dood verdien het – gekruisig het, was daar geen versoening tussen mens en God nie. Vir my, die belangrikste historiese gebeurtenis in die tragiese verloop van die mensdom.

Die geskiedenis vertel ons nie hoe Jesus Barabbas se lewe verder uitgespeel het en of hy teruggekeer het na sy wilde bestaan van bandeloosheid en geweld nie. Ek sou spekuleer dat dit uiters twyfelagtig is dat Barabbas Kajafas ooit sou bedank het ná hy – Kajafas – Barabbas bó Jesus Christus verkies het as vrygelatene daardie Goeie Vrydag. Dit sou indruis teen Barabbas se karakter. Boonop was hy en Kajafas ligjare in sosiale status van mekaar verwyder.

Net so sal dit my ook min verbaas as Jesus Barabbas nie vrede vir sy rustelose siel gevind het en ’n volgeling geword het van die Man wat daardie noodlottige oggend in sy plek gekruisig is.

  • Pierre Massyn het in 1987 as vrywilliger op Kibboets Mahanayim (sien Genesis 32:2) in Israel gewerk. Hy het in Desember daardie jaar, ná twee jaar se omswerwinge, na sy geliefde Afrika teruggekeer, met net die klere aan sy lyf. Die gebeure hierbo beskryf berus op historiese feite. Literêre vryheid is volgens subjektiewe diskresie gebruik.

Voetnote:

[1] Gebergte oos van Jerusalem wat grens aan die voetheuwels van die Hebron-reeks. Yehuda is die moderne benaming.

[2] Denarii: Romeinse geldeenheid. Die Jode het sikkels of shekels gebruik, wat vandag nog in die moderne staat van Israel geld.

[3] See: Gebaseer op die vier evangelies as bron, was Jesus dikwels by die see van Galilea. Dis egter nie onwaarskynlik dat hy wel ook by die Middellandse See was nie. Die “see” van Galilea is inderwaarheid ’n varswatermeer, gevoed deur die Jordaanrivier

[4] ’n Cuirass is ’n plaatbeskerming vir die bolyf.

[5] Praefectus: Romeinse bevelvoerder van infanterie- en/of kavallerie-eenheid, tot 600 manskappe sterk.

[6] Pogrom is georganiseerde moord, veral van Jode.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Boerkind ·

Uitstekend geskryf…. ‘n leser bevind homself midde die gebeure en in 2021 kan ek opkyk en die Koning van konings vir genade smeek names die wrede mense (niks het nog ooit verander nie), maar bowenal kan ek die Koning met my diepste lof en eer dien en dankie sê dat hy 2000 jaar terug daar reeds van my geweet het en geweet het hy sou ook vir my oortredinge en sondes moes sterf. Dankie Koning Jesus!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.