Beampte wyd geloof vir inisiatief ná motoris joggie inloop

Suzette en Patrick (Foto: Facebook)

Toe ʼn petroljoggie van Port Elizabeth in die Oos-Kaap ʼn stewige som geld uit sy eie sak moes betaal nadat ʼn motoris hom ingeloop het, het ʼn verkeersbeampte van dié provinsie dit op haarself geneem om dié joggie uit sy verknorsing te red.

Suzette Ludeke, ʼn beampte van die Nelson Mandelabaai-metro, vertel Dinsdag aan Maroela Media sy wou graag iets spesiaals vir dié joggie doen nadat sy nié daarin kon slaag om die motoris op te spoor wat die joggie ingedoen het nie.

Ludeke het einde verlede maand, nés elke ander vroegoggendskof, by haar gunstelingvulstasie stilgehou vir ʼn koppie koffie toe Patrick, wie se van weerhou word, haar genader het.

Patrick het aan haar vertel dat hy oomblikke vantevore deur ʼn motoris ingedoen is. Volgens hom het die motoris versoek dat sy tenk volgemaak word, maar toe hy moes betaal, het hy daarop aangedring dat hy nét vir R150 se brandstof gevra het.

Die motoris het ná ʼn oor en weer stryery R150 betaal en onderneem om later terug te keer – maar dié het skoonveld verdwyn.

Ludeke het die man aanvanklik deur sy voertuig se nommerplaat probeer opspoor, maar later vasgestel dat dié nommerplaat vervals is, en Patrick moes later R580 uit sy eie sak opdok.

Suzette en Patrick (Foto: Facebook)

“Die gesigsuitdrukking wat hy gehad het toe ek hom vertel het dat ons nie die motoris kon opspoor nie, sal my altyd bybly,” vertel Ludeke.

“Hy was ongelooflik hartseer. Hy het gesê hy het elke pennie nodig wat hy by die vulstasie verdien omdat hy hom en sy vrou moet onderhou en dat sy vrou boonop hul eerste baba verwag. Ek het verskriklik jammer vir hom gevoel en besluit om later na die vulstasie terug te keer om ʼn foto saam met hom te neem en dit op Facebook met my vriende te deel in die hoop dat ons vir hom ʼn paar rand sou kon insamel.”

Weldoeners in die gemeenskap het in minder as ʼn week R3 700 vir Patrick ingesamel. Die liefdadigheidsorganisasie Charity Project PE het ook aan hom babaklere, -doeke en ʼn -bed geskenk.

“Ons het ʼn groot tjek met behulp van ons plaaslike buurtwag laat druk en dit aan Patric gaan oorhandig. Hy was baie verras; het sy gesig vasgegryp en gesê hy kan dit nie glo nie. Ek was nou die aand weer daar vir ʼn koppie koffie en hy kan nie genoeg dankie sê nie,” vertel sy.

Die baba-benodighede wat aan Patrick geskenk is (Foto: Facebook)

Ludeke sê sy het self met weinig grootgeword in Grahamstad in die Oos-Kaap en is daarom baie passievol daaroor om ander te help en ʼn verskil te maak in haar gemeenskap. “Wat ék vandag het, is alles danksy seëninge in my lewe. Daarom wil ek ander ook help – en as ons elkeen iemand help, sal niemand swaarkry nie.”

Talle op sosiale media het Ludeke vir dié inisiatief geloof. “Jy is ʼn engel duisend,” het Lindy Steen geskryf. “Jou hart ken geen perke nie. Jy is een amazing stukkie goud van Jesus,” het Yolanda Marais oor dié gebaar laat hoor.

“Om te sê ek is trots op jou is ʼn understatement. Jy is ʼn rolmodel duisend. Baie dankie vir alles wat jy vir almal doen sonder om twee keer te dink,” het Jean Smith aan haar geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Carlien ·

Ek lees die storie met n knop in my keel. Kan ons nie net met sagter oe na mekaar kyk en uitreik na mekaar instede van so aggresief en kwaai deur elke dag gaan nie. Ons land is so mooi om in te bly, maar ons is daagliks deur soveel boosheid omring en dan kom hierdie beampte met haar goeie hard en wys net dat n bietjie menslikheid so ver gaan.. Ek is nie ryk nie, maar aan my glimlagte wat ek elke dag aan my medemens, van die koerant verkoper op straat tot my mede werk kolegas uitdeel is daar nie perke nie, ek glo dit maak n verskil in daai persoon se lewe…

Rencia Janse van Rensburg ·

Wonderlik om sulke positiewe stories te lees… dit gee mens hoop vir ons land waar daar daagliks so baie negatiewe dinge gebeur! Welgedaan Suzette Ludeke!

Susan ·

Ek hoop van harte die petroljoggie se storie is die waarheid. ‘n Vriendin en haar man keer onlangs terug van ‘n Kaapse besoek. Iewers op pad het ‘n petroljoggie by ‘n vulstasie dieselfde storie van ‘n oneerlike motoris vertel….

Ella ·

Ja, dit kan. My dogter gooi eenkeer ‘n dag of 2 voor ‘payday’ petrol in met haar laaste paar rand. Die joggie gesels, vra hoekom so min & sy sê toe vir hom daar is nog ‘n paar dae oor voor betaaldag, en dis al wat sy oorhet. Toe sy weer sien, haal hy R50 uit sy broeksak & sê hy sal die petrol betaal, sy moet vir haar kos koop met die geld wat sy vir die petrol sou betaal.

Maria ·

Ai dis n lekker mooi storie, self so bang hulle gooi meer in as wat ek vra, hou altyd die R100 noot sigbaar vas

Sipho ·

Baie goeie berig, nou gaan ek n joggie word en my eie besigheid begin ?

louisa ·

Baie dankie vir die onbaatsutige daad almal…..Ja, daar is nog goeie mense ….

MARIA ·

WOW EK HETHOENDERVLEIS GEKRY TOE EK DIE BERIG GELEES HET. DIS SO LEKKER OM DIT TE LEES. EK WENS NET ONS ALMAL KAN DIT VIR MEKAAR DOEN WAT DIE MENSIES GEDOEN HET. VROU EK WIL NET SE JY IS N ENGEL…

Elize Marais ·

Oneerlike motoriste is meer algemeen as wat van vertel word!! BAIE joggies is al so ingeloop en party het al hulle werk daardeur verloor!! Ek hoop daai motoris kry hierdie berig te lees en skaam hom!! En dat hy gaan regmaak!! Petroljoggies werk lang harde ure en moet altyd vriendelik wees!! Ek haal my hoed af vir hulle!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.