Bederfbokse aan boervroue kring ál wyer

Die VLV se versamelpunt vir bederfbokse. (Foto: Verskaf)

Wat eers net ʼn paar bokse vol bederf aan boervroue in die droogtegeteisterde Karoo-omgewing moes wees, het vinnig uitgekring tot ʼn reuseskenkingsprojek waar bokse en bokse bederfgoedjies die afgelope drie weke vanuit alle oorde in Suid-Afrika gestroom het.

Die Boks vir Boervrou Facebook-blad, wat tans met 245 000 ondersteuners spog is drie weke terug op die been gebring nadat Rynette Claassen ʼn “hartverskeurende brief” van ʼn Karoo-boervrou op WhatsApp ontvang het.

“Maak jou oë toe. Dink jou in, jy is ʼn Karoo-boervrou. Jy staan in die kombuis en kyk uit oor die plaaswerf. Daar waar eens trekkers en werktuie gestaan het. Als is nou leeg. Als is verkoop. Soek ietsie groen, net ʼn kolletjie. Maar sien niks. Twee van die enorme ou bloekombome is dood. In die verte sien ek die rivierloop en die lande vir lusern, droog en vaal. Die rivier het vyf jaar laas geloop. Ek voel hoe die trane wil begin en kyk vinnig weg.

“My oog vang die ketel, [ek is] so lus vir ʼn lekker sakkie cappuccino en om ʼn Rooi Rose op die bank te lees. Ai, hoekom het ek nie daai dae meer waardeer nie? Die Ricoffy-blik is amper leeg. Ek spaar dit vir my man. Stap na die kraan en skink ʼn glas water. Ná 25 jaar op die plaas is ek steeds nie gewoond aan hierdie brak boorgatwater nie,” lui die brief.

Dit het Claassen, wat in Bloemfontein woon, genoop om die blad te begin.

Die idee, sê sy, het ontstaan by die Wellingtonse Vrouelandbouvereniging (VLV) se Boks vir ʼn Boervrou Facebook-blad, met Juanita Loubser aan die stuur. Dié projek geniet ook die aandag van organisasies soos AfriForum en Solidariteit Helpende Hand. Terwyl talle Suid-Afrikaanse boere gebukkend gaan onder ʼn sewe jaar lange droogte, wat ook hul sakke begin ruk, word talle gesinne ook geraak.

“Elke boks het ʼn boervrou se naam en ʼn briefie wat spesiaal aan die boervrou geskryf word. Ons visie was om uit te reik na die droogtegebiede en die VLV se 2020-tema is ‘belê in vroue’. Vroue is jou rots in die huis. Dinge is deurmekaar as daar nie ʼn vrou in die huis is nie en as jy in haar belê, kan daar moed in die huis kom,” sê Loubser aan Maroela Media.

Sy vertel dat hulle juis die projek so kort voor Kersfees van stapel gestuur het omdat almal nou in die gees van die feestyd inkom. “Maar baie van die boervroue in die droogtegebiede is moedeloos en ons wil vir hulle ʼn boks vol hoop bring voor Kersfees, in hierdie moeilike tyd.”

Die VLV self het al oor die 10 000 bokse wat hulle moet versprei. Daar is verskillende versendingspunte, een in Kimberley, een in die Vrystaat en een in die Boland. “Ek dink nie ons het besef dat ons land soveel kan gee nie; van hierdie bokse is groter as appelbokse en so swaar dat twee vroue dit moet dra. Dit is ongelooflik.”

Loubser sê verder dat die projek weer gemeenskappe bymekaarbring. “Ons kry oproepe van mense wat in ʼn rigting reis en vra of daar enige boervroue is wat daar moet bokse ontvang. Hulle kuier sommer dan by die mense ook, wat hulle so geniet, en gee aan ons terugvoer. Ons kry ook dikwels goedere wat hier by ons afgelaai word, wat ons dan self in ʼn boks moet verpak. Ons hande is al swart van al die koerantpapier, maar dit is lekker om as boervroue bymekaar te kom, saam te werk en ʼn koppie koffie saam te drink. Ons werk ons harte uit.”

‘n Komieklike padteken in Strydenburg. (Foto: Amelia Jacobs/VLV)

Sy vertel dat die VLV ook ʼn hartroerende WhatsApp-boodskap ontvang het. “Niemand gee om oor ons mense in die Boesmanland nie, want ons het nare stofpaaie, maar hier kom julle en reik uit na ons.” Die boervroue stuur ook foto’s aan die VLV wanneer hulle die pakkies ontvang.

As elke boks by ʼn boervrou afgelewer is, begin die proses van voor af.

Elke bederfboks is gevul met goedere wat die vroue, hul mans en kinders kan gebruik. Dit sluit onder meer in badkameritems, lekkergoed wat nie smelt of breek nie, niebederfbare kositems, tydskrifte, penne en potlode, pleisters, Panado’s, cappuccino-sakkies, soppoeier, blikkieskos, lipstiffie, ’n mooi serpie, vadoeke, sneesdoekies, haarrekkies en skeermessies. Mense kan self besluit wat hulle alles in die bokse plaas, solank dit nie breekbaar is of sal smelt nie.

Claassen sê sy kan nie met sekerheid sê hoeveel bokse haar blad tot op datum ingesamel het nie, maar dat hulle na raming al amper 2 000 bokse ontvang het. “Dit bly net instroom. Dit raak massief.”

Intussen het die logistieke onderneming Aramex in Bloemfontein ook skouer aan die wiel gesit en bied dit gratis vervoer en stoorplek vir die projek aan. “Deur hierdie ongelooflike daad het hulle verseker dat honderde boervroue in droogtegeteisterde gebiede ʼn boks sal ontvang wat deur skenkers van oor ons land verpak is.

“Dit is maatskappye soos Aramex wat ons geloof in menswees herstel en ons wil hulle uit ons harte bedank vir hul bystand en hulp,” sê Claassen op die blad.

Karien van Schalkwyk, die voorsitter van die Kaapland-VLV, sê die vereniging is dankbaar vir die skenkings wat hulle al ontvang het. Van Schalkwyk het self al 400 bokse in die droogtegeteisterde omgewing van Calvinia en Loeriesfontein gaan aflaai. “Die belangrikste is dat die bokse by die regte plekke uitkom.”

Nog ʼn boervrou se brief is aan Claassen se Boks vir Boervrou-blad gestuur. “Dit is al ʼn week terug dat ek ʼn boks gekry het. Dis al so lank dat ek wou deel wat ek voel en hoe dankbaar ek is vir dit wat ek gekry het.

“Soos ek elke geskenkie uitpak, besef ek net oor en oor hoe God met elkeen se hart werk. Ek het sleg gevoel om te dink iemand stuur vir my iets, maar daar is dalk iemand anders wat nog swaarder kry as ons, en soos ek uitpak, besef ek dat ons as mammas en vroue in die huis altyd heel eerste by ons behoeftes sny. Ons los liewer die week die sjampoe, want jy kan nog joune rek met ʼn bietjie water. Jy loop verby die mooi toppie in die winkel, want ousus het klere vir die skool nodig. Soos ek elke dingetjie optel en bekyk en ruik, gaan my hart uit na elkeen wat ʼn boks stuur. Elkeen wat sy hart oopmaak teenoor ʼn boervrou wat iewers afgeleë en afgesonder is van so baie dinge. Dankie dat julle almal die moeite doen om ʼn boervrou weer te laat voel ‘dis oukei, ons het jou’,” lui die brief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Lindie Barnard

Jul vroue weet nie wat dit vir ons vroue beteken nie. Baie BAIE dankie

Marlene

Ek bid dat elke boervrou en man en hul gesin geraak sal word deur hierdie projek. Dit is vir my verstommend om te sien hoe vinnig hierdie hartsaak mense aangeraak het. Julle boervroue verdien dit deur en deur. Die van ons wat nie in jul skoene staan nie, sal nooit verstaan waardeur jul moet gaan nie. Ons bid jul God se rykste seen toe. Ons staan saam en bid vir reen en vir julle veiligheid en le julle neer voor Jesus se voete

Martie

Boervroue ek kan net bid vir reen vir julle. As ek kon sou ek alles wat julle nodig het vir julle gee. Baie dankie dat julle boervroue is, Dankie dat julle nie opgee nie. Al is dit ‘n opsie. Baie baie dankie. Dis okay ons het julle

R. Burger

Dankie aan almal wie se harte oop is vir die nood en behoeftes. Strrk staan boere… ons God is almagtig!!

GRYSKOP VANI KAAP

Ons in die Swartland het Mei/Junie 2019 so projek geloods en dit was verstommend hoeveel mense het hierdie projek ondersteun. Daar is met privaat voertuie na Laingsburg/Merweville en Sutherland toe gery om hierdie Skoenbokse te gaan aflewer. Ek is so bly dat hierdie projek nou posgevat het in ander gebiede ook. My buurvrou wat die voorvatter was van hierdie projek het eers gedink as sy 10 bokse gaan kry kan sy bly wees. Verstommend was dit nie net 10 bokse nie maar baie meer. Dankie vir almal se bydraes en omgee vir hierdie boervrouens en gesinne.