Op Saterdag 26 Augustus word ʼn splinternuwe standbeeld van die Suid-Afrikaanse vroueheldin, Klara Majola, by die Togryersmuseum in Ceres onthul.
Die storie van Klara is dat sy in 1950 op ʼn koue wintersdag verkluim het toe sy na haar blinde pa gaan soek het. Klara-hulle het in daardie stadium as arbeiders op die plaas “Die Eike” gebly en haar pa het gereeld los werkies op die plaas gedoen.
Op dié betrokke dag het haar pa hout gaan optel, en toe hy te lank wegbly het die agtjarige Klara aangebied om hom te soek. Hulle het mekaar misgeloop, en hy het wel later tuisgekom. Klara het egter te lank weggebly en toe verkluim.
“Klara se storie is alombekend en dit kan maklik oorvertel word, en dit raak al vir soveel jaar mense se harte aan. Ek hoop my interpretasie van Klara sal opnuut die aandag op haar heldedaad vestig.
“Ek is nogal opgewonde oor die onthulling. Dit sal die eerste keer wees dat ander mense dit sien en wat die geleentheid so spesiaal maak, is dat van Klara se familie dit gaan bywoon,” vertel die beeldhouer Pieter de Villiers aan Maroela Media.
De Villiers het in Junie met die projek begin, wat uit verskillende fases bestaan. Die standbeeld is uit sement gegiet, dit is 1,3 meter hoog en weeg sowat 300 kilogram. Hy sê hoewel die skeppingsproses dikwels baie geduld van hom geverg het, was dit ʼn lekker uitdaging om die verhaal op ʼn visuele manier uit te beeld.
“Ek moes op my intuïsie staatmaak om die beeld te vorm, omdat ek nie foto’s of ander hulpbronne gehad het wat ʼn aanduiding gee van hoe Klara gelyk het nie. Wat vir my uitstaan, en dit is waarop ek gefokus het, is Klara se hart vir haar medemens.”
De Villiers het Klara se storie vroeër vanjaar die eerste keer gehoor en dit het hom dadelik aangeraak.
“Ek het ʼn glimlag op haar gesig gesit, want Klara is nie dood as gevolg van terreur nie. Sy het gekies om na haar pa te gaan soek, en dit is ʼn daad wat van haar braafheid en goedhartigheid getuig. Sy het dit uitgeleef deur na haar pa te gaan soek.”
De Villiers het ook ʼn gedig met die titel “Omgee Heldin – Klara Majola” geskryf wat deel van die projek vorm:
Ek gee vir jou ʼn gesig van Afrika
en klee jou met ʼn rokkie van jou tyd
Ek gee jou groot oë en ʼn groot glimlag
sodat kinders ook van jou sal hou.
Ek stompdans al om die tafel heen
omsingel met fop sneeu
wat sag om my val
terwyl ek stukke wegsny
soos die lewe
ook maar doen,
rasper ek jou kontoere
om my verbeelding te verbloem.
Jou omgee
kry stadig betekenis
onder my wintervingers
vol klei.
Ek wonder hoe koud
jy, heldin, daardie
nag moes ly?
Dis asof ek jou
in my arms wou omhels
nog lank voor die Bokkeveld
sy kapokkombers
om jou sou vou.
Ware heldin
ek vou jou in klei,
giet jou beton.
Met my hande
gee ek gestalte
aan die gedagte van jou
sodat ander, jou,
net soos ek altyd
sal onthou.
Belangstellendes wat die onthulling van Klara Majola se standbeeld by die Togryersmuseum op 26 Augustus wil bywoon, kan tot Donderdag 24 Augustus plek bespreek deur ʼn e-pos te stuur na i[email protected] of 023 312 2045 te skakel.
Die beelhouwerk is ‘n pragtige stuk, maar ek sou steeds glo dat Klara ‘n truitjie of baadjie sou aantrek voordat sy in die koue sou uitgaan…en miskien skoene as sy sou gehad het.
Daardie jare was armoede aan die orde van die dag. Die feit dat hul hout moes gaan optel in die koue getuig hiervan. Dit is juis waarom hierdie “sonder skoene, sonder truitjie” beeld van Klara soveel meer indrukwekkend is. Dit weërspieël die liefde vir haar pa/medemens te midde van hul armoede. Hierdie beeld is meer realisties sonder skoene of ‘n truitjie. Dit beeld beslis haar verhaal en goeie hart uit. Dit is net my opinie. Ek stem dat dit pragtige beeldhouwerk is.
Baie mooi beeld
Baie merkwaardige storie
Uitsonderlike kunswerk!
Is daar so ‘n beeld al van Racheltjie de Beer gemaak? Vra maar net.
Het ook nog nooit van hierdie storie gehoor nie. As ek dit nie hier raak gelees het nie, sou ek ook seker nooit nie!
Is daar so n skool of straat na Klara Majola vernoem soos in die geval van Rachel de Beer? Vra maar ook net. Baie mense het ook nooit van R De Beer se storie gehoor nie, hulle het dit ook iewers raakgelees. Punt van my skrywe, elke volk, of in ons geval, groepe, het hul eie helde en heldinne. Dankie. Punt
Miskien is Anel se punt, hoekom moet ONS volk, ANDER volke se helde vereer?
Sekerlik is daar menigte helde en heldinne, veral kinders, van ons Volk wat nog nooit so geëer is nie? En wat ‘n groter of wyer impak gemaak het?