Begin só om doeltreffend te help

Hannes Noëth van Helpende Hand. (Argieffoto)

Baie water het in die see geloop sedert Covid-19 vir die eerste keer in Suid-Afrika aangemeld is, tot en met vandag. Aan die een kant voel dit soos iets wat ons ’n ewigheid al vashou, aan die ander kant weet ons dat dit maar skaars enkele maande is wat ons as Suid-Afrikaners direk hiermee konfronteer is. Sedertdien het dit vir ons duidelik geword dat die gewone ritme van huis en werk, gesin en skool, versteur is. Ander gewoontes, ander patrone, ander maniere van doen het noodsaaklik geword. Ons besef daar is sedertdien meer as 55 000 gesinne in rou, daar is onsekerheid in baie mense se harte en baie soek nog rigting in die onvoorspelbare uitwerking van die virus in ons leefwêreld.

Saam met hierdie impak van siekwees en siekword op individue, gesinne en ’n gemeenskap, was dit van die begin af ook duidelik dat hierdie groot omwenteling ’n ongekende impak gaan hê op die ekonomie van die land en die individu. Dit voorspel aan ons dat daar ook groot uitdagings op die gebied van die maatskaplike omgewing wag.

Ná ongeveer ’n jaar en ’n half begin die uitwerking op die ekonomie en maatskaplike omgewing wys. En hoe groter die impak word op die maatskaplike omgewing van ons menswees, hoe meer indringend sal ons moet toetree in die ontwikkeling van ons gemeenskappe.

So baie mense wil help en ’n verskil maak. Dit is nie lekker om te sien hoe so baie mense swaarkry, en ál swaarder kry nie. Ons vergeet soms dat Suid-Afrika Covid-19 met groot armoede binne is en dit het intussen reeds verdiep en erger geword. Die werklikheid is – nou is dit nodig dat ons kyk hoe ons op die beste maniere kan help en op die beste maniere ’n verskil kan maak. Kortliks, as ’n mens weet die ekonomie trek swaar en die maatskaplike omgewing gaan al hoe swaarder trek, maak dit net nie sin om te help op wyses wat gesinne en individue se krisis verdiep en nie sinvolle antwoorde bied nie.

Die tyd waarin ons leef, dwing ons juis om nie net te vra: “Wil ek help en wil ek ’n verskil maak?” nie, maar baie eerder moet ons vraag skuif na: “Hoe kan ek op die mees effektiefste wyse ’n verskil maak?”; “Wat is die behoefte?”, “Hoe gaan die gemeenskap dit aanpak?”; en “Hoe kan ons volhoubare, gestruktureerde antwoorde bied?”.

Om net rand ná rand te spandeer aan kospakkies en dit onwillekeurig te bly uitdeel en sonder ophou net te koop en te verdeel, het werklik geen sin nie en verswak ons samelewing, en ons gemeenskappe en bring geen volhoubare oplossings nie. Daarom is dit nodig dat presies bepaal word wat die nood in elke gemeenskap en omgewing is.

Daar was ’n tyd wat die regering meer suksesvol was met navorsing in gemeenskappe. Gemeenskapsontwikkelingsplanne en -progamme was daargestel vir ’n georganiseerde, gestruktureerde volhoubare samelewingsplan. Dit gebeur nie meer nie.  Ons kan nie na die regering kyk vir hulp en programme oor hoe ons gemeenskap opgehef moet word nie. Gemeenskappe gaan dit self moet doen. Vir gemeenskappe om dit self te doen, moet hulle weet wat die nood en die dringendste behoefte in daardie spesifieke gemeenskap is, want die kapitale voordeel van ’n regering het gemeenskappe ook nie.

Mense wil so graag help en so graag ondersteun en natuurlik moet ons dit ook doen, maar as ons gemeenskapsontwikkeling goed wil doen, sal ons ’n radikale kopskuif moet maak van net koop en deel en uitdeel en verdeel na ’n werklike gemeenskapsontwikkelingsplan. Doen ons dit nie, gaan ons die hele land se armoede verhoog en vergroot en verdiep. En gaan ons al hoe meer moet uitdeel sonder enige vordering. Die regering van die dag is besig om ons juis hieroor in ’n totale welsynstaat te omskep. Maak die toelaes net toenemend meer, verdeel meer, maak meer mense afhanklik – alles sonder enige langtermynplan of -oplossing. Kerke, organisasies, individue en baie goed bedoelde donateurs kan bydra daartoe dat ons ongestruktureerd mekaar al hoe armer maak en die nood al hoe groter.

Juis daarom is dit belangrik dat gemeenskappe deel word van ’n gemeenskapsontwikkelingsplan. Ons moet almal die behoefte voel om nie net te help nie, maar werklik ’n verskil te maak in hoe die patroon van armoede verbreek kan word.

Om dit doeltreffend te doen, het Solidariteit Helpende Hand pas begin met ’n landwye navorsingsopname wat die behoeftes in Afrikaanse gemeenskappe bepaal en gemeenskapsbehoeftes vasstel. Hierdie vraelys kan anoniem by www.onsgemeenskap.co.za deur enige gemeenskapslid ingevul word. Hierdie opname neem tyd in beslag, dit is moeilik, maar soos ons dit doen, besef ons al meer en meer die verskil wat dit maak. Dit bied gestruktureerde oplossings, volhoubare planne, selfs die waarde van vriende en vennote, netwerkvorming, goeie beplanning en bowenal gemeenskappe wat verstaan hoe om die behoeftes van hul eie omgewing en gemeenskap aan te pak, kom na vore.

Om ’n voorbeeld te noem: Ons neem ’n gemeenskap waar daar vir jare der jare kos en nogmaals kos deur baie organisasies en groepe en mense en opregte donateurs uitgedeel word. Die gemeenskapsopname wys vir ons ’n interessante ding: 60% van die mense in ’n spesifieke omgewing het nie rybewyse nie. Jy het een van twee keuses. Jy hou aan om jaar in en jaar uit net kos uit te deel. Óf jy begin saam met die gemeenskap (terwyl die nodige kos steeds uitgedeel word) stelselmatig en gestruktureerd met die hulp van kerke, vriende en goedhartiges werk aan ’n plan om in die kernbehoeftes van die gemeenskap te voorsien…. elkeen wat dus ’n rybewys verkry, het skielik net soveel meer geleentheid tot ’n suksesvolle werk.

Met hierdie in gedagte wil Solidariteit Helpende Hand vir ons ondersteuners, vriende, gemeenskappe en kerke vra om ons te help met ons landwye gemeenskapvraelys. Hierdie is nié ’n data-insamelingsveldtog nie, die bedoeling is gestruktureerde, volhoubare beplanning tot gemeenskapsontwikkeling.

Help ons om hierdie behoeftebepaling onder ons gemeenskappe so effektief moontlik te maak, sodat ons ook ons planne vir gemeenskapsontwikkeling so effektief moontlik kan neersit. Ons werk tans oor 12 streke, oor 200 gemeenskappe. Hoe beter die spesifieke behoeftes aan ons bekend is, hoe meer effektief die hulp wat gebied word. Dit is ter wille van ons almal.

Solidariteit Helpende Hand wil graag ons gemeenskappe sien groei en ontwikkel, daarom is dit nodig om gemeenskapsgebaseerde ontwikkelingsprojekte daar te stel. Jý bepaal saam met jóú gemeenskap die groei. So gaan ons effektief, kragtig, gestruktureerd en volhoubaar die toekoms tegemoet.

Om te wil help is wesenlik, maar om reg te help is noodsaaklik.

Meer oor die skrywer: Hannes Noëth

Hannes Noëth is die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. Hy is ook die skrywer van die boek Depressie: Struikelblok of uitdaging? en skryf dikwels rubrieke vir verskeie publikasies.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Sou graag meer wou help maar my Pay as you earn word verkrag met plunder gedrag en kry geen waarde vir daai gelde nie
So ek is bietjie Kieskeurig waar ek help

annie

Mense wat gehelp wil word het ook ‘n bydrae om te maak en dit is om op te hou om so ondankbaar te bly met die vooropgestelde idee dat wit mense hulle mòèt help omdat wittes hulle in ‘n armmansposisie geplaas en van altyd af uitgebuit het… Wat beteken dat alles wat ooit verkeerd is/was, nooit deur eie toedoen is/was nie. Die Paradyslewe was verby toe Adam en Eva kennis gegee is. Afrika is nie uitgesluit uit die destydse paradyslike-lekkerlewe-plakkersgemeenskap se koebaai nie.

Groen Ghoen

‘n Wyse persoon het eenkeer gesê dat die beste helpende hand die een aan die einde van jou mou is. Dit is harde woorde, maar dalk die enigste alternatief vir die Afrikaners om ‘n eie toekoms onder die Ons Sal Self vaandel te skep?