ʼn Katarak is ʼn opeenhoping van proteïen op die ooglens wat visie beïnvloed en word dikwels vereenselwig met persone wat al ʼn rype ouderdom bereik het.
Solidariteit Helpende Hand het, in die gees van Internasionale Ooggesondheid-bewusmakingsweek, hande gevat met dr. MC Niemand in Pretoria, wat jaarliks ’n aantal behoeftige bejaardes se las ligter maak deur katarakchirurgie.
Volgens die Nasionale Ooginstituut het bejaardes teen die ouderdom van 80 jaar reeds ʼn katarak of het hulle dit alreeds chirurgies laat verwyder. Bejaardes tussen die ouderdom van 75 en 85 veg ook die stryd dat ʼn gedeelte van hulle visie belemmer word as gevolg van katarakte.
Vir baie bejaardes is dit ʼn traumatiese ervaring omdat hulle nie altyd die verandering begryp nie. Daaglikse aktiwiteite soos lees en kosmaak raak by die dag meer uitdagend, bekendes se gesigte lyk anders en bejaardes se veiligheid word ook in gedrang gestel. Spoed en doeltreffendheid verminder drasties en alledaagse take en aktiwiteite raak stremmend. Dit het alles ʼn groot invloed op bejaardes se gemoed.
Bejaardes word spesifiek deur hierdie probleem geraak omdat die lens van hulle oog met tyd oorwerk word vanweë al die jare se gebruik.
Simptome van katarakte is nie altyd voor die hand liggend nie. Die rede hiervoor is dat dit jare vat voordat mense bewus raak van die simptome daarvan. Mense pas hul leefstyle geleidelik aan by die verandering. Kleure en visie vervaag dikwels, die glans van die ooglens word beïnvloed, en katarakte lei ook dikwels na swak nagvisie en dubbelvisie.
Solidariteit Helpende Hand, tesame met dr. Niemand, help dié jaar ʼn klein groepie behoeftige bejaardes met hul ooggesondheid deur middel van katarakchirurgie.
Slegs ʼn bepaalde aantal mense sal aanvaar word vir dié projek, dus moet aansoeke so vinnig as moontlik voor 25 Augustus gestuur word. Vir ʼn aansoekvorm of meer inligting oor die projek, stuur ʼn e-pos na [email protected].
Waar bied ek my hulp aan?