Behoeftige brakkies het jou hulp nodig

hondelewe

Foto: www.animalieanimali.it

Frederick die grote – soos Frederick II, die koning van Pruise in die 1700’s, bekend gestaan het – het meer as drie eeue gelede reeds gesê die hond is die mens se beste vriend. Dit is spesifiek gesê weens die lojaliteit en kameraadskap wat honde mense bied.

Vandag is hondekinders steeds die mens se beste vriend, en die Hartbeespoort Animal Welfare Society (Haws), noord van Johannesburg, het daarom jóú hulp nodig om na talle van dié diere om te sien. Hierdie niewinsgewende organisasie swaai jaarliks sy deure vir hordes honde oop wat nie meer huise het nie, of in die meeste gevalle op straat beland het. Die organisasie sukkel egter om die finansiële mas op te kom in die moeilike ekonomiese toestande.

ʼn Groep studente van Akademia, die gemeenskapsuniversiteit in Centurion, het dit nou hul doel gemaak om fondse vir dié organisasie in te samel.

Argieffoto: www.flickr.com

JP Erasmus, Bernidene Skinner en Minette Nel sê hulle het juis hierdie projek gekies omdat Haws slegs vir sowat 80 honde finansieel voorsiening kan maak. Die organisasie neem egter meer honde in, en eksterne befondsing is nodig om te verseker dat die honde versorg word.

Die doel van dié veldtog is verder om mense aan te moedig om liewer ʼn hond by die organisasie aan te neem as om duisende rande te spandeer deur ʼn hond by ʼn teler aan te koop.

“Daar is talle organisasies wat hulle beywer vir die beskerming van kinders en mense, maar min organisasies wat werklik na diere omsien,” meen Erasmus. “Ons wou ʼn veldtog begin om mense bewus te maak van die behoefte wat daar buite is. As dié veldtog net ʼn paar honde met vol magies kan laat gaan slaap, sal ons tevrede wees.”

Meer inligting oor skenkings (Foto: Verskaf)

Erasmus vra dat die publiek hul harte én beursies oopmaak om Haws finansieel by te staan. “Die organisasie doen ongelooflike werk deur onder meer na honde om te sien wat verwaarloos is of langs die pad opgetel is. Dit is egter nie altyd finansieel haalbaar nie; daarom het organisasies soos dié die hulp van die publiek nodig.”

Jou hond kan boonop die wenner van die “#Postyourpooch”-kompetisie wees. Jy kan ʼn oulike foto van jou hond vir R50 inskryf ten einde pryse ter waarde van meer as R500 vir jou en jou hondekind te wen. Alle inskrywingsgeld word aan HAWS geskenk. Om in te skryf, sien die reëls en stappe in die aangehegde foto. Die kompetisie sluit 10 September.

Vir meer inligting oor die projek of die kompetisie, kontak gerus vir Bernidene Skinner by [email protected].

Vir meer inligting oor die organisasie of om direk skenkings te maak, besoek HAWS se webwerf en Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Soekie ·

Het julle nie net ‘n bankrekening waarin ons geldjies kan deponeer om julle te kan bystaan nie? Ek het darem self 2 hondekinders vir wie ek baie lief is, en dit breek my hart as ek sien hoe diere mishandel word en swaarkry….veral honde, hulle kan nie vir hulle self sorg nie.

Minette Nel ·

@Soekie dankie vir jou omgee-hart!
Hier volg HAWS se bankbesonderhede wat ons vir die kompetisie gebruik:

Standard Bank Brits
033183074
Cheque Account
052546
Ref: competition@HAWS

Enige donasies is welkom!

Woef ·

Byna elke dorp het sy eie dierebeskermingsvereniging of Nasionale DBV. Ondersteun hulle. In Worcester (en omgewing) is daar selfs 4 – en die een baklei harder as die ander een, en teen mekaar – vir bestaansreg en geld. Die NDBV in Worcester is natuurlik niks anders as ‘n “killing zone” nie – ek wil amper sê 80% van die diere wat by hulle ingaan, word summier uitgesit. Daarom kry hulle nie ‘n sent van my nie. Ek ondersteun eerder die organisasies wat sterilisasies reël en dikwels erg-beseerde/siek diere inneem, rehabiliteer en dan uitplaas.

Minette Nel ·

@Soekie dankie vir jou omgee-hart!
Hier volg HAWS se bankbesonderhede wat ons vir die kompetisie gebruik:

Standard Bank Brits
033183074
Cheque Account
052546
Ref: competition@HAWS

Enige donasies is welkom!

Vermeende ·

So het die blanke kinders in plakerskampe ook ons hulp nodig.
Die las op die blanke se omgeehart word al swaarder en sy werk word al minder, maar lewe moet almal lewe en met net die blanke se offer.

E.K. ·

Mense moenie net verby diereskuilings ry nie, gaan gee ‘n paar rand of sakkie kos, elke bietjie tel. Ek weet bv Die OU Pastorie in Skeerpoort het ‘n tipe “kersete” gehad en mense moes kos en dinge bring vir die ouens hierbo (die kos is ook uitstekend, probeer Pastorie gerus, ook heerlike musiek en alles buite onder die bome, te lieflik). Ongelukkig kon ek nie gaan maar het reeds met eienaars gereël dat, sodra ons weer daar kom eet ek ‘n bietjie kos vir die klomp bring en hulle sal reël dat dit afgehaal/afgelewer word. Help diereorganisasies mense, moenie dink hulel sal enige staatshulp ooit kry nie, dis ek en jy wat omgee wat die enigste redding is vir weerlose diere.

E.K. ·

Minette – as jy hier lees, as mens nie wil aan komtesie deelneem maar wel geld wil skenk – wat kan mens by die verwysing sit? Sommer net : Skenking? Dankie

Minette Nel ·

@E.K. ek stem saam! Elke bietjie help werklik.

Enige donasies is welkom, maar ons verkies om die verwysing steeds “competition@HAWS” te hou. Sodoende kan ons boekhou van die geld wat inkom wat verband hou met ons projek.

Vriendelikste groete!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.