Behoeftige meisies baat by ruim skenking

Benette Welman, projekorganiseerder van die #HelpHetta-projek, saam met Al van Buuren, uitvoerende hoof van Alpha Pharm, en Esna Colyn, uitvoerende hoof van Imbalie Beauty, wat die versorgingspakkies vir die #HelpHetta-projek verskaf het. (Foto: Verskaf)

Vanjaar het op ʼn hoë noot vir Solidariteit Helpende Hand se #HelpHetta-projek afgeskop met ʼn ruim skenking waarmee honderde behoeftige meisies landwyd gehelp gaan word.

Benette Welman, Helpende Hand se projekorganiseerder van #HelpHetta, sê dié skenking is deur Imbalie Beauty, waaronder Placecol-, Perfect 10- en Dream Nails-salonne val, en Alpha Pharm moontlik gemaak. Imbalie Beauty het altesaam 875 versorgingspakkies vir behoeftige meisies saamgestel en Alpha Pharm het dié produkte teen ʼn spesiale prys verskaf.

“Dit is die tweede agtereenvolgende jaar dat Imbalie Beauty behoeftige meisies op hierdie manier ondersteun. Ondanks die Covid-19-pandemie se uitdagings het hulle vanaf Oktober tot November ʼn nasionale insamelingsveldtog in hul salonne van stapel gestuur,” sê Welman.

“Kliënte van die salonne is aangemoedig om die kontantwaarde van ʼn versorgingspakkie te skenk en sodoende ʼn Hetta-meisie te ondersteun. In elke pakkie is daar sanitêre ware, reukweerder, seep, ʼn tandeborsel, tandepasta, Vaseline en lipsalf.”

Welman het die skenking in Witbank by die Placecol/Perfect 10-salon in Ben Fleur in ontvangs geneem aangesien dié salon die meeste pakkies ingesamel het.

Die algehele waarde van die skenking is ongeveer R106 960. Die 875 versorgingspakkies wat in 2020 ingesamel is, is 223 meer as die 652 versorgingspakkies wat in 2019 ingesamel is.

“Die #HelpHetta-projek verskaf elke kwartaal sanitêre ware en higiëniese produkte aan 3 000 hulpbehoewende meisies landwyd. Hierdie produkte wat ontvang is, sal binnekort na ons streke en takke uitgestuur word wat dit aan die meisies sal besorg. ʼn Verdere behoeftebepaling is in 2020 onder die meisies gedoen en sal binnekort bekendgestel word,” sê sy.

Die inhoud van ’n #HelpHetta-versorgingspakkie. (Foto: Verskaf)

Esna Colyn, uitvoerende hoof van Imbalie Beauty, sê as ʼn Suid-Afrikaanse onderneming is die groep sensitief vir die uitdagings wat in gemeenskappe beleef word – veral uitdagings wat vroue en meisies in die gesig staar.

“Hoewel ons elke dag met die versorging en mooimaak van vroue besig is, besef ons dat baie jong meisies nie basiese behoeftes, soos sanitêre ware en seep, kan bekostig nie. Ons wil teruggee. Dit sou nie moontlik gewees het as dit nie vir ons pragtige kliënte was wat ons salonne besoek het en ons saloneienaars wat soveel moeite gedoen het nie. As groep het ons daarin geslaag om in ʼn moeilike tyd 875 pakkies in te samel om hierdie meisies se waardigheid te beskerm.”

Welman sê Helpende Hand is dankbaar vir die vennootskap met Imbalie Beauty. “Hulle maak dit vir ons moontlik om, ondanks ʼn moeilike jaar met baie uitdagings, steeds ons Hetta-meisies volhoubaar te kan ondersteun en te verseker dat meisie-wees nie in die pad van gereelde skoolbywoning en ander daaglikse aktiwiteite staan nie,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.