Beiteltjies: Afrikaanse woordkunstenaars vereer

Steffie le Roux. (Foto: Verskaf)

Agt woordkunstenaars- en fasiliteerders is Maandag tydens ʼn virtuele geleentheid deur die Afrikaanse Woordkunsakademie met die Orde van die Beiteltjie vereer.

ʼn Oorkonde, ʼn trofee en ʼn kontantbedrag is aan Frieda van den Heever, Ilse Oppelt, Petronel Baard, Frazer en Deniel Barry, Chrisna Beuke-Muir, Steffie le Roux en Deon Meiring toegeken.

Die wenners sluit aan by die 31 woordkunstenaars wat sedert 2015 dié gesogte toekenning deur die Afrikaanse Woordkunsakademie, wat deur die Cordis Trust bedryf word, ontvang het.

Volgens die Oudtshoorniet Steffie le Roux het ʼn eerste toekenning “ʼn spesiale plek in jou huis en jou hart”.

“Ek is baie trots en dankbaar dat ek soveel geduld het. Om in die bedryf te wees as ʼn sanger en akteur is nie altyd maklik nie. Soos jou loopbaan egter vorder kom jy tot die besef dit wat jy doen, en hoe jy dit doen, is eintlik goed genoeg. Daarom is hierdie toekenning ’n groot eer. Dit wys daar is mense wat sien wat ek doen, wat daarvan hou, daarin glo en dit waardeer.”

Petronel Baard, bekroonde sanger, liedjieskrywer en kunstefasiliteerder, sê dit maak vir haar sin dat die kunste die vertrekpunt behoort te wees vir gemeenskapsontwikkeling in Suid-Afrika.

“Die kunste is die een plek waar ons verskille iets is wat ons vier, in stede daarvan dat dit ons van mekaar skei. Die Orde van die Beiteltjie slaag juis daarin om dié diversiteit van woordkuns in Afrikaans te vier. Suid-Afrikaners het nog nie genoegsaam in mekaar se teenwoordigheid ontspan nie – wat nog te sê mekaar leer ken.

“Selfs meer as in sport, waar wedywering wel deel is van die natuurlike stand van sake, is die kunste die plek waar ons mekaar moet vind en kan opbou. Ons diversiteit kom tot sy reg in ’n hoogs kreatiewe gemeenskap en uitlewing wanneer ons daarop fokus.”

Die sanger, liedjieskrywer en digter Deon Meiring sê skeppende werk, soos woordkuns, kan soms eensaam wees. Meiring het onlangs die oorspronklike musiek vir die kykNET-reeks Kompleks geskryf.

Die Beiteltjie-trofee. (Foto: Facebook/Petronel Baard)

“ʼn Toekenning soos die Orde van die Beiteltjie is ’n manier om met die wêreld kontak te maak en om ’n brug tussen die kunstenaar en ander mense te bou. Dis een van die rigtingwysers wat aandui jy is op die regte pad en jy moet aanhou om dit te doen. Dít vra dapperheid. Baie keer raak ʼn mens ontmoedig en wonder jy of die wêreld nodig het wat jy doen? Kan jy nie iets meer sinvol met jou tyd doen nie?  As iets soos die Beiteltjie-toekenning egter op jou pad kom, is dit asof iemand die beiteltjie in my hand sit en sê: ‘maak nóg iets daarmee’.”

Frieda van den Heever, bekende radio-omroeper en regisseur wat onder meer die weeklikse programme Vers en klank en Kortom op RSG aanbied, sê sy is dankbaar dat die Cordis Trust mense hoop gee en nie die geestesdimensie vergeet waarmee ons besig is nie.

“Ons het ’n spesiale taak as mense wat Afrikaans praat om hierdie boodskap van hoop en van radikaal verskil, terwyl ons ons verskille moet en mag vier, te bring.”

Dr. Fanie Marais, uitvoerende trustee van die Cordis Trust, sê hy is oortuig die toekennings sal die ontvangers inspireer tot groter prestasie en om ander te begeester en by te staan.

“Die Cordis Trust strewe daarna om ʼn stem te gee aan die oorvloedige woordkuns-potensiaal wat daagliks gebeitel word sonder erkenning.”

Die toekenningsgeleentheid is hier te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lili ·

Ek het nie geweet van die Beiteltjie toekenning tot vandag met hierdie artikel nie. Baie geluk en dankie aan hierdie wenners. Julle inspireer, en maak ons gewone Afrikaanse mense super trots. In ons huis, moedig ons ons kinders graag aan om suiwer en kleurvol in Afrikaans te praat, maar nóú gaan ons hulle sommer uitdaag om “beiteltjies” te verdien. Selfs al is dit net speels, sal dit die lekker en trots van Afrikaans, ons pragtige taal, op grondvlak bevorder en uitbou! Groetnis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.