Bejaarde laat breinaalde klik ten bate van behoeftiges

Tannie Alta Deas. (Foto: Verskaf)

Tannie Alta Deas (85), of ta’ Alta soos die gemeenskap van Bronkhorstspruit liefderik na haar verwys, is ʼn bobaasbreier wat die breinaalde laat klik vir minderbevoorregte kinders.

Deas het vanjaar 84 truitjies gebrei vir kinders tussen een en sewe jaar oud, wat in samewerking met Solidariteit Helpende Hand aan behoeftige kinders in Bronkhorstspruit uitgedeel is. Dit is die derde jaar wat sy saam met dié organisasie werk.

Deas vertel haar voorliefde vir brei het oorgespoel in liefdadigheidswerk toe haar kleindogter, ʼn maatskaplike werker, in 2002 vir haar gevra het om truie te brei vir die kinders met wie sy destyds gewerk het.

“Sy het my gebel en gesê: ‘Ouma, my kindertjies kry koud’,” vertel Deas aan Maroela Media, wat sedert haar kinderjare ʼn ywerige breier is.

“Ek het op ʼn kol gaan help om die truitjies uit te deel en het daar met my eie oë die armoede van die mense gesien. Kinders wat met kaal armpies loop in die middel van die winter. Dit het my aangemoedig om net meer en meer te brei,” vertel Deas.

Van die truie wat tannie Alta gebrei het. (Foto: Verskaf)

Sy koop gewoonlik die wol self met ʼn paar rand wat sy elke maand van haar pensioengeld wegsit, maar vanjaar het die Vrouelandbou-unie (VLU) in Bronkhorstspruit vir haar R1 000 se wol gekoop.

“My buurvrou gaan een keer ʼn maand Pretoria toe, dan bring sy vir my die wol saam. Dit is nou, tydens die afsonderingstydperk, moeiliker om die regte wol in die hande te kry. My dogter wat in Krugersdorp woon, het gesê sy sal ʼn plan probeer maak,” vertel Deas.

Sy is egter baie streng daaroor dat die truie nie verkoop mag word nie en gebruik slegs dubbeldraad pullskein wol vir dié spesifieke truie, sê sy. “Dit was goed en dit hou lank.”

Deas vertel dat sy seker maak sy brei nie dieselfde patroon twee keer in ʼn ouderdomsgroep nie. “Ek hou van afwisseling. Ek het destyds by my oorlede suster in die Strand gekuier en sy het vir my ʼn boek gegee met honderde verskillende patrone wat sy in Johannesburg gekoop het. Ek brei nou nog daaruit.”

Sy het in haar eerste jaar op skool leer brei en vertel haar ma was ook ʼn uitstekende breier. “Jy kan maar sê ek het toe al in die patroon van brei gekom,” skerts sy.

En hoe het sy gevoel toe sy hoor van die seuntjie wat so bly was oor sy truitjie dat hy dit nie weer wou uittrek nie? “Dit gee my ’n wonderlike gevoel,” sê sy.

“Ek is nou 85 en dit laat my voel ek is nog nuttig, ek doen nog iets.”

Dié seuntjie wou nie weer sy trui uittrek nie, en het daarmee gaan slaap. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Christina

Pragtige voorbeeld, ek haal my hoed af vir die tannie

Oujongvrou

Hoe skaam kry ek nou vir myself. Ek beter my sokkies optrek en ook iets doen. Ek saluut jou Mev Deas. Jys n voorbeeld vir ons.

Tuinuitsig

Sjoe, baie dankie vir Tannie sy breivernuf. Dis baie werk maar met liefde gedoen. Ek haal my hoed af vir Tannie.

Elmarie

Jinne kan mens nie ietsie wonderliks vir die tannie se onbaatsugtigheid doen nie? Voorstelle??