Bejaardes, gestremdes, behoeftiges deur krisisfonds gehelp

Foto ter illustrasie. (Foto:
Cristian Newman/Unsplash.)

In Bloemfontein is daar ʼn organisasie wat ʼn tuiste bied aan bejaardes, gestremdes en behoeftiges. Athalia Uitreik bied huisvesting en versorging vir 220 inwoners in 11 woonhuise wat privaat gehuur word. Die jongste inwoner is bykans twee jaar oud en die oudste inwoner het in Maart 101 jaar oud geword.

Ans Coetzee is die persoon wat gestalte gee aan Athalia Uitreik se doelwitte. “Athalia bied nie bloot net verblyf nie, maar skep ʼn tuiste vir bejaarde en gestremde persone in ons gemeenskap wat slegs staatstoelae of ʼn klein pensioen of salaris ontvang,” sê sy. “By Athalia woon hulle in ʼn veilige omgewing sonder finansiële bekommernis sodat hulle hul goue jare kan geniet. Ons versorg hulle fisiek en geestelik, en doen ons bes om individue wat deur die meule van die lewe gemaal is, weer hul menswaardigheid terug te gee en weer vir hulle ʼn doel in die lewe te gee.”

Coetzee was in 2012 ʼn stigterslid van Athalia Uitreik en is nou verantwoordelik vir geldinsameling en die verkryging van donasies. Voor inperking het sy jaarliks ʼn sakeontbyt gereël, Oupa-en-Ouma-eretoekennings vir die publiek se grootouers gehou, ʼn voedseldag aangebied waartydens kos ingesamel is asook ʼn gholfdag. Met die inperking is al hierdie geleenthede van die baan. En sy kry daagliks navrae vir nuwe intrekkers.

“Ek kan met ʼn oop hart en skoon gemoed sê dat as Solidariteit Helpende Hand nie by ons betrokke was nie, ons al menigmale diep in die sop sou gewees het, veral nou in die inperkingstyd,” sê sy.

Helpende Hand stop deur middel van Solidariteit se krisisfonds in hierdie tyd veral ʼn klompie gate toe by Athalia deur kos te voorsien. “Ons hou soms die mossie op die 1c-muntstuk so styf vas voor ons dit uitgee dat sy oë traan, want finansies is min en die nood groot. Uit die aard van die saak het baie donasies opgedroog, soos die gaar kos wat daagliks oorgebly het by drie van die kettingwinkels naby ons. Ek glo Athalia sou ʼn voedselkrisis tegemoet gegaan het as dit nie was vir die uitkoms wat Solidariteit se krisisfonds vir ons gebied het nie.”

Ans Coetzee is ‘n stigterslid van Athalia Uitreik en verantwoordelik vir geldinsameling. (Foto: Athalia.co.za)

Tannie Ans, soos Coetzee bekendstaan, het nog probeer uitvind waar sy kos kan koop, toe word dit al afgelewer. Helpende Hand het eers vir haar voedselaanvullers gebring, wat so kosbaar in hierdie tyd is om immuniteitsvlakke te bou. By ander geleenthede stop hulle voor haar deur met vleis, pampoen, kool of ander groente.

Daar is baie gevalle in Athalia Uitreik waar mense se lewens met liefde en aandag en ʼn voedsame bord kos van negatief na positief verander, sê Coetzee. “Baie inwoners kom verwaarloos hier aan, hul gesigte is sommer so dof.”

Haar grootste vreugde lê egter daarin om ná ʼn week of twee se sorg, liefde en kos – gewoonlik ses kleiner etes per dag sodat die liggaam eers weer aan voedsame kos gewoond kan raak – dieselfde persoon te sien, skoon netjies met blink oë en ʼn blink vel.

“Ons het byvoorbeeld onlangs ʼn vrou uit die wit plakkerskamp gekry. Sy was verwaarloos en misbruik. Sy het net op die bed gelê, sy wou nie praat nie en was baie aggressief. Sy het die mensdom gehaat. Hoewel sy ná haar trauma steeds nie kan loop nie, kommunikeer sy vandag vriendelik. Haar oë blink en as sy ʼn mens sien breek die groot glimlag spontaan deur,” vertel Coetzee.

Ouma Sara van Schalkwyk (101) is een van die oudste inwoners by Athalia. (Foto: Verskaf.)

Die Covid-19-pandemie het op verskeie vlakke ʼn invloed op Athalia Uitreik. Die organisasie moes byvoorbeeld baie dringend hul reëlings verander met betrekking tot hospitaalbesoeke om te verhoed dat die kwesbare inwoners nie self medikasie by die staatshospitaal moet gaan afhaal nie. Spesiale voorkomende maatreëls is ook ingestel, soos ʼn geen besoekersbeleid.

By Athalia is die grootste behoefte tans aan kos, met vleis en droë proviand bo-aan die lys. Op mediese vlak is daar behoefte aan goed soos wondsorgmiddels en doeke vir volwassenes. “Ons smeer al ons bedlêende bejaardes met ʼn ou bekende boereraat naamlik Campher-room waarin een botteltjie Turlington gemeng is, dit is baie effektief om bedsere te voorkom. Ons kry dikwels inwoners terug van die hospitaal met bedsere, dan behandel ons hulle weer met heuning waarin Betadine-salf gemeng is. Die aankope van die produkte vra egter ekstra geld,” sê sy.

Coetzee het ook soms moedelose dae wanneer die emosies haar wil oorweldig. “Maar dan draai die Hemelse Vader weer die sluise van genade oop by Athalia,” sê sy. “Dan kry ek skaam en is ek so dankbaar om deel te wees van sy bediening.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Magda ·

ai – dis lekker om so iets te lees, verskriklik baie baie dankie vir alles wat julle doen vir die mense – GOD SEEN JOU

Michiel ·

M.H.B.
Baie dankie aan mense wat hulle bereid verklaar om help, baie dankie aan organisasies wat nog help.Daar is niks so broos soos oumense wat duer omstandighede buite hulle beheer op hulle oudag nie genoeg middele het vir self ondersteuning nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.