Bejaardes kry huppel in stap met dié projek

Helpende Hand se maatskaplike werkers bied die Seniors-in-aksie-program by die Noordpark-aftreegemeenskap in die noorde van Pretoria aan. (Foto: Verskaf)

Solidariteit Helpende Hand en Seniors Mind Moves (SMM) het saamgespan om ʼn program te ontwikkel wat vereensaming onder bejaardes wil voorkom, en só te sorg vir ʼn huppel in seniors se stap.

Helpende Hand werk sedert 2019 saam met SMM om die Seniors-in-aksie-program, wat pas vrygestel is, te ontwikkel.

Seniors-in-aksie is ʼn praktiese verpakking van SMM se navorsing, inligting en fisieke bewegingsoefeninge om bejaardes se brein helder, hul sintuie wakker en hul spiere sterk te hou.

“Internasionale navorsing wys daarop dat die brein nie soos ʼn enjin verslyt nie. Die brein bly dinamies mits jy dit gestimuleer hou. Stimulasie van die sintuie en spiere prikkel die brein en hou dit wawyd wakker,” sê dr. Melodie de Jager van die Mind Moves-instituut.

De Jager het omvattende navorsing gedoen oor biomimiek in die veld van neurowetenskap. SMM is een van vyf programme van die Mind Moves-instituut.

Sy verduidelik dat SMM ʼn praktiese en dinamiese program is om ouerword makliker te maak. Die praktiese benadering van SMM rus seniors toe om meer in beheer van hulself te voel en met meer selfvertroue met ander en hulle omgewing om te gaan. Geen spesiale toerusting is nodig nie, net ʼn gewillige hart wat wil leer hoe om die sintuie en spiere te stimuleer.

Benette Welman, projekorganiseerder van Seniors-in-aksie, sê die doel van hierdie program is om Helpende Hand se vrywilligers in staat te stel om ʼn prettige uurlange aanbieding in verskeie dorpe en stede vir seniors in tehuise of dienssentrums te doen.

“Helpende Hand se maatskaplike werkers in elke streek is reeds as fasiliteerders opgelei. Die maatskaplike werkers gaan op hulle beurt ons vrywilligers oplei en toerus met die nodige kennis om die program in hulle gemeenskappe aan te bied,” sê sy.

Volgens Christia Potgieter, hoof van maatskaplikewerkdienste by Helpende Hand, is bejaarde persone een van Helpende Hand se fokusgroepe.

“Ons navorsing het getoon dat seniors vereensaam en dat daar boonop min geleenthede vir hulle is om betrokke te raak by aktiwiteite wat hulle aktief en positief hou.”

Dit is ook vir Helpende Hand belangrik om met projekte te begin wat volhoubaar is en aandag aan spesifieke geïdentifiseerde behoeftes gee. “Daarom is ons opgewonde om ons Seniors-in-aksie-projek bekend te stel wat in hierdie behoeftes gaan voorsien,” sê Potgieter.

Dr. Elsha Hermann, Helpende Hand se hoof van maatskaplike ontwikkeling, meen dit is vir dié organisasie belangrik om Afrikaanse gemeenskappe op gestruktureerde wyse by te staan met sinvolle, volhoubare en opbouende programme.

“Seniors-in-aksie is ʼn mooi voorbeeld van ʼn program wat aan bejaardes weer sin en ʼn gevoel van gebondenheid gee en hulle aktief deel van die gemeenskap maak.

“Ons wil ouer mense weer bewus maak dat hulle jongmense met wysheid en lewenservaring kan bedien. Hulle is die wysgere van ons tyd,” sê Hermann.

Besoek Helpendehand.co.za/seniors-in-aksie vir meer inligting oor die program of om by die projek betrokke te raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.