Bejaardes ‘kry menswaardigheid terug’ deur gehoortoestelle

Bejaardes 1

Yentel Vorster van Impact Hearing help vir Hendrina Horgan met haar gehoortoestel. Foto: Verskaf

Solidariteit Helpende Hand het vandeesmaand weer ʼn groep behoeftige bejaardes se lewens ingrypend verander deur gratis gehoortoestelle aan hulle te skenk.

Dié groep hardhorende bejaardes moes almal gehoortoestelle kry, maar kon dit nie bekostig nie en beskik ook nie oor ʼn mediese fonds nie.

Impact Hearing skenk die gehoortoestelle, en deur hul samewerkingsooreenkoms met Helpende Hand spoor hulle behoeftiges op wat gehoortoestelle benodig. Impact Hearing doen ook die passings vir die gehoortoestelle gratis.

Solidariteit Helpende Hand het in 2015 begin om behoeftige bejaardes by te staan op hul pad na beter gehoor. Gedurende die drie jaar wat die projek reeds aan die gang is, is ongeveer 130 bejaardes al gehelp om vir die eerste keer in jare hul geliefdes se stemme te hoor.

Volgens René du Preez, projekorganiseerder by Helpende Hand, lê bejaardes dié organisasie na aan die hart. “Dit is ʼn geweldige voorreg vir Helpende Hand om weer vir bejaardes menswaardigheid en sosiale interaksie terug te kan gee. Sosiale isolasie deur gehoorverlies lei tot depressie, en kan ook baie keer tot ander siektes lei. Hierdie projek het ʼn baie positiewe invloed op bejaardes se lewens,” het Du Preez gesê.

Anthonie Burger, wat deur hierdie projek ʼn gehoortoestel ontvang het, het gesê sy gehoorprobleem het hom nie so erg gepla nie, maar dat sy vrou wel daaroor gekla het. “Ek sien uit daarna om weer met haar te skerts en met my familie te kan gesels,” het hy vertel.

Hendrina Horgan, nog ʼn ontvanger van ʼn gehoortoestel, het gesê sy sukkel veral met kommunikasie in raserige omgewings. “Ek is vol hoop dat my lewe voller en meer sosiaal sal wees,” het sy gesê.

Meer as 30 bejaardes het vanjaar al toestelle ontvang, en toetse word steeds gedoen. Daar word wel versoek dat bejaardes met eie vervoer na die toets moet kom, aangesien vervoer nie verskaf word nie.

Belangstellendes kan René du Preez by 012 644 4390 kontak, waarna ʼn aansoekvorm ingevul en ʼn afspraak gemaak sal word. ʼn E-pos kan ook aan [email protected] gestuur word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.