Bejaardes met rooi lippe en groot harte

help-hanna-parow

Die vroue van Parow-seniorsentrum het hulle steun aan die #HelpHanna-projek gegee deur geld vir die veldtog in te samel. Foto: Verskaf.

Rooi lippe is beswaarlik iets wat ʼn mens met ʼn senior burger verbind, nog minder sanitêre ware. Die vroue van die Parow-seniorsentrum in Parow, Kaapstad het egter heelhartig hulle ondersteuning vir die #HelpHanna-projek gewys deur hulle lippe helderrooi te maak en geld vir dié projek in te samel.

Die #HelpHanna-projek, wat sanitêre ware aan 3 700 behoeftige meisies oor die land bied, het in Augustus bewusmaking oor meisies se nood geskep deur die publiek aan te moedig om hulle lippe rooi te maak en foto’s op sosiale media te plaas.

“Ons wil graag mense laat besef dat meisies die reg het op gehalte-onderrig en nie weens ʼn tekort aan sanitêre ware skool moet misloop nie,” sê Michellé Burger, projekorganiseerder by Helpende Hand. “En meisies moenie skaam wees om daaroor te praat as hulle nie genoeg produkte het nie. Daarom het ons dit op sosiale media bemark met die rooi lippe-veldtog.”

Dit is juis hoe die bejaardes bewus geword het van die projek. Die personeel by die dienssentrum het op Facebook bewus geraak van die #HelpHanna-projek en besluit om betrokke te raak. Daar is tans 178 senior burgers wat betrokke is by die dienssentrum wat elke Vrydag ʼn aktiwiteit bywoon. Onder meer word daar uitgereik na minderbevoorregtes.

Volgens Annaleen Nel, bestuurder van die Parow-seniorsentrum, wil hulle deur die aktiwiteite seker maak dat bejaardes in pas bly met hulle gemeenskap. “Ons wil graag die publiek bewus maak dat bejaardes steeds betrokke in die gemeenskap is en wil wees. Ons wil graag teruggee aan die gemeenskap wat so baie vir ons gedoen het.”

  • Jy kan ook help om seker te maak meisies hoef nie skool mis te loop weens ʼn tekort aan sanitêre produkte nie. SMS die woord “helphanna” na 38969 en dra R10 by tot ʼn Hanna-pakkie wat help om meisies in die skool te hou. SMS kos R10. Vir meer inligting oor die projek en hoe om betrokke te raak en ook by die projek te baat, besoek helphanna.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Karma ·

Alles is goed en wel om minderbevooregtes te help, maar wat ek nie kan verstaan nie, is hoe die adolesente meisies kwansuis nie geld het om sanitêre produkte te koop nie, maar hulle het wel geld vir die grootste/duurste/beste selfone/I-pads en lugtyd/databondels ens. Wat kos ‘n pakkie sanitêre doekies? R30.00 of R40.00? En as hulle nou tuis bly wanneer hulle hul siklus het, wat doen hulle tuis? Sit hul hele dag op die toilet of op ‘n handdoek? Ag nee, dit is sommer bog dié! Dit is net nog ‘n verskoning om uit die skool te bly en alles verniet te kry!

Uvonka ·

O krisis ons gaan uitgehaal word Karma, maar ek is saam met jou op die een.

Marietjie Miles ·

Ek stem 100% saam. ‘n Klompie jare terug het ons betrokke geraak by ‘n kersparty vir minder bevoorregte kinders. Net hier het ek besef hoe minder bevoorreg ek eintlik is. Dit was net toe digitale kameras begin het en dat jy ‘n kamera in jou selfoon begin kry het. Hier staan die minder bevoorregte ouers en neem foto’s van die klomp kinders met kameras en selfone wat ons self nie eens besit het nie. En natuurlik rook hulle ook. So as jy minder bevoorreg is, is rook sekerlike die laaste behoefte op jou lys van behoeftes.

Tiaan ·

Hi Karma, die projek bied hulp aan behoeftige meisies, nie skat ryk meisies soos jy voorstel nie

Noxthefox ·

Stel volmondig saam.
Kyk na die skoene/sneakers/selfone/haarstyle/klere.
Laat hulle ouers opstaan ‘n slag en gaan werk.
Ophou in die son sit heeldag!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

HannelieW ·

Dis nie waar in alle gevalle nie. Baie kinders by baie skole het nie eers kos om te eet by hulle huise nie. Hulle het werklik nie die R40 vir sanitêre produkte nie. Selfs R1 is vir meeste van hulle baie geld. Dis in elk geval nie ‘n kind se skuld indien hulle ouers nie werk het nie/ te lui is om te werk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.