Bekende argitek se graf opgespoor

V.l.n.r. is Elizma Smith, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in die Kaap, Barry Müller, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in Gauteng en Juanine Kok, kultuuroganiseerder van die FAK, by Sytze Wierda se graf in die Woltemade-begraafplaas in Maitland naby Kaapstad. (Foto: Verskaf)

Terwyl lede van die FAK se noordelikevoorstede-kultuurnetwerk in die Kaap die graf van die Afrikaanse taalstryder, August Arhbeck, skoongemaak het, het hulle op die graf van ’n toonaangewende figuur in Suid-Afrikaanse argitektuur afgekom.

Sytze Wierda het ’n indrukwekkende rol gespeel in die skep van talle geboue, waaronder die Ou Raadsaal, die Paleis van Justisie op Kerkplein in Pretoria en die Paardekraal-monument.

Albei grafte is in die Woltemade-begraafplaas in Maitland naby Kaapstad, en die vonds is gemaak tydens ’n grafskoonmaakgeleentheid verlede week.

Twee dae voor die herdenking van Sytze Wierda se geboortedag op 28 Februarie, is sy graf deur hierdie einste grafskoonmakers opgespoor. Dit het bloot per toeval gebeur, maar die groep het hierna besluit om Wierda in die kollig te stel.

Hy is dalk op tuisbodem begrawe, maar hy is in 1839 in Hemrik in Friesland, ’n provinsie in Nederland, gebore.

Hier het hy sy grootwordjare deurgebring en homself as hoofopsigter gevestig in die tyd wat die Nederlandse spoorlyne gebou is.

Wierda het in 1887 die pos as staatsingenieur en -argitek van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) aanvaar. Hier was hy nie net verantwoordelik vir belangrike geboue nie, maar hy het ook die voortou in Suid-Afrikaanse vervoerinfrastruktuur geneem.

“Op die herdenking van Sytze Wierda se geboortedag het drie personeellede van die FAK sy graf besoek en blomme gelê vir die ‘Hoofd van Publieke Werken’ van die ZAR. Hy het ’n toonaangewende rol gespeel in die argitektuur van die ZAR in die 19de en vroeg 20ste eeue.

“Die feit dat sy waardevolste werke vandag verklaarde historiese gedenkwaardighede is, is ’n groot huldeblyk aan die vermoë van hierdie staatsingenieur en -argitek,” sê Elizma Smith, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in die Kaap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Louis

Is dit waar Wierdapark sy naam vandaan kry? Wonder maar net.

Diline

Dis baie interressant, ons leer nou baie van geskiedenis by julle terwyl julle so goeie daad verrig!