Jak de Priester se geliefde grasgroen 1977-Mini is onlangs vir ʼn koel R400 000 op ʼn veiling ten bate van die Caring Daisies-welsynsorganisasie verkoop.
De Priester vertel dié Mini, wat hy ʼn paar jaar gelede vir sowat R35 000 gekoop het, is eers deur WeBuyCars op die veiling gekoop vir R200 000. Die Mini is egter aan Caring Daisies teruggeskenk en daarna is dit weer opgeveil.
“Die einste klein, pragtige Mini het ʼn behoorlike liefdadigheidsgeskiedenis, want die persoon by wie ek die kar gekoop het, het dit weer op ʼn veiling ten bate van die Jakaranda Kinderhuis, in Pretoria, gekoop.” Die Mini het ook met ʼn bypassende waentjie gekom, wat De Priester saam met die kar geskenk het.
De Priester sê dat hy nog altyd met só ʼn karretjie wou ry, deels omdat hy sy lewe lank al droom om die soort tjor te besit en deels omdat hy ʼn groot aanhanger van die televisiekarakter Mr. Bean is. Dus is dié karretjie ook Mr. Green gedoop. “Ek het die kar eerder gery vir die mooiheid daarvan, as vir die gemak. Ek gaan die Mini baie mis, maar ek het darem baie mooi foto’s van die kar.”
Die karretjie, met 96 000 km op sy odometer, het al in verskeie van De Priester se bemarkingsmateriaal verskyn.
Hy vertel dat die Mini ook op sy jongste album, wat hy op 13 Februarie by die Atterbury-teater gaan bekendstel, se voorblad pronk. Op hierdie album, wat nog nie ʼn naam het nie, het hy ook spesiaal ʼn lied vir die Caring Daisies-organisasie geskryf. Die enkelsnit, “Liefdeslied”, sal ook met ʼn video wat deur die Caring Daisies vervaardig gaan word, spog.
Die liedjie, wat deur De Priester opgeneem is, pronk ook met die stemme van Pieter Smit, Pieter Koen en ander kunstenaars.
Die Mini is saam met ander items, soos laslappiekomberse, vakansiepakkette en kaartjies, ná die tennisstryd tussen Roger Federer en Rafael Nadal in Februarie by die Caring Daisies se jaarlikse geldinsameling en ook die organisasie se tiende herdenking opgeveil.
Anria van Heerden, die organisasie se bestuurder, sê die veiling het R4,5 miljoen vir die organisasie se projekte opgelewer. Die veiling is vanjaar by die Weiveld-venue in Pretoria-Oos gehou en deur sowat 460 mense bygewoon.
Van Heerden verduidelik dat Caring Daisies hulle beywer om enige liefdadigheidsprojekte aan te pak, hetsy dit hulp vir boere is wat tans onder die droogte gebukkend gaan, kinderhuise, mediese onkoste, of om maandelikse uitgawes en so meer te dek.
Intussen het Caring Daisies ook begin om geld vir boere in die droogtegeteisterde Karoo in te samel deur koekies te verkoop namens die boervroue in die omgewing. Die geld word dan weer aangewend om voer, mielies en ander behoeftes aan te koop. Van Heerden sê dat hulle al om en by 1 100 koekies in minder as ʼn week verkoop het. Die organisasie beoog om sowat 10 000 koekies te verkoop.
Vir meer inligting oor die werk wat Caring Daisies doen en om hulle te ondersteun, kan lesers gerus hul Facebook-blad of webwerf besoek.
Caring Daisies is baie baie goeie mense mag Here julle seen en verdien dit. Alles wat julle aan mede mense gedoen het. Caring Daisies het my gehelp borg vir kogeleer gehoorstuk Ek geniet dit en moeite werd en baie dankie en waardeer opreg vir groot geskenk sal julle nooit vergeet nie.
Caring Daisies is die beste organisasie ooit. Hulle het gehelp met my man se siekte. Ongelukkig is hy oorlede maar nooit het hulle verwag dat hulle naam GROOT gemaak word nie. Uiterse hart-mense wat net lof en seën verdien vir die wonderlike werk wat hulle doen. Baie dankie vir wat julle vir ons gedoen het.