Bekendes deel van SA Huweliksweek

Vaughn-en-Nerine-Gardner

Vaughn Gardner en sy vrou Nerine is ook ambassadeurs vir SA Huweliksweek 2015. Foto: Twitter.

SA Huweliksweek is om die draai en tientalle bekende Suid-Afrikaanse paartjies is reeds aan boord om as ambassadeurs vir dié veldtog op te tree. Gedurende 1 tot 7 September word die huwelik landwyd gevier en Suid-Afrikaners herinner aan hoe belangrik en relevant dié instelling steeds in 2015 is.

Die radiopersoonlikheid Happy Ngidi en haar man Armstrong sê: “Ons voel geëerd om ambassadeurs vir SA Huweliksweek te wees. Ons glo in die instelling van die huwelik en moedig paartjies aan om dié sprong in geloof te maak. Dit is nie ’n maklike reis vir enigiemand nie, maar dit is doenbaar. Die belangrikste is om mekaar se hande vas te hou en as eenheid saam te werk. Bid vir mekaar, behou geloof en hardloop dié resies soos net julle kan.”

Wynand en Lindi Delport, sangers van die groep Anders, meen hulle is deel van dié inisiatief omdat dit vir hulle belangrik is dat daar goeie voorbeelde van huwelike in die media is om na op te kyk. As getroude paartjie het hulle geleer dat om “jammer” te sê nie noodwendig beteken dat jy verkeerd was nie, maar dat jou huwelik meer vir jou beteken as ’n onbenulligheid.

Ook televisie-en-radiopersoonlikheid Rozanne McKenzie en Chris Bishop glo daarin om onenigheid nie te laat broei nie en om dinge eerder uit te sorteer. “Selfs as julle kwaad is vir mekaar, praat dit uit. Onthou, ’n gedeelde probleem maak ’n halwe probleem en ’n gedeelde vreugde is ’n dubbele vreugde!”

Al die ambassadeurs van Huweliksweek SA is dit eens dat dit belangrik is om die huwelik te sien as ’n viering. In die woorde van Thokozani en Bonolo Nkozi: “Die huwelik is steeds relevant in die 21ste eeu, so kom ons vier dit. Onthou om mekaar te aanvaar, lief te hê en te koester. Liefde is ’n wilsbesluit, nie ’n gevoel nie.”

Ook vir akteur Hykie en Melissa Berg is die huwelik ’n fees. “Dit is lekker om getroud te wees en om die reis van die lewe aan te pak met jou beste maat wat jy so aantreklik vind! Ons is nou maar twee jaar getroud, so dit is nie asof ons verskriklik baie wyshede het soos paartjies wat al 50 jaar getroud is nie, maar dit is waarheen ons mik en ons hoop om daar uit te kom. Ons voel geseënd om getroud te wees.” Enige raad van hul kant af? In die woorde van Hykie: “Hou net aan om jou vrou te soen, te druk en saam pret te hê. En lag baie!”

Ander bekendes en hul maats wat ambassadeurs van SA Huweliksweek is, sluit in Pierre Spies en Juanné, Pieter Koen en Lotie, en akteur Vaughn Gardner en vroulief Nerine. Ook, onder andere, James en Anel Alexander, Lloyd en Janice Cele, en Retief en Isabel Burger staan op vir huwelike in Suid-Afrika.

Jakkie en Anel Louw doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om deel te word van SA Huweliksweek: “Ons is trotse ambassadeurs vir Huweliksweek saam met die tydskrif Intiem. Dit is ’n positiewe veldtog in ons mal wêreld en ons nooi graag jong en ou getroude paartjies uit om saam met ons deel te raak van die inisiatief. Registreer op www.sahuweliksweek.co.za.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.