Bekendes span saam om epilepsielyer te verras

Ruben Scharneck (Foto: Facebook)

Die ouers van Ruben Scharneck, die seuntjie van Pretoria wat in 2017 op sesjarige ouderdom aan hoërisiko-neuroblastoom gesterf het, het besluit om Ruben se verjaardag Vrydag heel gepas met ʼn partytjie te vier – maar dié partytjie was vir ʼn leerder van die Nuwe Hoop Skool vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes.

Ruben se moedige stryd teen hoërisiko-neuroblastoom het mense reg oor Suid-Afrika se harte aangegryp. Hy het in sy kort tyd op aarde hom beywer om soveel van sy drome as moontlik te verwesenlik, insluitend om met gr. 1 te begin, om amptelik ʼn trotse Affie-seun te word en om sommer ook een dag as ʼn Tuks-student deur te bring.

Nadat Ruben op 25 Februarie 2017 oorlede is, het sy ouers, Marinda en André, besluit om die Hope4Ruben-veldtog, wat aanvanklik op die been gebring is om met die onkoste van Ruben se bestraling te help, voort te sit en daardeur ander kinders wat kankerlyers is by te staan. Marinda sê hulle het kragte saamgesnoer met Caring Daisies, ʼn organisasie wat die gesin tydens Ruben se behandeling ten nouste bygestaan het, en só kinders geïdentifiseer wat by die Hope4Ruben-fonds kan baat.

Só het hulle te hore gekom van Rohann Snyder, ʼn leerder van die Nuwe Hoop Skool in Pretoria wat aan erge epilepsie ly nadat ʼn breintumor voorheen by hom verwyder is. Volgens Scharneck het Rohann al verskeie kere by die dood omgedraai, maar is hy ʼn regte vegter wat telkens bo alle verwagtinge herstel het.

Rohann Snyder is ʼn geharde Blou Bul-ondersteuner en was verheug toe Duane Vermeulen en Jessie Kriel saam met die Blou Bulle se gelukbringer sy verjaarsdag saam met hom kom vier het. (Foto: Verskaf)

Toe Caring Daisies en Hope4Ruben hoor dat Snyder, ʼn geharde Blou Bul-aanhanger, binnekort 21 jaar oud word, het hulle besluit om hom te verras met die partytjie van sy drome. En wat ʼn partytjie was dit nie!

“Die partytjie is gister vir hom by Nuwe Hoop Skool gehou. Hy het van niks geweet nie. Pieter Smith, Dewald Wasserfall en Fatman was daar om vir hom te sing, terwyl Victor Matfield, Duane Vermeulen en Jesse Kriel ook kom saam kuier het. Selfs die Blou Bulle se gelukbringer was daar,” vertel Scharneck.

Herman Marx van Vibro Bricks, ‘n getroue ondersteuner van Hope4Ruben en Caring Daisies, het weereens hier ook bygedra deur ‘n donasie te gee om die klankingenieur en ander kostes te betaal.

“Toe ons daardie deure oopgooi en Rohann sien wat vir hom wag, kon hy nie ophou glimlag nie. Daar is gehuil en gelag en gedans. Dit was ongelooflik. En Rohann het sommer van die geleentheid gebruik gemaak om nou mooi vir Victor Matfield te verduidelik hoe hy moet rugby speel!”

Die ander Nuwe Hoop-leerders het ook die kuier saam met die bekendes geniet en is met heerlike versnaperinge bederf.

Scharneck sê dit is vir haar ʼn voorreg om Ruben se nalatenskap te laat voortleef deur ander te help en gesinne te ondersteun wat deur soortgelyke situasies gaan as waardeur hulle is. “Dit is party keer moeilik as ons vir die kindertjies by die hospitale gaan kuier en vir hulle persentjies vat, dit vat maar aan ʼn mens. Maar dit is ook goed om te sien dat hierdie aaklige ding nie net met ons gebeur het nie. Daar is honderde ander ouers en kindertjies wat dieselfde deurmaak. En ons glo regtig dat dit is wat Ruben sou wou gehad het ons moet doen.”

Die span van Caring Daisies, Hope4Ruben en verskeie bekendes wat saamgespan het om Rohann Snyder se dag spesiaal te maak. (Foto: Verskaf)

Maroela Media het vroeër berig Ruben is in 2014 met hoë-risiko neuroblastoma gediagnoseer en het 100 dae van chemoterapie ondergaan. Hoewel die uitslae positief gelyk het, was die Scharnecks platgeslaan toe dit blyk dat die kanker in Junie 2015 weer versprei het. Hoewel hy selfs nie-tradisionele kankerbehandeling uit Australië ontvang het én in Januarie 2016 weer ʼn groot operasie ondergaan het om al die gewasse te verwyder, was Ruben steeds nie buite lewensgevaar nie.

Van die gewasse was vas aan die aorta en dokters kon dit nie verwyder nie. Nóg ʼn reeks chemoterapie het gevolg, maar dit was nie suksesvol nie. Ruben se neuroblastoma was metastaties en daar was niks wat dokters meer vir hom kon doen nie. Marinda het net daar besluit om dit haar lewenstaak te maak om te sorg dat Ruben sy lewe voluit leef solank as wat hy kon.

“Dit gaan maar op en af,” antwoord Scharneck op ʼn vraag hoe dit met gesin gaan ná Ruben se dood. “Een dag is ons oukei, die volgende dag kom die hartseer weer. Ek dink nie jy raak ooit gewond daaraan nie. Elke dag wat ek wakker word, tref dit my weer soos ʼn vuishou in die maag: Ruben is dood. Maar jy leer om te leef met hierdie nuwe normaal,” sê sy.

Ruben Scharneck toe hy amptelik ‘n Affie-seun geword het. (Foto: Maroela Media)

“Die huis is soveel stiller, want daar is nie meer hierdie klein rakker wat hier rondhardloop en moeilikheid maak nie. Maar dit help nie jy sit in sak en as nie. Jy moet aangaan. Ons het nog ʼn kind na wie ons moet omsien. Ek dink Rossouw is ons behoud. Ons moet nog daar wees vir hom. Ja, soms raak ʼn mens kwaad en jy wonder hoekom moes dit met jou kind gebeur, maar dan dink ek weer ek wil ook nie hê dit moet met iemand anders se kind gebeur nie. Party keer wens ek ek kan net wakker word uit hierdie nare droom.”

Marinda sê dit is tog die dinge soos Rohann se partytjie wat die las van Ruben se dood ligter maak. “Om daar te sit en te sien hoe gelukkig hierdie kinders is en hoe hulle lag en dans asof hulle nie ʼn bekommernis in die wêreld het nie. Al hierdie kinders en hul ouers moet groot uitdagings trotseer, maar dit keer hulle nie om net gelukkig te wees nie. Dit maak ons harte sagter om te weet ons kan nou ʼn verskil in ander se lewens maak. Dit is vir ons genoeg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Maria ·

AAN BULLE en spesial aan span Caring Daisies het my geborg vir kongeleer inplanting mag julle werke geseen wees en baie dankie vir groot harte xxx

Ansie ·

Ek is Rohann se tannie en ek was daar om te beleef hoe almal van julle sy daggie so spesiaal gemaak het. Julle is amazing baie dankie vir al die bydraes en opofferings. Julle sal geseend bly. En aan Ruben se ouers dankie is n klein woord wat baie dankbaarheid beskryf ek gli hy was daar. Baie dankie

GRIET ·

?? sommer ñ groot knop ini keel! ?
DANKIE aan almal en veral die amazing SPORTMANSGEES VANI BULLS ??

Mads ·

So mooi storie. Ek sommer in trane.

Sterkte liewe Rohann

Bid vir jou.

Lou ·

Die Blou Bul geluk bringer (mascot) se naam is Bulletjie Loftus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.