Beroepsbakker se donasiestasie help krisissentrum

Honderde mense het kos kom aflewer (Foto: Facebook)

Melanie Opperman van Magalieskruin in Pretoria het onlangs besluit om vanjaar eerder hulp as geskenke vir haar verjaarsdag te vra.

Melanie het vroeër aan Maroela Media vertel hoe dit al amper ʼn tradisie is dat haar 14-jarige dogter Améli jaarliks vir haar verjaarsdag eerder vir haar vriende vra om donasies te maak vir die diereskuiling Wollies, eerder as om vir haar geskenke te bring.

Melanie het vanjaar haar dogter se voorbeeld gevolg omdat dit op haar hart gelê het om mense te help wat as gevolg van die Covid-19-pandemie swaarkry.

“Ek wou vir my verjaarsdag iets gaaf vir mense doen, want mens sien en lees deesdae so baie van mense wat swaarkry en wat nie geld het nie as gevolg van die koronavirus,” sê sy.

Melanie gee vir iemand ‘n boksie kolwyntjies aan (Foto: Facebook)

Melanie, wat ʼn beroepsbakker is, het besluit om ʼn deurry-donasiestasie by haar huis op te rig en sy het begin kolwyntjies bak sodat sy vir elke mens wat ʼn donasie maak, ʼn boksie kolwyntjies kon gee.

Sy het ʼn plasing op Facebook gedoen oor wat sy beplan, en voor sy haar oë kon uitvee, het honderde mense gesê hulle gaan kom.

“My senuwees was op elke keer as ek sien daar is meer en meer mense wat wil deelneem. Want dit beteken ek moet meer en meer kolwyntjies bak! Ek wou nie graag hê iemand moet ʼn donasie maak en dan nie kolwyntjies kry nie.”

Melanie se deurry-donasiestasie het so bekend geword dat sy later meer as 800 kolwyntjies gebak en geruil het.

Honderde mense het kos kom aflewer (Foto: Facebook)

“Daardie dag was dol. My straat het soos die N1 gelyk van karre wat donasies aflewer, kolwyntjies optel, en dan weer ry. Dit het so gegaan van 11:00 die oggend tot 17:00 die aand.”

Melanie het 466 blikkies kos, meer as R10 000 in kontant, dierekos, badgoed, komberse, boeke, klere, maskers en nog meer ingesamel. Sy het al die donasies vir die Sinoville-krisissentrum geskenk om vandaar te versprei.

Melanie sê sy is verstom deur mense se goedhartigheid en dat sy nie gedink het daar gaan so baie mense opdaag nie.

Honderde mense het kos kom aflewer (Foto: Facebook)

“Ek is net dankbaar dat mense dit ondersteun het. Ek dink altyd mense wíl graag help, maar hulle weet nie vir wie of waar nie. So as mens ʼn geleentheid maak dan help hulle graag.

“Ek is eintlik maar net ʼn huis-mamma. Dit was net ʼn idee, en op die einde is dit net die Here en die mense wat dit laat werk het. Ek kon duisende kolwyntjies daar neergesit het, maar as niemand gekom het nie dan sou dit nie kon werk nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae