Beroepshoop vir verstandelik gestremde skoolverlaters danksy projek

Foto ter illustrasie. (Foto: Andres Ayrton/Pexels)

Mense met verstandelike gestremdhede word dikwels onsigbaar en uit die samelewing gehou, maar daar ís hoop én ʼn plek vir baie van hulle buite versorgingsgeriewe en binne die werksplek.

Daarom het dr. Marietha Malan as gesoute onderwyseres in onderwys vir leerders met spesiale behoeftes en as ouer van twee kinders met gestremdhede besluit dat dié gemeenskap nie meer bejammer nie, maar eerder bemagtig moet word.

Malan (61), ʼn onderwyseres by Alma Skool vir leerders met verstandelike gestremdhede in Pretoria, het onlangs ʼn loodsprojek van stapel gestuur wat skoolverlaters by dié skool sal toerus om suksesvol en op ʼn volhoubare wyse die werksplek te betree.

Dié inisiatief spruit uit navorsing vir haar doktorsgraad – wat handel oor jongmense met verstandelike gestremdhede se sprong van die skoolomgewing na die samelewing – en word deur ʼn ervare multidissiplinêre span by Alma Skool gefasiliteer.

“Daar moet ʼn paradigmaskuif gemaak word wanneer daar oor mense met verstandelike gestremdhede gepraat word. Die harde realiteit is dat daar nie altyd planne of programme in plek is om dié skoolverlaters in Suid-Afrika te ondersteun nie en dat hulle dikwels as  ʼn minderwaardige soort mens gesien word,” sê Malan.

“Die meeste ouers wil soos enige ouer die beste vir hul kind gee en hulle meer probeer bied, maar beskermde werkswinkels is skaars en vol en die meeste sorgplekke te duur vir ouers wat reeds baie finansiële uitdagings het.

“Baie ouers word oorweldig en weet nie waar om te begin om toepaslike sorg of werksplekke te kry na skool nie. Dit laat baie van hierdie gestremdes weerloos vir misbruik en op lang termyn beland sommige van hulle selfs op straat weens maatskaplike probleme of eenvoudig omdat daar nie langtermynoplossings is vir wanneer ouers wegval of self nie meer die vermoë het om die persoon te versorg nie. ”

Sy verduidelik dat mense met verstandelike gestremdheid almal oor dieselfde kam geskeer word en dat hul vaardighede en vermoëns meestal onderskat word. Dít ondanks die feit dat die spektrum vermoëns van persone met verstandelike gestremdheid hemelsbreed is en daar baie mense uit dié gemeenskap is wat ʼn produktiewe rol in die samelewing en veral die werksomgewing kan speel.

Hoe werk die program?

“Take wat baie mense as benede hulle sien, soos rakke pak, vee of papiere snipper is juis die tipe werk wat perfek vir ons leerders is omdat dit herhalend is en hulle nie daarvan verveeld sal raak nie,” verduidelik Malan.

Haar program behels die plasing van skoolverlaters van die skool by werksplekke in hul nabye omgewing, aanvanklik net vir werkservaring en later, indien moontlik, vir voltydse aanstelling.

Dr. Marietha Malan. (Foto: Verskaf)

Sy verduidelik dat die kerndoelwitte van dié program ook ooreenstem met die hooftemas uit haar studies, naamlik menswaardigheid, bemagtiging vir selfstandigheid en insluiting in die samelewing.

Tans word leerders van 18 jaar en ouer by die program betrek, maar volgens Malan is die plan om hulle reeds van 16 jaar af die basiese praktiese vaardighede te begin leer wat hulle nie noodwendig tuis leer nie, maar wat hulle later in die werksplek of in die samelewing sal help, byvoorbeeld om geld te leer trek by ʼn OTM of inkopies te doen.

Sy verduidelik dat die program juis “leerdergesentreerd” is en dat die kind se eie belangstellings en passies die beginpunt van die proses is. Sy benadruk dat die ouers ook by elke fase betrek word.

Omdat die meeste jongmense met verstandelike gestremdheid nie goed kan lees nie, het Malan ʼn visuele vraelys opgestel sodat die jonges kan verduidelik waar hulle graag sal wil werk. Die opsies sluit belangstellingsvelde soos diere, kinders, kos, skoonheid en die buitelewe in. Die ouers moet ook bevestig of die kind se keuse wel met sy belangstellings ooreenstem en dan word ʼn werksplek geïdentifiseer.

Malan verduidelik dat baie van dié leerders se ouers nie die tyd of vermoë het om hulle daagliks rond te ry nie. Skoolvervoer is ook net ʼn tydelike oplossing en dít is die rede waarom soortgelyke inisiatiewe by ander skole al in die verlede misluk het.

“Baie skole sal leerders aanvanklik in só program bystaan, hetsy met werkplasing of vervoer, maar sodra hulle die skool verlaat en nie meer toegang tot daardie hulpbronne het nie, val alles deur die mat. Hoewel ons skool die proses in die begin fasiliteer, wil ons uiteindelik hê dat die leerders al hoe minder op ons moet staatmaak. Dit is baie belangrik dat leerlinge ʼn werk naby hul huis kry en self daar moet kan uitkom.”

Die program word tans hoofsaaklik ook by kleiner ondernemings uitgerol omdat groot winkels of kantore oorweldigend vir verstandelik gestremdes kan wees.

Werksplekke is nie vir opleiding verantwoordelik

Die onus rus ook nie op die werksplek om die leerder op te lei nie.

Wanneer ʼn sakeonderneming instem om die leerder te akkommodeer, word ʼn werkafrigter as deel van die program aan die leerder toegeken. Dié persoon is die middelman tussen die werkgewer, die leerder se ouers en die skool en help om hom of haar by die werk op te lei.

Die werkafrigter gaan in die begin ook saam met die leerder werk toe om hulle stelselmatig aan die werksomgewing gewoond te maak en te help totdat die take deeglik en korrek uitgevoer word. Hy of sy gee ook deurlopende terugvoer aan die skool en ouers en hanteer enige moontlike uitdagings met die werkgewer. Hulle is dus die hoofkontakpersoon tussen die leerder en sy werkgewer.

“Besighede het nie tyd of vaardighede om mense met gestremdhede op te lei nie en die leerder se eie ouers het ook nie noodwendig die tyd of vermoë om hulle te help nie en kan dalk oorbeskermend wees,” verduidelik Malan.

Tans is die meeste werkafrigters wat by die program betrokke is afgetrede onderwysers of ouers van ander leerders wat bereid is om te help.

Hoe werk die befondsing?

Malan verduidelik dat die werkafrigters ʼn toelaag ontvang, maar daar gedurig ander onverwagse onkoste opduik. Daar is veral ʼn deurlopende behoefte aan bykomende opleiding vir leerlinge wat deel van die werkplasingprogram is. Malan vertel daar is byvoorbeeld ʼn leerling wat aangedui het dat hy ʼn Uber-drywer wil word en fisiek in staat is om dit te doen, maar ʼn bestuurslisensie moet kry, wat koste impliseer. ʼn Ander leerling wil graag basiese geletterdheidsklasse bywoon omdat sy by ʼn kleuterskool werk. Nog een, wat reeds ʼn werkplekkie gekry het, kan baat by ʼn fiets omdat die werkplek effens ver is om te stap.

“Baie van ons leerlinge se ouers is afhanklik van hul kind se maandelikse sorgafhanklikheidstoelaag en kan skaars skoolgeld of verdere mediese sorg bekostig; so daar is eenvoudig nie fondse vir ekstra opleiding of vervoeruitdagings vir hul kinders nie,” sê Malan.

Ondanks die finansiële uitdagings, blyk die loodsprojek reeds ʼn sukses te wees. Uit die 34 skoolverlaters wat tans by Alma Skool is, is 10 reeds deur die skool en twee deur hul ouers suksesvol in werksplekke soos kwekerye, diereskuilings, koffiewinkels en kleuterskole geplaas.

Malan se droom is dat sy deur dié projek ʼn bloudruk kan skep wat by soortgelyke skole en geriewe landswyd ingestel kan word.

Sy meen dit kan mense se siening van persone met verstandelike gestremdhede verander en sal voordelig vir die leerling én hul werksplek se beeld wees.

“Dink hoe dit moet wees om jou hele lewe lank afhanklik van iemand te wees, om versorg te moet word en net onbenullige takies te hê om jou mee besig te hou. Om dan eerder na ʼn werksomgewing toe te gaan waar jy soos ʼn kollega gegroet en soos enige ander medemens hanteer word, sal hierdie jongmense se menswaardigheid herstel.”

Om meer oor dié projek uit te vind kontak Marietha Malan by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.