Beskerm jou vierpotiges só teen die koue

DBV Tshwane (Foto: Verskaf)

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) van Tshwane het ’n dringende beroep op die publiek gedoen om hulle troeteldiere dié winter teen die koue te beskerm.

Groot dele van die land het die afgelope ruk onder verskeie kouefronte gebuk gegaan, met nagtemperature wat op sommige plekke selfs onder 0 °C geduik het. Volgens Elsa Daniels, woordvoerder van die DBV Tshwane, moet troeteldiereienaars bewus wees van die vele gesondheidsrisiko’s wat die koue vir vierpotiges kan inhou.

“Nie net moet ons ons troeteldiere teen die koue wintersmaande beskerm nie, maar vee soos donkies en perde se behoeftes moet ook in ag geneem word,” sê Daniels.

Dit is belangrik om eerder oorversigtig te wees as dit by jou geliefde troeteldier kom, meen sy.

Dr. Floris Kruger, DBV Tshwane se veearts, het dié handige wenke met troeteldiereienaars gedeel:

Inenting

Met die koue lug wat jou vierpotiges inasem, loop hulle die risiko om brongitis te ontwikkel.

Maak seker jou hond is teen hondehokhoes ingeënt met die gewone vyf-in-een-entstof.

Beskerm jou vierpotiges só teen die koue (Foto: Verskaf)

Raadpleeg jou veearts

Koue weer kan artritis in gewrigte vererger. Simptome dat jou dier dalk met artritis sukkel, is as die dier stadig opstaan nadat hulle ’n rukkie gelê het of sukkel om op rusbanke of beddens te spring of om by trappe op te kom.

Raadpleeg jou veearts so gou as moontlik as jy enigsins vermoed dat jou troeteldier artritis het aangesien dit ’n pynlike toestand is wat slegs deur ’n veearts behandel kan word.

Warm skuiling

Moet nie jou troeteldier buite in die koue nag laat sonder behoorlike, warm skuiling nie. Alle diere jonger as een jaar, ongeag die ras, moet tydens die wintersmaande binnenshuis gehou word.

Honderasse met dik pelse, soos onder andere Huskies, St. Bernards, Chow’s en skaaphonde, verkies dalk om gedurende die nag buite te bly. Gee hulle die opsie om binnenshuis te slaap vir die aand.

Honderasse met dunner hare soos Yorkies, Pekinese, Doberman Pinchers en Toy Poms, moet veral warm gehou word teen die ysige weer. Skaf vir jou vierpotige ’n warm jassie of truitjie aan indien hulle nie self oor ’n natuurlike jassie beskik nie.

Isoleer jou vierpotige teen die koue deur koerante onder die komberse te plaas om beskerming te bied teen die koue vloer.

Die kanse is goed dat jou troeteldier in die winter meer tyd binnenshuis deurbring. Maak seker jou huis is diere-vriendelik. Wees veral versigtig met die gebruik van verwarmers in jou troeteldier se teenwoordigheid omdat hulle hulself kan brand of hulle dit kan omstamp.

Beskerm jou vierpotiges só teen die koue (Foto: Verskaf)

Rig jou hondehok in

Volgens Karen Gelderblom, hondehokbestuurder van die DBV Tshwane se Waltloo-tak, help dit ook om die houthondehokke teen die koue te isoleer deur stukke mat binne die hok se vloer te plaas.

Isoleer die hondehok teen die koue wind deur dit op ’n stoep of patio te plaas eerder as buite in die tuin. Maak ook seker dat die deur van die hondehok in ’n rigting weg van die koue wind geplaas word.

Maak seker jou hond se slaapplek is droog en bedek dit met ekstra komberse. Verander die komberse gereeld om ’n warm, droë slaapplek vir jou hond te verseker.

Voorsorgmaatreëls vir katte

Tref voorsorgmaatreëls om te verhoed dat jou kat moet uitgaan in die koue.

Maak seker jou kat het ten alle tye ’n skoon sandboks binne die huis. Indien jou kat nie toegang het tot ’n sandboks binnenshuis nie, kan die risiko ontstaan dat die kat blaasinfeksie sal ontwikkel omdat katte nie sommer sal uitgaan in die koue nie.

In huishoudings waar daar meer as een kat is, maak seker daar is meer as een sandboks wat die katte kan gebruik. Die sandbokse moet ook in verskillende kamers geplaas word en ook nie naby hulle kos nie aangesien katte baie territoriaal is en bedreig kan voel as al die sandbokse op dieselfde plek is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Stem ·

Ja shame, die ou diertjies wat so koud kry in die winter. Ons is regtig groot diere liefhebbers, en al ons honde het ‘n plekkie in die huis. Van hulle slaap by ons op die bed, wat nogal ‘n gespook met die komberse kan afgee.

Pet friendly ·

My honde slaap ook binne maar as ek weg is sit ek vir hulle ‘n rooi lig in hulle hok wat dit baie lekker warm maak

Nunu se mamma ·

Verhitte boontjiesakkies of koringsakkies bring ook baie verligting vir kleiner rasse sowel as ouer honde met jig. My hart gaan uit na veral die kleiner hondekinders in hierdie koue.

Lea ·

Ons boerboel slaap in die huis op sy eie enkel matras met elektriese kombers in die winter. Hy love dit! Dit het ons vorige ou hond baie gehelp met artritis in die winter maande.

Sommer net ekke ·

My bure se twee woefies slaap in hierdie koue buite, sien geen warm hokkie of geen warm komberse vir die twee nie, as die man by die huis stop in die aande, nog voor hy uit sy voertuig geklim het, skreeu hy al, “gaan lê” daardie twee honde ken nie van liefde, aanraking of warm slaap plek nie! Hoor hulle gee wel water en gooi pellets in bak. Hierdie soort van mense moenie diere hê nie!

Heidi ·

Aggenee! Moet DBV of Paws nie besoek gaan afle nie? Naamlose tip los?

WIEBO ·

My “landlord” se 2 pekinese hondjies slaap buite sonder jassies aan. Ek kry hulle sooo jammer in die koue. Kan ek hulle aangee by die DBV?

Adri ·

‘n Hond is ons getrouste vriend maar min mense verstaan dit.

Penellope Jones ·

Het twee honde kinders en hulle slaap in die huis.
Daar is nie ‘n manier dat ons hulle buite sal laat slaap, spesifiek in hierdie sneeukoue nie.
Hulle kan nie vir hulself veg nie.

Lexi ·

Stem 100% saam; kyk na jou diere! hulle kry ook koud! andersins, moenie diere aanhou nie.

Lizelda ·

Stem 100% saam. My pittbul staffie X slaap saam met sy ma onder d vere duvet en d katte by my seun. Deur d dag ook id huis of buite id sonnetjie nes hulle verkies.????

Elizabeth ·

ag nee. dis verskriklik, n hond moet n hok he, honde is sos jou familie. Hul moet ook n kombers he om hul teen die koue te beskerm. Dit is dieremishandeling om n dier te laatr swaarkry. Ek het al by baie huise verby gery dan sien ek die hond le styf teen die muur, daar is geen hok, niks. Ek dink nie n hond is daar slegs om die huis op te pas nie. Ek glo hulle kan depressief raak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.