Bestellings stroom in vir sesjarige se eerste boek

Maya Enslin met die gedrukte eksemplare van haar boekie, 'Die verlore teddie'. (Foto: Verskaf)

Maya Enslin met die gedrukte eksemplare van haar boekie, ‘Die verlore teddie’. (Foto: Verskaf)

Maya Enslin, die sesjarige skrywertjie van Kaapstad, se eerste kinderboekie, Die verlore teddie, het reeds soveel belangstelling uitgelok dat sy met 300 bestellings én ʼn illustreerder kan spog.

Só vertel Maya se pa, Stefan Enslin, die bekende draaiboekskrywer en rolprentmaker van flieks soos Nul is nie niks nie, Strikdas en Liewe Kersfeesvader, oor sy dogtertjie se eerste skrywerspoging.

Klein Maya moes vinnig ʼn plan beraam om geld vir ʼn Lego-blokkiestel, wat haar oë in die winkelsentrum laat blink het, in die hande te kry. Sy het blitsvinnig haar storievertellersgene daarvoor ingespan en ʼn kinderboekie van ses bladsye het die lig gesien.

“Ek het aanvanklik sommer die prentjies vir die boekie van die internet af gekry en die boekies op die drukker by die huis gedruk, want dit was veronderstel om net ʼn klein projekkie te wees wat vir haar ʼn paar rand kon inbring vir die Lego-stel,” vertel Enslin aan Maroela Media.

“Nadat ek ʼn grap op my Facebook-blad gemaak het dat mense bestellings vir die boekie kan plaas en die media oor die boekie begin berig het, het die bestellings begin inrol, soveel so dat ek en my vrou, Louise, genoop is om kwotasies by drukkers te kry om die boekie vir ons te druk.”

Die nuwe voorblad van 'Die verlore teddie', soos geïllustreer deur Simon Venter. (Foto: Verskaf)

Die nuwe voorblad van ‘Die verlore teddie’, soos geïllustreer deur Simon Venter. (Foto: Verskaf)

Hy vertel dat ʼn privaat persoon hom gekontak het en aangebied het om die koste vir die druk van die boekie sowel as ʼn gedeelte van die koerierkoste te dek.

“Dit was oorweldigend. Ons het toe besluit om slegs 300 boekies vir eers te druk sodat ons die boekies steeds teen slegs R5 elk kan verkoop,” sê Enslin.

Dié 300 boekies is deur onder meer boekwinkels en biblioteke bestel. “Ons moes toe noodgedwonge die prentjies in die boek verander, omdat die internetprentjies kopiereg op het. My kollega, Jacques Venter, se negejarige seun is verskriklik kreatief en ons het hom genader om al die prentjies in die boek vir ons te illustreer.”

Dié negejarige, Simon Venter, verdien nou R2 vir elke boekie wat Maya verkoop. Simon en Maya het ook besluit om voortaan saam te werk aan nog boekies wat sy beoog om te skryf.

Hy vertel Maya het reeds ʼn volgende boekie in die pyplyn, wat handel oor ʼn perdjie met ʼn ouer boetie en sussie wat nie met hom wil speel nie. Dié perdjie gewaar ʼn eensame donkie wat ook nie maats het nie, en bevriend hom dan en later speel die eendjies en ander plaasdiere ook saam.

“Vir haar is dit net ʼn storie, maar ek sien soveel meer waarde daarin. Dit vertel die storie van verdraagsaamheid en vriendskap en as ons almal mekaar net kan aanvaar, ons ʼn baie gelukkiger plaas sal hê op die einde van die dag,” sê Enslin.

“Ek probeer nou kyk of ek ʼn uitgewer vir die tweetjies kan kry, maar in dié stadium lyk dit of ons net eers self die boekies gaan probeer druk en verkoop. Die koste per boekie sal uiteindelik meer moet raak, maar vir nou is dit steeds net R5.”

Maya Enslin met die eerste weergawe van haar kinderboekie, 'Die verlore teddie'. (Foto: Verskaf)

Maya Enslin met die eerste weergawe van haar kinderboekie, ‘Die verlore teddie’. (Foto: Verskaf)

Hy voeg by dat Maya glad nie die omvang verstaan van die impak wat Die verlore teddie reeds het nie. “Sy het nog steeds nie haar Lego-stel nie, omdat die spesifieke een wat sy wou hê reeds uitverkoop is. Sy kom wel agter dat, met die geld wat sy nou met die boekies verdien, haar opsies vir dit wat sy kan aankoop soveel groter is. Ek hou daarvan dat sy besef sy kan nou groter dink.”

Maya het ook reeds oor Die verlore teddie op Radio Tygerberg se Boekrak-program gesels en voer ook binnekort ʼn onderhoud met GrootFM se Die Groot Ontbyt-program.

“Ek het aan haar verduidelik sy gaan daardie dag ʼn bietjie laat wees vir skool. Sy wou egter net by my weet of sy nog steeds betyds gaan wees vir pouse,” lag hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

MarieM ·

Liesl, mens moet eers kruip voor mens begin loop. Ek dink haar ouers doen die regte ding om so “klein en goedkoop” te begin.

NET EK ·

Aitsa ek weet die ouers is baie trots op haar! Baie oulike idee van die dogter nogals op so jong ouderdom. Ek stem verkoop die boekie vir meer as R5.00. Stertke vir nog boeke ……

wielie ·

Pragtige kind met n wonderlike idee …. en R5 kan almal nou n boekie bekostig! Ook selfs een koop vir n maatjie as geskenkie … Ons sien uit om nog Afrikaanse boekies vir kinders deur kinders te sien !! Maak mens se hart trots

Charles ·

Ag wonderlik, dankie klein Maya!
Daar le beslis ‘n wonderlike toekoms vir ons pragtaal voor met sulke talent, kreatiwiteit en entrepeneurskap; en ‘n blink toekoms as skryweres wag op die jong dametjie!!
Doe zo voort!

Charles ·

Geluk aan klein Simon ook wat sy talente op so ‘n mooi manier aan die wereld bekendmaak.
Doen so voort!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.