Beter verbruikersbeskerming vir kredietlewensversekering

art-1867904_1280Verbruikers wat aansoek doen vir krediet steur hulle gewoonlik nie veel aan die bedrag wat hulle moet betaal vir kredietlewensversekering nie. Dis gewoonlik nie ʼn groot bedrag nie en jy kan jou eie lewensversekering gebruik, maar as jy haastig is vir die krediet, is dit makliker om sommer ja te sê vir die maatskappy se eie kredietlewensversekering. Baie verbruikers het egter begin kla dat hulle uitgebuit word en verskeie maatskappye is vasgevat omdat hulle dit verkoop aan mense wat nie daarvoor kwalifiseer nie. Gewetenlose kredietverskaffers se dae is egter getel nadat nuwe regulasies oor kredeitlewensversekering gepubliseer is. Ina Opperman verduidelik hoe jou regte nou beter beskerm word.

Die minister van handel en nywerheid het verlede week die finale regulasies oor kredietlewensversekering, wat in terme van artikel 171 van die Nasionale Kredietwet gemaak is, in die Staatskoerant gepubliseer. Dit word oor ses maande van krag.

Kredietlewensversekering dek jou skuld in geval jy sterf, of ongeskik raak om te werk en jou inkomste verloor. Statistieke wys egter dat omtrent net 20 persent van eise uitbetaal word, vergeleke met die aantal premies wat betaal word, heel moontlik omdat min mense bewus is daarvan dat hulle dit in die eerste plek het.

Die finale regulasies het ʼn lang pad geloop sedert ʼn paneel dit in 2007 begin ondersoek het. Die Nasionale Tesourie het in 2014 sy verslag oor die verbruikerskredietmark gepubliseer, met sestien aanbevelings om die bedryf te reguleer. Die konsepregulasies is verlede jaar vir kommentaar gepusliseer.

Beperking op koste

Die regulasies beperk die bedrag wat jy kan betaal vir kredietlewensversekering volgens die soort kredietooreenkoms. Jy mag nie meer as R4.50 per R1 000 se dekking betaal vir alle kredietooreenkomste, behalwe huislenings en bekostigbare-huislenings, nie. Daar is na berig word maatskappye wat tans tot R8,75 per R1 000 hef. Indien jou premie afhang van die balans van die krediet, moet dit dan ook maandeliks verminder word soos jy jou lening afbetaal. Vir huislenings mag jy nie meer as R2 per R1 000 se dekking betaal nie.

Betaal net vir wat jy kry

Volgens die regulasies moet jy net betaal vir die dekking wat jy kry. Die kredietverskaffer kan jou byvoorbeeld nie laat betaal vir afleggingsdekking as jy nie werk het nie. Hierdie bepaling is veral belangrik vir mense wat staatstoelaes of pensioene kry, wat tot nou toe dikwels betaal het vir iets soos afleggingsdekking, waarvoor hulle nie kon eis nie, omdat hulle om mee te begin, nie werk nie. Daar was selfs ʼn maatskappy wat ongeskiktheidsdekking aan pensioenarisse verkoop het, wat uiteraard nie kon eis nie omdat hulle nie meer werk nie.

Minimum voordele

Die regulasies bepaal dat die dekking wat kredietlewensverskering bied voorsiening moet maak vir die betaling van die hele bedrag wat jy skuld indien jy sterf of nie meer kan werk nie. As jy net tydelik nie kan werk nie, moet die voordele jou maandelikse paaiemente dek vir twaalf maande of die aantal maande wat nog oor is, tensy jy vroeër weer kan werk. Indien jy om enige ander rede nie ʼn inkomste kan verdien nie, geld dieselfde bepaling.

Uitsluitings

Kredietlewensversekering mag volgens die regulasies dekking uitsluit of beperk, maar net in omstandighede wat in die regulasies uiteengesit word. Alkoholmisbruik, dwelmmisbruik, selfbesering, selfdood, aktiewe deelname aan oorlog of oorlogverwante operasies, burgeroorlog of burgerlike oproer, deelname aan misdadige optrede, deelname aan gevaarlike optrede soos rekspring en die gebruik van kern-, biologiese of chemiese wapens as oorsaak van dood of ongeskiktheid, kan uitgesluit word.

Dekking vir aflegging of afdanking kan uitgesluit word in die eerste drie maande van die kredietooreenkoms indien die ooreenkoms langer as ses maande duur. Jou dekking kan ook beperk of uitgesluit word indien jy wetlik afgedank word weens wangedrag of pligsversuim, of wanneer jy aftree, bedank, deelneem aan ʼn onbeskermde staking, vrywillig ʼn pakket aanvaar of vrywillig van jou inkomste afstand doen. In die geval van aflegging waarvan jy geweet het drie maande voordat die kredietlewensversekering in werking tree, kan dekking uitgesluit of beperk word.

Uitsluiting van bestaande toestande

Kredietlewensversekering kan dood of ongeskiktheid uitsluit indien dit veroorsaak word deur ʼn bestaande toestand waarvan jy geweet het in die twaalf maande voordat die dekking in werking tree, maar slegs indien jy spesifiek daaroor ingelig word wanneer jy aansoek doen.

Jou reg tot inligting

Die regulasies ondersteun jou reg tot inligting en net soos met die uitsluiting van bestaande toestande, moet die kredietverskaffer jou behoorlik inlig oor enige ander uitsluitings en beperkings.

Wat gebeur nou?

Wanneer die regulasies oor ses maande in werking tree, mag kredietverskaffers nie skielik jou premie wat jy reeds betaal, verhoog indien jy minder as die maksimum premie betaal nie, tensy hy kan bewys die hoër bedrag is nodig om die werklike risiko en aanspreeklikheid te dek.

As jy te veel betaal

As jy meen jy betaal te veel vir kredietlewensversekering, kan jy enige tyd, soos die Nasionale Kredietwet bepaal, van versekeraars verander, maar die nuwepolis moet ten minste dieselfde voordele bied as die ou een.

Waar om te kla

As jy wil kla oor kredietlewensversekering of enige ander kwessie wat met krediet verband hou, besoek die Nasionale Kredietreguleerder se webtuiste by www.ncr.org.za.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.