Beurse nou beskikbaar vir nagraadse studie in Afrikaans

bcom graad studeer akademia

Argieffoto

Studente wat in 2020 magister- en doktorale studie by enige Suid-Afrikaanse universiteit gaan aanpak, kan nou aansoek doen vir beurse by die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns bied al sedert 2015 beurse aan magister- en doktorale studente en dié beurse word behoorlik opgeraap. Altesaam R10 miljoen se beursgeld is in dié tyd deur die akademie toegeken.

Prof. Anne-Marie Beukes, uitvoerende hoof van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, verduidelik dat die beurse toegeken word vir studie in enige vakrigting wat in Afrikaans geskryf en vir eksaminering by ʼn Suid-Afrikaanse universiteit ingedien word. Só word die deurlopende ontwikkeling van Afrikaans as wetenskapstaal bevorder.

Die beurse bied tot R120 000 vir doktorsgraadstudie en tot R60 000 vir magisterstudie. Die beurse word vir een jaar toegeken en behoort ʼn voltydse student se koste vir ongeveer ʼn jaar te dek. “Die toekennings is eenmalig,” sê Beukes. “Studente wat dus reeds in hulle tweede of derde jaar van studie is, is ook welkom om aansoek te doen.”

Sy voeg by dat die beursaansoeke aan keuring onderhewig is, maar dat die belangrikste vereiste wat die SA Akademie stel is dat die uitkoms van die studie in Afrikaans vir eksaminering aangebied word.

“Studente is ná afhandeling van die studie van enige verdere verpligting vrygestel en kan artikels voortspruitend uit die studie vir publikasie in enige taal aanbied met die nodige erkenning aan die SA Akademie,” sê Beukes.

Sy meen die reusesukses van hierdie beursprogram blyk duidelik uit die aantal studente wat reeds hierby gebaat het – sowat 265 studente het oor die afgelope vyf jaar beurse ontvang, waarvan 114 reeds hulle studie afgehandel het. Studente van universiteite landswyd en van alle vakgebiede het beurse ontvang.

Aansoeke vir beurse van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns is tans oop en sluit op 31 Augustus 2019. Klik hier om aansoek te doen of stuur ʼn e-pos aan Melanie Rens by [email protected] vir enige navrae.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Fanie Kemp ·

Baie dankie SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Dis die pad wat ons moet loop om ons Taal te behou en uit te bou: “Die Salf van eie Gom”

koos ·

al is die beurse nou ook beskikbaar vir nagraadse studie in Mandaryns of Inuit, WAAR gaan dié mense werk kry met daardie wonderlike grade? SONDER die “regte” velkleur” help grade nie veel nie.
MOENIE sê hulle gaan almal in Australië en amerika werk kry nie. selfs met die regte kwalifikasies is dit moeilik en duur om daar in te kom. Daardie buitelandse opsie is dus nie beskore ir almal met hulle wonderlike grade nie.
My ervaring met my 2 grade was as volg:
Ek was later so MOEG van aanmekaar hoor dat ek nie kan werk kry nie weens my “verkeerde” velkleur, dat ek besluit het om dan maar dit wat ek kan verander, wel te verander:
ek het my 2 grade verwyder vanaf my CV. 1 jaar militere diensplig het ek na 2 verander. en 4 jaar op universiteit het ek na 3 jaar verander. My CV het bloot gesê “Studied at university”
NIEMAND het my ooit in werksonderhoude uitgevra oor wat ek op universiteit bereik het nie en uiteidelik het ek, ten spyte van my verkeerde velkleur, wel ordentlike werk gekry.
almal dink hulle is so slim om kwalifikasies by te lieg. my ervaring van kwalifikasies weglieg dink ek werk egter beter.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.