Biblioteke kry gratis WiFi om aanlyn-leer te fasiliteer

Rael Lissoos – direkteur van Moov, Uitvoerende burgemeester, Parks Tau, raadslid Chris Vondo, raadslid Mally Mokoena

Rael Lissoos, direkteur van Moov saam met die uitvoerende burgemeester van Johannesburg, Parks Tau, raadslid Chris Vondo en raadslid Mally Mokoena by die bekendstelling van ‘n nuwe e-leer-projek. Foto: Verskaf.

ʼn Projek vir e-leer is verlede Vrydag (27 Maart) deur Parks Tau, uitvoerende burgemeester van Johannesburg, in die openbare biblioteek in Sandton van stapel gestuur. Vir die komende 18 maande gaan die biblioteekdienste, met die hulp van die stad se inligtingstegnologiedienste daarop fokus om gratis toegang tot die internet in openbare biblioteke te implementeer. Dit sal gratis WiFi en eWorld insluit.

Die stadsraad van Johannesburg het hom verbind tot die sukses van die e-leer-projek. Die teikenmark vir dié nuwe projek is alle inwoners van die stad, maar daar word spesifiek gefokus op die jeug en skoolgaande kinders.

Dié eerste vyf biblioteke wat by hierdie projek betrokke gaan wees, is Jabavu, Noordgesig, Orange Farm, River Park en Diepsloot. Daar word gepoog om teen 30 Junie die projek na nóg 30 biblioteke uit te brei.

Die geruikers van dié biblioteke sal in kennis gestel word van die nuwe verwikkeling deur die media en kennisgewings in biblioteke.

Die e-leer-projek beteken ’n leerproses wat gefasiliteer en ondersteun word deur die gebruik van inligting- en kommunikasietegnologie. Dit kan binne ʼn formele- of virtuele klasomgewing plaasvind hoewel ’n onderwyser nie altyd nodig is nie – die leerproses kan ook self onderneem word.

Die e-leer-projek het verskeie voordele:

  •  Dit bied buigbaarheid in terme van die ure en plek waar die onderrig plaasvind, met ander woorde, dit is nie gebonde tot ʼn spesifieke tyd of ligging nie.
  • Dit is goedkoper omdat daar nie soveel materiaal aangekoop hoef te word nie. Dit maak op sy beurt die deur oop vir al hoe meer leerlinge, veral dié van voorheen benadeelde gemeenskappe en stel hulle in staat om nuwe vaardighede aan te leer.
  • Toegang tot die materiaal kan verkry word deur verskillende toestelle soos skootrekenaars, tablette en slimfone.
  • Die projek ondersteun alle vlakke van onderrig: voorskoolse, tersiêre en volwasse onderrig asook inligtingsvaardighede en selfs voortgesette onderrig.
  • Die e-leer-projek se inhoud word versterk deur oudio- en video-hulpmiddels omdat dit onderrig maklike moontlik maak – meer as slegs deur tradisionele teks.

Die doelwitte vir hierdie projek is om:

  • Die tegnologiese vaardighede van gemeenskappe te verbeter;
  • die gemeenskappe te bemagtig deur toegang tot aanlyn hulpbronne te verskaf;
  • die leerproses te vergemaklik deur addisionele geleenthede vir formele en informele onderriggeleenthede te verskaf;
  • onderrig moontlik te maak vir almal, van die wiegie tot die graf;
  • toegang tot e-regeringsdokumente te verseker en geleentheid te skep waar dit gebruik kan word;
  • toegang tot e-besigheidsinisiatiewe te verseker;
  • vir alle inwoners van die gemeenskap toegang tot rekenaars en ander verwante toerusting te verseker;
  • gemeenskappe in staat te stel om toegang tot die internet te verkry deur hul eie toestelle te gebruik;
  • biblioteke as sentrums vir oop aanlyn-kursusse te vestig deur gebruik te maak van MOOC’s (Massive Open Online Courses); en
  • ʼn forum te bied waardeur alle inwoners effektief met mekaar en die stadsraad kan kommunikeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.