‘Bid meer, bekommer minder’ sê Groot FM met biddag

priscilla-du-preez-hande-bid-ondersteun.jpg

Groot FM beplan ‘n biddag op 29 April 2024. (Foto: pixabay/pricilla-du-preez.com)

Die gemeenskapsradiostasie Groot FM bied einde vandeesmaand ʼn massiewe biddag aan waartydens luisteraars 24 uur lank aan gewyde gebed en gesprekke kan deelneem.

Die gesprekke sal gefokus wees op temas soos leierskap, identiteit, aanbidding, skole, geldsake, ouerskap, verslawing, verhoudings, die huwelik, familie, ondernemings, tydsbestuur, dissipelskap, versoening, geloof, dankbaarheid, liefde en eenheid.

Daar gaan ook ʼn groot fokus wees op die nasionale verkiesing wat voorlê, asook op gesondheid en gesondheidsorg, hoop en oorwinning.

Gaste soos Retief Burger, Riana Nel, Heinz en Alette Winckler, Jannie Putter en Lindie Strydom sal ook deelneem aan gesprekke, gebed, aanbidding en lofprysing.

Daar sal om die uur gebid word, ook by Groot FM se ateljee in Lynnwood, Pretoria.

“Elke gesprekspunt en tema fokus op hoe ons uitdagings in die wêreld kan oorwin met die Waarheid in die Woord. Ons gesels saam oor die praktiese toepassing en hou mekaar ook aanspreeklik,” sê Sonet Stofberg, kommunikasiebeampte by Groot FM, oor die stasie se biddag.

“Luisteraars word nie net uitgenooi om saam te luister nie, maar ook saam te bid.”

Groot FM se kantoor in Lynnwood Manor, Pretoria, kan besoek word tussen 17:00 op 29 April en 17:00 op 30 April. ʼn Gebed kan ook per WhatsApp-teksboodskap by 060 643 3877 versoek word.

“Daar is krag in gebed, want Hy wat hoor en luister, is die Een met hierdie krag, almag en gesag,” sê Stofberg.

“Ons weet ook gebed is nie ʼn wenslysie wat dieselfde trant volg as dié van ʼn brief aan Kersvader nie. Dit gaan nie net oor dit wat ons ontvang en vra van ons Vader nie, maar eerder dit wat ons verloor.

“Selfsug, woede, onvergifnis, trots – alles wat ons dink ons van Sy liefde skei. Dis bloot wanneer ons nader aan Hom beweeg, dat ons minder en kleiner spasies los vir die leuens wat arms ingehaak saam met die wêreld by die deur ingestap kom, en die plek en spasie van waarheid bedreig. Dis hoe dit altyd is en gaan wees: gees teenoor vlees en wêreld teenoor die Waarheid.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.