Bittereinder van Brandvlei kies die soet in die lewe

Theresa de Vries en haar familie op hulle plaas in Brandvlei in die Boesmanland. (Foto: Verskaf.)

Deur Sarie Marais-Nell

Theresa de Vries van Brandvlei het lankal geleer dat mens nêrens kom as jy hande gevou sit en wag dat die droogte weggaan nie. Daarom is sy op 61 steeds bereid om nuwe uitdagings aan te pak. Enersyds vir ’n beter inkomste en tweedens om haar gedagtes weg te lei van die langdurige droogte rondom haar.

Op haar troudag in 1983 kon Theresa nie die voor- en agterkant van ’n skaap uitmekaar ken nie; sy kon ook nie beskuit bak nie. As bruid van haar Brandvlei-boer Bossie, moes sy baie dinge baie vinnig aanleer: Vleis en vrugte verwerk, beskuit bak, droogtes oorwin, al meer spaarsaam leef om die volgende droogte te oorwin, twee seuns grootmaak en steeds betrokke wees in die gemeenskap sonder om onnodige uitgawes te veroorsaak.

En boonop vindingryk genoeg wees om al hul soorte plaashekke te verstaan. Want menige besoeker op hul plaas het al gewonder of Bossie die knippe van sy plaashekke aspris so ingewikkeld maak, asof besoekers eers ’n IK-toets moet slaag voor mens hulle kan oop- en toekry.

Dalk is dit weens Theresa se kompetisiegees dat haar Nougat-besigheid begin het. Want toe almal destyds een tipe lekker inskryf vir die Brandvlei-vrouegroep se lekkergoedkompetisie, skryf sy in vir vyf tipes lekkers. En leer hieruit dat sy nougatlekkers kan maak vir ’n inkomste.

“Ek het dit aanvanklik net by een padstal verkoop. Die dag toe ek my eerste groot bestelling kry, was ek doodbenoud – gestel niemand hou daarvan nie?”

Sy was verniet bang, want haar trefferreeks in vier verskillende geure het vinnig deur die hele Wes- en Noord-Kaap ’n gewilde produk geraak by winkels, padstalle en feeste – al bly dit ’n uitdaging om produkte vars te hou te midde van ver afstande en dikwels in uiterste hitte.

“Ek en Bossie het stadigaan begin om nougatstalletjies by feeste aan te bied. Dit was ’n interessante ondervinding. Maar toe die boerdery begin druk en ons later net die voorraad aanstuur sodat iemand dit namens ons verkoop, moes ons ander uitdagings oorkom, soos miere wat in ons verpakte lekkergoed intrek en geweldige verliese veroorsaak.”

Theresa het mettertyd ’n industriële kombuis langs haar plaaskombuis ingerig. Hier word personeel opgelei, plate vol vars nougat gereeld opgelig en in hul rakke geberg vir afkoeling, voor sy dit later eweredig sny en netjies verpak. Al raak haar beste handlangers op besige dae Bossie se plaaswerkers. En al veroorsaak die oplig van swaar plate vol lekkergoed later ’n skoueroperasie.

Immer aan die dink aan nuwe planne, herevalueer sy elke vyf jaar haar verpakking en bring dan nougat in nuwe geure uit.

In 2013 het Theresa ingeskryf vir die eerste Kokkedoor-reeks en tweede geëindig.

“Dit was móéilik! Eerstens was ek totaal uit my diepte in ’n nuwe omgewing met beperkte kontak met my familie; tweedens is mens tussen ’n klomp vreemdelinge vir geselskap. Dit was ’n ondervinding wat my lewe verander het, maar ek het ook interessante nuwe mense leer ken.”

Theresa bied deesdae deegkursusse aanlyn aan. (Foto: Verskaf.)

Sedertdien bied Theresa deegkursusse landwyd aan.

“Omdat ek so opgewonde raak oor deeg in alle vorme, kon ek my resepteboek Deeg laat publiseer. Die hele proses was omtrent ’n groeikurwe.”

Theresa vertel met haar kenmerkende bry-r hoe sy reeds begin het om oornagkamers te laat bou, sodat kursusgangers in deegmaak by haar en Bossie op die plaas kan oornag en tussendeur die mooi van die Boesmanlandse natuur kan geniet.

“Maar hierdie droogte is iets heeltemal anders as die vorige. Bossie sê gereeld dit voel of ons nou nie voetjie vir voetjie agteruit boer nie, maar of dit sommer gly-gly agtertoe gaan, al ons harde werk ten spyt. Daarom moet die oornagkamers eers wag tot later.”

Steeds aan die woel, het Theresa onlangs ’n entrepreneurskursus gevolg sodat sy die nodige akkreditasie vir haar deegkursusse kon kry.

“Dit beteken ek kan nou hierdie kursusse aanbied by De Werf op Keimoes, die eiendom van my vriendin Maxi Compion. Sy is reeds jare lank my groot inspireerder en raadgewer.”

Só sê hierdie ouma van drie kleinkinders; wat moed hou te midde van die swaar tye, wat dit vir Bossie gun om perdryritte en mannekampe aan te pak – want sý batterye moet ook herlaai. Terwyl sy innig wens vir ’n dag dat buitestaanders nie glo mens is dom, net omdat jy naby ’n afgeleë dorpie soos Brandvlei woon nie.

“Ek dwing myself dikwels om van my rusbank af op te staan en buite my gemaksone te dink. En wanneer die droogte ons gemoedere hier op die plaas stom maak, ontvlug ek in my kop na my deegkursusse wat ek wintertye aanbied; na my nougat-resep se verhouding tussen suiker en glukose wat nog aanpassings vra.

“Mens moet altyd ’n droom hê, al word jy hóé oud. Dis die wortel voor jou neus wat jou laat vorentoe gaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willem

Wonderlike boere vrou

Pierreli

Theresa, jy maak ons Boere volk trots! Goed gedaan!!!