Blinde gholfspelers gaan op Glendower afslaan

Foto: Facebook.

Van 6 Desember sak Suid-Afrika se voorste blinde gholfspelers op die Glendower-baan in die ooste van Johannesburg vir die SA Ope-kampioenskap toe.

Vanjaar sal twee oorsese spelers, Engeland se Owen Robertson en die VSA se Luke Yuang Lin, ook in aksie wees.

Volgens Ernst Conradie, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Blinde Gholfvereniging, hoef blinde gholfspelers geensins vir ander spelers terug te staan nie.

“Ek dink dit is die enigste sportsoort ter wêreld waar ’n siggestremde persoon teen ’n beroepspeler kan speel en moontlik ook met die louere kan wegstap. Jy speel volgens voorgee en dit maak die speelveld gelyk,” het Conradie vir Maroela Media gesê.

Hy is self ook ’n kranige speler.

Ernst Conradie laat waai op die afslaanbof. Foto: Verskaf.

Hy het destyds die SA Ope in Milnerton gewen, terwyl hy in 2014 onder die tien topspelers in die Britse Ope geëindig het. Vóór dit was hy ’n lid van die Proteas se blinde krieketspan wat opslae in die Wêreldbeker-toernooie in 1998 en 2002 gemaak het.

Conradie, wie se visie tot net ’n paar meter beperk is, maak van ’n GPS gebruik om meer inligting oor die speelveld, waar die bal lê en toestande te kry, terwyl ’n gids ook van groot hulp is.

Verder is daar egter geen verskil in die reëls nie en daar word met dieselfde stokke en balle gespeel.

“Ons speel ook op presies dieselfde putjies as ander spelers. Die enigste verskil is dat ons van die senior bof afslaan om die baan so ’n bietjie makliker en korter vir ons te maak.”

Volgens Conradie is Garrett Slattery, ’n lid van Stellenbosch Gholfklub, Suid-Afrika se voorste speler en een van die gunstelinge om die Ope te wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mad Mike die Rhodesiër ·

Dis nou hoe ‘n blinde mens wys hy is (semi-)onafhanklik! Respek vir jul almal.

Eend Bessinger ·

Respek vir julle almal. Ek is motories gestremd en ek weet ook hoe om my kwaak dik te maak!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.