Blinde hond met eie gidshond gryp harte aan

Charlie en Maverick se spesiale band het sosialemediagebruikers gaande. (Foto: Instagram via @charlieandmav)

Charlie, ʼn bejaarde blinde hond van Noord-Carolina in die VSA, en sy eie gidshond, Maverick, se spesiale storie het wêreldwyd harte aangegryp en dié twee binne enkele dae sosialemedia-roem besorg.

Charlie en Maverick is albei goue apporteerhonde (golden retrievers), maar Maverick is net vier maande oud, terwyl Charlie 11 jaar oud en blind is. Dié twee maats se storie het bekend geword nadat die gewilde WeRateDogs-profiel op Twitter vandeesweek foto’s van Charlie en Maverick getwiet het.

Die nuusinstansie WREG berig Charlie is met gloukoom in albei oë gediagnoseer wat daartoe gelei het dat sy oë verwyder moes word. Chelsea en Adam Stipe, Charlie se eienaars, het geweet hulle sal ʼn plan moet maak om hul geliefde woef se lewe so gemaklik moontlik te maak ten spyte daarvan dat hy nou blind is.

Dit is toe dat klein Maverick om en by Nuwejaar sy verskyning by die gesin se huis in Mooresville gemaak het.

Maverick vat Charlie aan sy leiband om hom te help rondbeweeg. (Foto: Twitter)

Chelsea het aan WCAU vertel wanneer die twee honde speel, sal Charlie soms sy speelding verloor en Maverick sal dit dan optel en dit reg voor sy neus neersit sodat Charlie weer aan die pret kan deelneem. Maverick sal ook Charlie se leiband gryp en hom so help om rond te beweeg.

Klein Maverick laat Charlie ook toe om hom as kussing te gebruik vir hul middagslapies!

“Maverick is hier om Charlie te help rondbeweeg en Charlie probeer om vir Maverick maniere te leer,” het die honde se eienaars op hul Instagram-profiel geskerts. Binne dae het die twee ʼn allemintige 72 000 volgelinge op Instagram bygekry en is hul storie deur talle internasionale nuusinstansies vertel.

“Hulle is altwee baie laf en spesiaal. Hulle besorg ons beslis groot vermaak,” het Chelsea aan WCAU gesê.

Charlie kan dalk nie sien wat buite die motor gebeur nie, maar hy en Maverick kan saam die wind op hul gesigte voel. (Foto: Twitter)

Charlie en Maverick. (Foto: Instagram via @charlieandmav)

Die twee maats doen alles saam, van middagslapies tot versnaperingtyd. (Foto: Instagram via @charlieandmav)

Die twee maats doen alles saam, van middagslapies tot versnaperingtyd. (Foto: Instagram via @charlieandmav)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Hondjie ·

Goedvoel storie! Herinner my aan die tyd toe ‘n jong yorkie by ons moes kom bly en ons benoud was hoe ons bejaarde, stokdoof chow chow hom sou aanvaar. Beste maats ooit. Kleintjie het vinnig geleer ons loop na ou hond om hom te roep. Hy het die taak oorgeneem om “oupa te gaan haal” wanneer nodig. Speel-speel en byt-byt aan die agterbene tot by die kosbak. Was mense maar so verdraagsaam en so vol omgee ?

theresa ·

Ai, diere is darem soveel beter as mense. Wat n mooi storie.

Andreas ·

Kan ons maar so op HOM vertrou om ons deur hierdie tye te lei.

Miekie ·

Ek is nou skoon baie hartseer. Ek bly in ‘n Complex en nou het dit in ‘n “pet unfriendly” complex ontaard. Ons kon nog ‘n katjie aanhou maar nou is die ook taboe. As mense mekaar meer kan help soos die twee en nog vriende word watter beter plek sal SA nie word nie.

Attie. ·

God het aan die mens gedink toe Hy honde gemaak het. Ongelukkig besef min mense dit. ‘n Hond kan nie regtig leef sonder die liefde van mense nie en ‘n weggooi hond sal altyd ‘n huis soek waar hy liefde kan vind. Dankie Here vir my hondevriende. Hulle is ons vriende en hulle beskerm ons…sonder honde sou die lewe leeg wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.