Blinde man gee nie hoop op vir ‘tweede kans’

Judas Modala. Foto: ANA

ʼn 36-jarige man van Ngodini naby Witrivier in Mpumalanga het sy droom op ʼn beter lewe verwesenlik deur sy onderwysdiploma met onderskeiding te slaag – 20 jaar nadat hy sy sig verloor het.

Judas Modala het in 1998 blind geword nadat hy met gloukoom gediagnoseer is. Nadat hy sy sig verloor het, het hy in gr. 11 skool verlaat omdat dit bloot te moeilik geword het vir hom om in ʼn gewone skool oor die weg te kom.

“Omdat dit moeilik was om brood op die tafel te sit, het ek na die Mpumalanga- departement van onderwys gegaan om vir werk te vra. Die departement het egter besluit die beste ding vir my sal wees om my skoolloopbaan te voltooi,” vertel hy.

Modala het in 2012 weer sy skoolwerk voortgesit, maar sê dit was steeds moeilik om tuis te studeer met teksboeke en vraestelle wat deur “gewone staatskole gebruik word”. Hy het egter nie toegelaat dat dit sy “tweede kans” kniehalter nie.

“Ek het my matriek van die huis af gedoen en het nie ʼn onderwyser gehad om my te leer nie. My familie het wel gehelp om vir my sagteware af te laai wat my kon help om my kurrikulum-inligting onder die knie te kry. Dit was baie uitdagend, maar ek was verheug toe ek matriek klaargemaak het.”

Die onderwysdepartement het Modala daarna gefinansier om onderwys te studeer, wat hy met onderskeiding geslaag het. Hy sal vanjaar sy diploma ontvang.

“Niemand kan hulle die trauma indink om een dag wakker te word en te besef jy is nou blind nie. Dit verander alles en dit was dieselfde vir my, want my lewe is op sy kop gekeer. Ek is bly ek het nie toegelaat dat hierdie beproewing in die pad kom van my droom op ʼn suksesvolle lewe nie. Ek hoop my storie kan as inspirasie dien vir ander blindes wat wil aanhou om te leef en hul ambisies na te jaag ondanks hul gebrek.”

Modala sê hy was vasbeslote om sy kwalifikasie met vol onderskeiding te behaal, omdat hy die departement van onderwys wil uitdaag om skole te bou wat blindes behoorlik kan akkommodeer. “Die gebrek aan skole [vir blindes] sluit hulle uit van enige hoop op onderwys,” sê hy.

Gerald Sambo, woordvoerder van die departement van onderwys in Mpumalanga, het Modala geloof vir sy prestasie en gesê hy is ʼn ware voorbeeld van vasberadenheid en uithouvermoë. “Ons is verheug oor Judas se sukses en ons doen ʼn beroep op gemeenskappe om mense met gestremdhede ʼn kans in die lewe te gee, want hulle is net so bekwaam [as enigiemand anders],” sê Sambo.

Hy het ʼn beroep op ouers van kinders met gestremdhede gedoen om die departement te nader en sodoende plek vir hul kinders in skole te kry wat hulle kan help om die beste moontlike onderrig te ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.