Blinde student en gidshond staan vir niks terug nie

Anel Coetzee en haar gidshond Luca. Foto: Atterbury Trust

Anel Coetzee en haar gidshond Luca. Foto: Atterbury Trust

Anel Coetzee studeer regte aan die Universiteit van die Vrystaat en is die Atterbury Trust se eerste blinde beursstudent. Die Atterbury Trust het met Anel gesels.

Anel is blind gebore nadat haar ma met masels in aanraking gekom het terwyl sy met haar swanger was. “Ek het dit nie regtig besef terwyl ek grootgeword het nie, maar my familie was my redding,” vertel Anel. “My ouers het my nooit anders behandel as my susters nie. Ek moes ook my bed opmaak in die oggend en skottelgoed was. Ek was in die moeilikheid as ek stout was en ek is altyd aangemoedig om my beste te gee en groot te droom.”

Anel is oorspronklik van Pretoria waar sy by Prinshofskool vir gesiggestremde kinders skoolgegaan het. Sy het egter besluit op die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein as gevolg van die kampus se uitleg en omdat sy op ʼn nuwe plek oor wou begin. “Terwyl ek grootgeword het, was dit altyd baie maklik om net gou vir iemand te vra om dinge vir my te doen. Ek wou sien wat ek vir myself kan doen.”

Sy is nou al meer as vier jaar daar en aan die begin het sy net haar wit kierie gehad om haar uit te help. Dit was egter ʼn uitdaging. “Na twee jaar was ek moeg daarvoor om in goed vas te loop en te val, en ek was ook moeg vir mense wat met my praat asof ek doof of verstandelik gestremd is.”

Sy het aansoek gedoen by die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging in Johannesburg en nou het sy vir Luca, ʼn goue apporteerhond (Golden Retriever) om haar uit te help.

Volgens Anel is Luca een van die beste goed wat nog met haar gebeur het. Hy doen egter meer as om haar van een plek na ʼn ander te kry. “As mense ons sien, trek Luca gewoonlik hul aandag van my af en hulle vergeet dat ek blind is. Vir daardie oomblik is ek net ʼn mens met ʼn baie oulike hond!”

Anel ontvang al haar studiemateriaal in ʼn e-teksformaat wat dan deur die spraakprogram “Jaws” vir haar gelees word. Powerpoint-voorleggings in die klas is egter soms ʼn uitdaging omdat die program dit nie kan verwerk nie. Sy moet dan vra dat die studiemateriaal vir haar verwerk word. Haar studieleiers is egter ook altyd bereid om te help, en ʼn groot deel van die biblioteek is elektronies beskikbaar.

Nog ’n groot uitdaging wat sy ervaar, is dat die kampus nie noodwendig gebou en ingerig is met gestremdes in gedagte nie. “Partykeer moet ek by draaihekkies ingaan wat heeltemal te klein is vir my en Luca,” verduidelik sy. Die weer kan soms sake ook bemoeilik – indien dit reën of die wind waai, sukkel Anel om by haar klasse uit te kom, omdat sy nie die paaie kan oorsteek nie.

As daar een ding manier is waarop sy sou wou hê mense met sig moet blindes akkommodeer, is dit deur te aanvaar dat haar hond deel van haar is. “Gewoonlik is ek heeltemal afhanklik van hom. Hy is uitstekend opgelei. Die beste manier om my te akkommodeer, is om my hond toe te laat om te gaan waar ek gaan.”

Sy wens ook sy kan siendes meer leer oor hoe hulle met blinde mense behoort te kommunikeer. “Blinde mense probeer so onafhanklik moontlik wees en dit is gewoonlik nie nodig om drastiese veranderinge te maak sodat dinge meer gemaklik vir ons sal wees nie. Praat met ons. Vra ons vrae, bied hulp aan waar moontlik en behandel ons soos enige ander mens. Ons is net blind.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.