Blinde tiener op pad na internasionale talentkompetisie

Robyn Waters. Foto: Verskaf

Robyn Waters. Foto: Verskaf

Om blind te wees knip nie haar vlerke nie, sê Zuzette Waters, die 16-jarige Robyn van die Pionierskool vir Siggestremdes in Worcester, se ma van haar dogter.

Robyn is sedert geboorte blind, maar niks staan in haar pad om haar drome te bereik nie. “Sy het van ʼn jong ouderdom haar eie weg in die lewe gevind en nie een dag toegelaat dat haar blindheid haar onderkry nie. Sy is een van die sterkste mense wat ek ken,” het Zuzette aan Maroela Media vertel.

Blinde mense kan eers vanaf 18-jarige ouderdom gidshonde kry en daarom gebruik Robyn ʼn kierie en eggo-klanke wanneer sy rondloop.

Zuzette vertel dié graad 10-leerder het reeds van ʼn jong ouderdom ʼn groot liefde vir sang. Sy het onlangs deelgeneem aan die Talent Africa Nationals in Worcester in die Wes-Kaap en nege goue medaljes verower.

“Ons was so trots. Hoewel sy graag opera wil sing, het sy by die kompetisie jazz, country, rock en broadway ook gesing. Sy is toe genooi om aan die internasionale kompetisie in New York deel te neem.”

Volgens Zuzette probeer die gesin alles in hul vermoë om Robyn se drome te bewaarheid, maar ervaar finansiële hindernisse.

“Haar groot liefde is sing. Ons wou haar nie dwing nie en daarom het ons gewag totdat sy self vra om sanglesse te neem. Sy het onlangs ook met opera-opleiding begin en dié kompetisie is ʼn baie groot geleentheid. Die finansies is egter ʼn probleem.”

Weens haar blindheid moet ʼn gids haar op die reis vergesel. Die gesin moet voor of op 10 Mei die aanvangskoste van R10 000 betaal en later in Junie ʼn verdere R112 000, wat visum- en leefkoste uitsluit.

“Dis baie geld, maar ek doen alles in my vermoë om dit vir my dogter moontlik te maak om te gaan. Ek het al aan soveel deure geklop. Sy is die sterkste en mees doelgerigte mens wat ek ken. Sy leer my elke dag meer van myself en van deursettingsvermoë as wat ek by enigiemand anders kon leer.”

Indien jy met die gesin wil kontak maak, bel vir Zuzette by 084 701 0792 of stuur ʼn e-pos aan [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eileen ·

En so gee God aan elkeen van ons talente! Sterkte aan die gesin, hoop julle kry ‘n groot borg binnekort.

GV ·

As ons vir n kelnerin so baie geld kon insamel kan ons seker vir Robyn ook?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.