Blindheid knip nie dié jong radioaktrise se vlerke nie

Lise-Mari van Wyk in die RSG-ateljee tydens die opname van Ons het gees. Foto: Cassi Lowers

Lise-Mari van Wyk in die RSG-ateljee tydens die opname van Ons het gees. Foto: Cassi Lowers

Om gestrem te wees hoef nie jou lewensgehalte te verswak of jou lewe in te perk nie. Só sê Lise-Mari van Wyk, ʼn siggestremde graad 9-leerder van die Pionierskool vir Siggestremdes in Worcester.

Van Wyk, wat reeds van geboorte af blind is, maak 17 November haar radiodebuut in die RSG-jeugdrama Ons het gees. Hierin vertolk sy die rol van die hoofmeisie, Ria Botha.

“Dit het vir my baie beteken dat die ander akteurs in die storie my nie anders behandel het nie. Dit is eintlik al wat siggestremde mense van ander vra,” sê Van Wyk.

Sy is tydens ʼn Nasionale Toneelspelkompetisie vir hoërskoolleerders deur Kobus Burger, RSG se uitvoerende regisseur: drama, opgemerk. Daarna is sy genooi vir ʼn onderhoud in die ateljee wat sy met vlieënde vaandels geslaag het.

“Ek was uit die staanspoor beïndruk met haar natuurlikheid en fyn aanvoeling vir radiospel,” sê Burger.

Van Wyk sê dat ander sintuie, soos hoor en ruik, vir siggestremde mense dikwels verskerp word. “Vanaf ʼn jong ouderdom het ek en my sussie radiostories geluister. Toe ek ouer word, het ek graag na die middagvervolgverhale geluister. Ek kon my altyd so inleef in die stories en het selfs my eie stories opgemaak,” sê Van Wyk.

Leerders van die Pionierskool vir Siggestremdes word van graad R-vlak bekend gemaak met die omgewing en opgelei om onafhanklik te kan rondbeweeg op die skoolterrein.

“Ons werk van jongs af met ʼn braille-masjien in die klasse. Ons handboeke word ook op die masjien gelaai,” sê Van Wyk. Met dié braille-masjien kan siggestremde leerders dieselfde leerspoed as niegestremde leerders volg.

Om tot só ʼn mate sukses te behaal, verg ʼn goeie ondersteuningstelsel. Hiervoor bedank Van Wyk haar vriende en onderwysers. Sy wil ook ʼn voorbeeld wees vir ander jong mense wat struikelblokke moet oorkom.

“Dit is belangrik om jou gestremdheid eers te aanvaar. Dit is baie moeilik om daai eerste struikelblok te oorkom, maar wanneer jy dít doen, kan niks meer in jou pad staan nie. Dit is ook belangrik om saam met mense te werk wat nie gestrem is nie,” sê Van Wyk.

Vir die toekoms koester sy groot drome: miskien nog ʼn rol in ʼn radiodrama, om ʼn veteraan-verhoogaktrise of selfs ʼn konsertpianis te word. Vir eers fokus sy daarop om haar Trinity-klaviereksamen (graad 6) en hoërskoolloopbaan te voltooi. Natuurlik met vlieënde vaandels, want dis ál hoe sy ʼn taak afhandel.

Ons het gees debuteer 17 November om 19:10 op RSG (100 – 104fm) tydens die jaarliks regstreekse kunstefees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wessel van Vuuren ·

BRILJANT!!! ‘n Groot voorbeeld vir almal om te wys dat gestremdes ook kan bydra tot baie dinge en nie sommer gaan lê nie. Hoop sy bring dit nog vêr.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.