Blink toekoms wink vir enigste vroue-Harley-tegnikus in SA

Felicia Pretorius is die enigste vroulike Harley Davidson-tegnikus in die land. (Foto: Verskaf)

Vir Felicia Pretorius van Boksburg aan die Oos-Rand is daar niks wat die hoendervleis so oor haar vel kan laat krioel as die gebrul van ʼn blinkvosperd – en veral dié van ʼn Harley Davidson – nie.

Pretorius (26) is die enigste vroue-Harley Davidson-tegnikus in Suid-Afrika en is, sover haar kennis strek, tans ook die enigste een in die Suidelike Halfrond.

Sy vertel sy het by die Harley Davidson Universiteit in Menlyn, Pretoria, studeer voordat dit weens die Covid-19-pandemie gesluit is. Sy beplan om volgende jaar haar laaste kwalifikasies aan die Harley Davidson Universiteit in die VSA of Brittanje te voltooi.

Volgens Pretorius onthou sy nog die heel eerste keer wat ʼn vriend van haar ma met sy Road King Harley Davidson voor hulle huis gestop het. Sy was vier jaar oud en dié motorfiets het haar oë laat blink.

“Ek was in ekstase oor die motorfiets en sedertdien is ek verlief op enigiets wat met motorfietse te doen het. Ek het op 14-jarige ouderdom self begin motorfiets ry en self my motorfiets gediens. In 2013 het my ma as ʼn verrassing vir my ʼn kaartjie na die Africa Bike-fees gekoop, en ek het nog nooit so baie Harley Davidson-motorfietse op een plek gesien soos daardie dag nie.”

Vandaar was dit soos brandstof op die vuur van haar passie vir motorfietse en het sy dag in en dag uit na YouTube-videos van motorfietse en enjins gekyk.

“Ek het altyd gesê ek gaan eendag aan motorfietse werk vir ʼn lewe en al het dit my ʼn rukkie geneem om daardie droom te bewaarheid, het ek uiteindelik die geleentheid gekry om my droom uit te leef.”

Felicia Pretorius hard aan die werk in die werkswinkel. (Foto: Verskaf)

Pretorius vertel sy het ná skool werk in Johannesburg gesoek. Haar stiefpa was destyds deel van die Harley Owners Group (HOG) en het die hoof van die Gold Rand Harley-handelaar geken.

“Ek het hom gesmeek om daar te kan werk. Dit was altyd my droom om ʼn tegnikus te wees, maar daar was nie plek vir my nie. Ek het toe as ʼn drywer begin en het kliënte se motorfietse by hulle huise op- en afgelaai.

“ʼn Jaar later het hulle my ʼn vakleerlingskap as tegnikus aangebied en ek het in Februarie 2016 met kursusse by die Imperial Training Academy in Germiston begin. Ek het vir drie jaar dié kursusse bygewoon om uiteindelik my rooi seël te ontvang.”

Sy het aanvanklik gesukkel om by dié akademie plek te kry weens rassekwotas, maar sy het deurgedruk en ses maande lank ʼn week per maand daar opleiding ontvang. Sy het in 2019 haar rooi seël as tegnikus ontvang. Sy het uiteindelik op ʼn lae vlak as tegnikus by Harley Davidson begin en haarself opgewerk tot waar sy vandag saam met ʼn Harley Davidson-opleier as voorman werk.

“Ek het al in my loopbaan ongelooflike mense ontmoet. Dit het ʼn rukkie geneem voordat mense daaraan gewoond geraak het, maar vandag is ek juis gewild omdat ek die enigste vrouetegnikus is en die mans wat saam met my werk, is almal baie trots op my. Ek is die enigste persoon in my familie wat tegnies aangelê is, so dit het selfs my pa ʼn rukkie gevat om tevrede te wees met my loopbaankeuse.”

Felicia se eerste rit op die Harley Davidson Pan America. (Foto: Verskaf)

Sy vertel dit was aanvanklik ʼn stryd om die kliënte te oortuig dat sy weet wat sy doen. “Hoewel my kollegas nooit ʼn probleem met my gehad het nie, het dit nogal harde werk gekos om ʼn groot, geharde Harley-oom te oortuig dat ʼn meisie aan sy fiets gaan werk en dat sy heeltemal bekwaam is. Die kliënte het aanvanklik nie daardie vertroue in my gehad nie, maar mettertyd raak hulle dit ook gewoond.”

Pretorius gee toe dat daar nog heelwat stigma kleef aan ʼn vrou in ʼn werkswinkel. “Ek herinner egter altyd mense daaraan dat ek nie ʼn mechanic is nie, ek is ʼn tegnikus. Daar is ʼn verskil in terme van die opleiding wat ek ontvang het. Ek hoop dat ander vroue ook hulle drome sal najaag om dié soort beroep te betree, want ons as vroue hoef nie meer net ontvangsdames of klinieksusters te wees nie.”

Sy gaan gereeld op sogenaamde breakfast runs met haar BMW-motorfiets en is op bystand wanneer die Harley Davidson-groep op tydrenne uitgaan.

Felicia Pretorius en haar verloofde Jason en hulle seun, Danté. (Foto: Verskaf)

Wanneer sy nie in die werkswinkel aan Harley Davidsons werk nie, bestee sy tyd in haar eie motorhuis saam met haar vyfjarige seuntjie, Danté, en haar verloofde, Jason.

“Hulle is albei ook lief vir motorfietse. Wanneer ons nie saam visvang of kamp nie, is Danté saam met my in die motorhuis besig om te werk aan die klein motorfietsies wat ons vir hom gekoop het. Ek noem hom my klein appy en hy dra al my gereedskap weg,” lag Pretorius.

Haar droom is om eendag haar eie Harley Davidson-motorfiets te besit. “Ek werk baie hard daaraan, maar hopelik sal ek eendag my eie Harley kan laat brul.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Belinda ·

Wel gedaan. Ek self is ook n motorfiets entosias van kleins af, ongelukkig wou my ouers my nooit ondersteun in my belangstelling nie.
Motorfietse is my passie in die lewe. Jy is voorwaar n dame na wie ek kan opkyk. Wel gedaan!
Net weereens n bewys dat n vrou nooit sal terug staan agv haar geslag nie!
Weereens, wel gedaan!

Francois Le Cochon ·

Belinda, volg jy vir Noraly Schoenmaker op haar Youtube kanaal genaamd Itchy Boots? Indien nie, kyk gerus.

Erika ·

Wel gedaan n vrou met durf en boonop Verloof met n ware man wat nie bedreig voel nie

SjN ·

Hoop jou droom word waar, sterkte, wys die manne dit kan gedoen word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.