Bloedoortapping in baarmoeder red baba se lewe

Dr. Ismael Bhorat (links) by Phiwayinkosi en Ntombenhle Biyela en hul babaseun, Mihle. (Foto: Verskaf)

Dr. Ismael Bhorat (links) by Phiwayinkosi en Ntombenhle Biyela en hul babaseun, Mihle. (Foto: Verskaf)

ʼn Ouerpaar van KwaZulu-Natal is verheug oor die geboorte van hul babaseun nadat hy op 25 weke in sy ma se baarmoeder ʼn gevorderde sleutelgat-bloedoortapping moes ontvang.

Dié seuntjie is op 12 Februarie in die Netcare St. Augustine’s-hospitaal in Durban gebore.

Baba Mihle Biyela is met ʼn seldsame toestand bekend as hydrops fetalis, wat gekenmerk word deur vog wat opdam om die hart en longe, gediagnoseer. Sy ouers, Phiwayinkosi en Ntombenhle Biyela, is gewaarsku dat hul seun dit moontlik nie sal oorleef nie en hulle beskou nou hul seun as ʼn “wonderwerkbaba”.

Luidens ʼn mediaverklaring deur die hospitaal, het Ntombenhle besluit om ʼn tweede opinie by ʼn ginekoloog en verloskundige, dr. Bongani Mazibuko, wat by dié hospitaal praktiseer, in te win nadat ʼn vorige dokter haar aangeraai het om haar swangerskap te beëindig.

Dr. Mazibuko het op sy beurt ʼn fetale spesialis, dr. Ismael Bhorat, gekontak om hom te assisteer in die ondersoek om vas te stel wat klein Mihle se toestand veroorsaak. Deur gebruik te maak van gevorderde sonars en Doppler-tegnieke wat die spitsvloei van die bloed in ʼn aar in die brein ondersoek het, is vasgestel dat Mihle aan fetale bloedarmoede ly.

“Hydrops fetalis kan deur ʼn verskeidenheid van onderliggende toestande veroorsaak word, wat ʼn magdom moontlike komplikasies tot gevolg kan hê,” het dr. Bhorat gesê. “Die prognose vir die fetus is afhanklik daarvan om die korrekte oorsaak vas te stel en dit so gou as moontlik en op die korrekte wyse te behandel.”

Dr. Bhorat, wat by die Netcare uMhlanga-hospitaal praktiseer, het die span gelei wat die sleutelgat-bloedoortappingsprosedure, of die sogenaamde intra-uterine bloedoortapping (IUT) behartig het toe die fetus slegs 25 weke oud was.

Dankbaar vir hul klein vegtertjie, het die Biyela-gesin besluit om hul babaseun Mihle Imisebenzi kaNkulunkulu, wat uit Zoeloe in Afrikaans vertaal as “pragtige werk van God”, te doop.

“Dit was ʼn moeilike en pynlike reis met Mihle, maar deur die genade van God en danksy die wonderlike sorg van die dokters en verpleegsters, is ons verheug om vir Mihle huis toe te vat,” het Ntombenhle gesê.

“Ek kan nie wag om tyd saam met hom deur te bring nie. ʼn Ma moet met haar seun ʼn band smee,” het dié ma van twee, wat oorspronklik van Nkandla afkomstig is, maar tans in Durban woon, gesê.

“Mihle se geval bewys dat die akkurate diagnose en gespesialiseerde behandeling hoop skep vir baie hydrops-babas en dat hulle gered kan word,” het dr. Bhorat gesê.

“Ons is absoluut verheug dat ons Mihle se lewe kon red, wat aan hartversaking gely het as gevolg van ernstige bloedarmoede, aangesien sy hart harder moes pomp om die bloed na die selle te laat vloei.”

Hy het bygevoeg dat daar vasgestel is dat hydrops nié die resultaat van ʼn probleem met die immuunstelsel is nie, maar dat dit moontlik deur ʼn virale infeksie wat die fetus se rooibloedselle aangeval het, veroorsaak is. Dit het gelei tot fetale bloedarmoede.

“Voordat die bloedoortapping uitgevoer is, is 1 tot 2 ml fetale bloed getrek om die hemoglobienvlak van die fetus vas te stel. Hierdie inligting word benodig om vas te stel hoeveel bloed oorgetap moet word. Die fetus het onmiddellik begin herstel ná ʼn enkele IUT-prosedure, en daar was geen verdere komplikasies as gevolg van die hydrops nie. Saam met dr. Mazibuko kon ons vir baba Mihle tot op ʼn gesonde 36 weke kry waarna hy veilig gebore kon word.”

Dr. Bhorat het bygevoeg dat IUT-prosedures slegs gedoen word in seldsame gevalle soos Mihle sʼn. Hydrops fetalis kan komplikasies tot gevolg hê en babas met dié toestand het slegs ʼn 90% kans op oorlewing. Die prosedure is ingewikkeld en vereis dat bloed sorgvuldig in die korrekte hoeveelheid oorgetap moet word.

ʼn Naald moet deur ultraklank-beheer in die naelstring geplaas word sodat die bloed getrek kan word vir toetse en eers daarna kan die bloedoortapping plaasvind. Komplikasies wat kan plaasvind, is die hart wat stadiger klop, bloed wat lek deur die gat waar die naald ingaan of vorming van bloedklonte in die naelstring.

“Die span is verlig dat die prosedure suksesvol was. Toe ek vir Mihle die eerste keer sien ná sy geboorte, het ek trane in my oë gekry,” het dr. Bhorat gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Hoe wonderlik is dit nie om vir n slag positiewe nuus te lees nie. Baie geluk aan die ouers en alles van die beste vir julle en jul seuntjie. Ek glo hier was ook n groter hand wat deel was van die prosedure.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.