Bloukransmonument in Trekroetetuin onthul

ʼn Replika van die Bloukransmonument, wat die grusame slagting van honderde Voortrekkers in KwaZulu-Natal herdenk. (Foto: Verskaf)

Nog ʼn geskiedkundige monument het Vrydag sy intrek by die Voortrekkermonument se Trekroetetuin geneem.

ʼn Replika van die Bloukransmonument, wat die grusame slagting van honderde Voortrekkers in KwaZulu-Natal herdenk, is amptelik in dié tuin onthul.

Die beeldhouer van die replika, Jaco van Niekerk, sê die geskiedenis agter die Bloukransmonument gee hom steeds koue rillings.

“Dit is ʼn verskriklike ding wat daar gebeur het. In die Groot Trek was dit die grootste verlies aan lewens. Dit is hartseer en tragies; mens voel hoe die trane in jou oë opstoot.”

Die Bloukransmoorde word as die grootste slagting van die Voortrekkers tydens die Groot Trek beskryf. Op 17 Februarie 1838 het ʼn aanvalsmag van 10 000 Zoeloes die Bloukrans-laer aangeval. In die slagting is 185 kinders, 56 vroue, 41 mans en 200 bodes vermoor.

Dié moord in die Weenen-gebied in Natal word as die “Groot Moord” beskryf. Dit het plaasgevind slegs 11 dae nadat die ongewapende Piet Retief en sy manskappe deur die Zoeloekoning, Dingaan, oorval en vermoor is. Hierdie aanval het tydens ʼn onderhandelingsvergadering op uMgungundlovu in Natal gebeur.

Kommandant-generaal Piet Joubert van die voormalige ZAR het in die Transvaal steun vir die bou van die Bloukransmonument gewerf en het met die insameling van die fondse gehelp. Joubert het ook die hoeksteenlegging op 16 Februarie 1895 waargeneem. Die oorskot van die oorledenes wat uit grafte opgegrawe is, is onder die hoeksteen herbegrawe.

Beeldhouer, Jaco van Niekerk, by die replika van die Bloukransmonument. (Foto: Verskaf)

Die Bloukransmonument se obelisk is van marmer gemaak en staan op ʼn voetstuk van klip. Dit is ongeveer 7 m hoog en is deur professor Nicilo van Carrara in Italië vervaardig. Die onthulling het op 17 Februarie 1897 plaasgevind.

Van Niekerk het die replika uit harskunsmateriaal gemaak en hy sê dit was amper meer ʼn klein konstruksieprojek as beeldhouwerk.

“Mens moet sekermaak al die hoeke is perfek reg en ek moes meer met ʼn presiese maatband werk as om kreatiwiteit te gebruik,” verduidelik hy.

Van die ander replikas wat reeds bekendgestel is, is monumente soos Vegkop, die Bybelmonument, Kaalvoetvroumonument, die Retiefklip en die Trichardt-mosaïek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter ·

Ons sal Bloukrans nooit vergeet nie. Offerland. Min het verander sinds 1838.

Francios ·

Ek was by die Voortrekker Monument die afgelope Saterdag. Ek wil almal aanmoed om tyd opsy te sit en daar ‘n draai te gaan maak. Jou besoek sal baie waardder word.
Daar is boonop nog kwaliteit koffie winkels. Ons was by die Skool op Wiele en het lanklaas sulke vriendelike mense ontmoet.
Ek dink ook die bome wat verwyder is was ‘n goeie idee. Ek het die mooi muur vir die eerste keer gesien

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.