Bly by die huis saam met my

(Foto: Verskaf.)

Perspektief. Dis moeilik om in hierdie vreemde situasie van ‘n wêreldwye staat van afsondering perspektief te kry. Hier sit ons in ons huisie, die vier van ons. Wat ons hoor en sien van die wêreld is beperk. Dit is maklik om onsself te verstrengel in ons perspektief van die realiteit. Dus, hoe ervaar mense in ander plekke hierdie algehele afsondering, in ag genome dat dit nie oral dieselfde werk nie?

Ek het my vrae aan ‘n Facebook-groep vir Suid-Afrikaanse Christenvroue wat in die buiteland bly, gestel. Hier is hul antwoorde:

Ansa Nel Celestine

Ek is van Pretoria en bevind my tans Londen. My werk het vinnig en heeltemal verander van 100% by die werk wees tot heeltyds van die huis af werk.

My man werk by ‘n hospitaal, dus is ons maar bekommerd. Hulle het baie sterftes daar. ‘n Liewe vroutjie wat ons ken, is oorlede en haar dogter het gevra of ons ‘n kersie vir haar ná 20:00 kan opsteek nadat ons en die res van Londen vir die National Health Service (NHS) handegeklap het, aangesien ons nie haar begrafnis kan bywoon nie.

Dis ook hartseer dat my dogter in haar laaste skooljaar was; dit het net skielik en met ’n skok tot ’n einde gekom – tot die juffrouens het gehuil! Die kinders het so hard gewerk aan hul doelwitte en nou, ewe skielik, is daar niks.

Verder hanteer ek die situasie goed en doen aanlyn joga en neem balletklasse by my instruktrise en onderwyseres wat vinnig moes spring om klasse aanlyn te bied of andersins hul inkomste te verloor.

Ons probeer om, sover moontlik, plaaslike ondersteuning te gee en het selfs iemand wat weekliks vrugte en groente aflewer. Die meeste mense hier naby my huis, volg die regering se riglyne.

Luzanne Pieterse

Ek is in China (Dalian). Ons afsonderingstydperk was vir my ’n belewenis, veral hoe streng en gewillig die Chinese by die regering reëls hou, hoe hulle dit aanvaar en hoe almal saamwerk.

Aan die begin was dit geweldig moeilik omdat ons nog nie eens drie weke hier was toe alles gebeur het nie. Die slegste ding van die Covid-19-afsondering was die stilte, die onsekerheid en hoe alleenheid ’n mens kan opvreet as jy in klein woonstel bly.

Ons is nou deur die ergste, maar gaan nou deur ’n tydperk waar die Chinese bang is vir die foreigners – net soos die wêreld bang was vir die Chinese. Hierdie onsekerheid is nou weer terug en soms loop hulle wye draaie om ons. Ek dink gereeld aan die liedjie “God hou van kindertjies” en hoe Hy hulle liefhet – uit elke volk, nasie, stam en taal; ja oor die hele wêreld is kinders spesiaal. En dan besef ek ons is almal net mens, en almal is bang. Elkeen het sy eie vrese en almal moet maar sien kom klaar met Covid-19.

Deur die hele afsonderingstydperk het ek besef hoe spesiaal familietyd is… My familie in Suid-Afrika gaan tans deur ’n bitter moeilike tyd: my pa is werk in Namibië terwyl my ma ’n onnie in Suid-Afrika is. Hy moes noodgedwonge vir sy mense sê hul salarisse word met 20% gesny. My skoonma-hulle gaan ook deur ’n geweldige moeilike tyd met ’n selfdood in die familie en ons wat aan die anderkant van die wêreld sit. Hoe smag ons nou nie vir daai drukkie wat ons altyd kon gee nie!

Geniet die klein dingetjies van die lewe, want dis wat saakmaak – daai laggie van jou kleuter of spesiale gesprek met jou tiener…

Die virus bring gesinne weer bymekaar, want die gejaagdheid van die lewe is skielik tot stilstand geruk.

Hierdie afsonderingstydperk was en is in baie opsigte vir baie mense ’n tydperk van nader beweeg aan God, en om weer stil te raak en dieper in sy Woord te gaan delf.

Hoe kosbaar is die stiltetyd nie!

Trudie Roux

Ek is van Pretoria en woon tans in Albany Auckland, Nieu-Seeland.

Ek is verstom oor hoe die mense hul samewerking gee en hoe reëls en regulasies (onder meer versoeke in supermarkte) gevolg word. Van wag jou beurt af om in die supermark in te gaan tot waar jou koors gemeet word voor jy by die apteek mag ingaan.

Al voorraad wat hier nie kan byhou nie, is bakbestanddele. Die mense bak en brou verwoed. Iets wat nogal uitdagend is, is wanneer jou kunshandwerk-voorraad opraak. Omdat slegs essensiële produkte of dienste beskikbaar is, kan mens nie altyd maak wat jy wil nie.

Dan iets persoonliks: hoe ek elke kleintjie by die skool mis en wonder wat hulle als doen om die dae om te kry. Ek dink kleiner kinders vind dit moeiliker as hul ouers omdat die ouers boonop aandag aan hul eie werk moet gee.

Katinka Heyns

Ons kom van Lephalale, Limpopo, maar woon tans in ’n voorstad van Atlanta in Amerika.

Ons is in week 4 vandat die skole in ons distrik gesluit is. Verlede week was ons “Spring Break”, maar die kinders is weer volstoom besig by ’n aanlynskool. Dit is ongelooflik hoe aanpasbaar die kinders is en hoe innoverend die onderwysers om steeds die beste en sinvolle onderrig aan hul studente te gee. Ons het 6 weke van skoolgaan oor voor die einde van ons akademiese jaar, maar ons het onlangs kennis gekry dat die kinders nie kan teruggaan skool toe nie.

My kinders gebruik Zoom vir klasse vir ballet, karate en selfs sokker. Kerke het ook aanlyndienste en Bybelstudiegroepe vir oud en jonk.

Ons staat is in die eerste week van ’n “shelter in place”-bevel, maar dit is nie so streng soos in ander lande. Ons kan nog as gesin in die buurt rondloop en ook na plaaslike parke gaan om te stap. Mense bly meestal 6 voet (sowat 1,8 meter) weg van mekaar en tree verantwoordelik op. Hier begin mense ook meer maskers en handskoene dra.

Ons geniet die familietyd saam en probeer die meeste maak van hierdie ongekende tyd.

Karmen von Benecke

Ek is oorspronklik van Nelspruit af. Ek woon in Singapoer, maar bly nou in Australië.

Singapoer het alles goed hanteer terwyl ek daar was, met baie mense wat oral skoonmaak, ontsmet en temperature meet. Hier in Perth, Australia is dit maar stil, ek sien geen plekke waar temperature gemeet word nie. Baie min handreinigers is beskikbaar.

Ek het vir my kinders kom kuier, want my seun het verjaar. Gedurende die tyd (twee weke) wat ek in selfisolasie was, het hulle die grense gesluit.

My man is op die oomblik in Singapoer en ek in Perth. In hierdie stadium weet ons nie wanneer ons mekaar weer sal kan sien nie – dis nogal erg! Ek probeer positief bly, maar is in ’n effense put op die oomblik. Die onsekerheid is die ding wat my vang. Ek bekommer my ook oor my ma en haar klein besigheid in Nelspruit.

In hierdie stadium is dit baie bid en baie huil.

Adri du Plessis

Ek kom van Piet Plessis, Noordwes, maar bly nou in Manitoba, Kanada.

Ons is in ’n ongelooflike bevoorregte posisie om op ’n plaas te kan woon, verwyderd van die samelewing. My man boer en ek bedryf my eie aanlyn tuisbesigheid. Vir ons is dit letterlik “business as usual” met die enigste verskil dat ek nou my gr. 1- en gr 3-kind tuis kan onderrig. Ek beskou hierdie geleentheid as ’n ongelooflike groot seën om in my kinders se grondslagfase en waardestelsel te belê. Ek gebruik ook hierdie tyd om hulle, meer as ooit, te leer van God en die Bybel.

Hier in ons omgewing kom die mense rustig voor. Ons is nie in afsondering nie en daar is nog geen Covid-19-gevalle binne ’n 100 km-radius van ons af nie.

Magdel Weber

Ek het in Moreletapark, Pretoria gewoon, maar bly nou in die Greater Washington DC-area in die VSA.

Vanaand lê ek en luister na die ambulansalarms wat kort-kort loei. My hart kry elke keer ’n beklemming as ek dit hoor.

My hart huil saam met elke een wat met Covid-19 siek is en met die ambulans hospitaal toe geneem word. My hart huil saam met my nuwe tuisland, die VSA, vir die swaar las wat hy dra. My hart huil saam met die wêreld vir al die seer wat hierdie virus gebring het. My hart huil saam met elke individu wat wegkruip in onsekerheid.

My hart huil vir my kinders waar vryheid, soos ons dit eens geken het, op die oomblik slegs ’n vae herinnering is. Dit maak nie saak waar in die wêreld ons is nie, die virus ag almal gelyk, ken nie kleur of grense nie en raak almal diep.

Ons gaan almal anders hiervan wegstap – verander deur omstandighede wat óns nie kan verander nie.

Ek bid vir my gesin in die VSA, my mense in Suid-Afrika, die gesondheidswerkers oral in die wêreld en elke persoon wat op watter manier ook al tans deur die virus geraak word.

Nicolette Van Niekerk

Ek is oorspronklik van Pretoria, maar woon nou in Zwijndrecht, Nederland.

Ons regering het besluit om ons in “intelligente isolasie” te plaas met meeste winkels wat nog oop is. Restaurante, skole, ensovoorts is gesluit, maar ons kan nog vrylik na ’n park toe gaan of met ons hond gaan stap.

Alhoewel die sterftesyfer reeds baie hoog is in Europa, is almal hier rustig. Meeste van die gevalle is ouer mense tussen ouderdom van 65 tot 95 jaar. Twee honderdjariges het selfs die koronavirus oorleef!

Andersins is dit nou lente hier by ons en ons geniet Holland se tulpe. Te pragtig!

Groetjes.

Leanie Du Toit

Ek kom van Middelburg, maar bly nou in Ascot, Engeland.

Ons onmiddellike gemeenskap hou streng by die reëls en gaan net uit as dit nodig is, soos om die honde te laat stap of vir daaglikse oefeninge.

Beslis opvallend is die mense se houding in die koswinkels: party is kortaf en ongeskik en skree op ander wat dit waag om een tree te naby aan hulle te staan. Die moeilikste is om te sien hoe moeilik dit is vir kinders wat nie skool toe kan gaan nie of nie in ’n park kan speel nie. So ook die kosrakke wat leeg is (jy kry partykeer net nie melk of eiers nie!) en die oumense wat alleen en afgesonder van hul gesin leef.

Wat goed is, is beslis die tyd saam familie. Ek is ook meer produktief in my werkery van die huis af. Ons oefen ook elke dag (iets wat ons nie voorheen gedoen het nie). Ons geniet die tyd saam as gesin. Ons rus naweke en ons spaar geld (want ons gaan nie uit nie en eet ook nie uit nie). Soos Beatrice gesê het, “a gift of time!”.

Ilse-Mari Stenzel

Ek woon in Bristol, maar kom oorspronklik uit Namibië en die Kaap.

Ons het ‘n wonderlike gemeenskap – ons woon in ‘n cul-de-sac en ons het ‘n WhatsApp-groep gestig vir al ons bure. Almal werk saam en bied kos en vermaak aan kinders en aan mekaar. Ons vra mekaar vrae of stuur snaakse video’s en foto’s. As iemand winkel toe gaan, bied daardie persoon aan om iets te koop wat nodig is.

Dis onseker tye, maar ons gemeenskap is sterker daarvan. Almal hou by die VK se afsonderingsreëls. Ja, dis moeilik, almal is onseker en weet nie hoe lank dit gaan aanhou nie. Ons maak egter die beste daarvan om mekaar te beskerm.

Petru Van Loggerenberg-Miccio

Ek is van Pretoria en bly nou in Caserta, Italië.

Vandag is ons 30ste dag van afsondering. Die goeie deel is gesinne wat saamkook en saamspeel. Ma’s kook en bak weer. Die natuur haal asem, die see is skoon en die lugbesoedeling is byna heeltemal opgeklaar. Vreemdelinge help mekaar finansieel en emosioneel.

Die slegte deel: baie mense volg nog steeds nie die reëls nie en baie mense ly honger, want hulle het geen inkomste nie. Die regering het hulp belowe, maar hul webblad stort alewig ineen van te veel mense wat probeer registreer. Selfdood en gesinsmoorde is besig om toe te neem. Mense van ons mediese spanne sterf daagliks…

Die lys is lank, maar tog is daar ’n silwer randjie om die donker wolk: die hoeveelheid sterftes asook Covid-19-gevalle is besig om te daal.

Anette Smit Greyling

Ek kom van PE in die Oos-Kaap en woon nou in Heidelberg, Duitsland.

Ons begin nou met week 4, maar dit is hier darem nie so streng soos in ander Europese lande nie. Ons kan nog buite stap, oefening doen selfs plekke soos DIY-winkels is oop. Ons sterftesyfer is baie laer as in ander lande en mens kry die gevoel dat dit hier nie so erg is nie – die mense in beheer het ’n plan en mense volg die reëls.

Wat bemoedigend is, is dat soveel jongmense hulself beskikbaar stel om bejaardes en mense wat onder kwarantyn is, te help met inkopies of om hul hond te vat om te stap.

Maar skielik wonder ek of die bekende Europese groet van soen langs elke wang ooit weer beoefen sal word. Mense kyk mekaar agterdogtig aan, so half bang vir mekaar. Mense praat ook nie meer met mekaar soos voorheen nie – selfs ’n vinnige hallo en hoe gaan dit word vermy. Ek voel elke keer as ek uitgaan om kos te koop asof ek melaats is, maar ek kyk seker so na ander ook.

Die bejaardes wat nou so alleen is, veral tydens Paasfees, maak my so hartseer – geen besoeke van hul familie in die ouetehuise, geen drukkies en geselsies.

Vir my en my man is dit nie so ’n groot aanpassing nie. Ek is ’n huisvrou en hy werk nog altyd van die huis af, dus is ons omstandige tuis amper normaal. Maar mens mis jou vryheid om te reis; Europa was vir ons so wonderlik aangesien mens sommer oor ’n naweek na enige Schengen-land kan reis (soos ek hier sit, voel ek hoe daai drang om ’n nuwe plek te sien en te reis, al hoe groter word).

Alle grense is gesluit en elke Europese land moet nou maar self sien kom klaar. Maar ons is positief en weet God is nog steeds in beheer, maak nie saak hoe paniekbevange ons raak nie.

Bly kalm en vertrou die Here. Ek is so dankbaar ons het ’n geloof om aan vas te hou!



Terug by my eie gesin, die Du Preezs op die Suid-Eiland van Nieu-Seeland, het die wêreld basies gestop. Ek was 24 dae laas buite my “borrel”, soos ons regering dit noem. Ons afsonderingstydperk van vier weke het op 23 Maart ’n aanvang geneem. Ons verwag dat dit oor ‘n week opgehef sal word, maar hoe dit sal wees, weet ons nie. Dit kan moontlik beteken dat baie van ons mense kan teruggaan werk toe, maar ons sal na alle waarskynlikheid nog steeds nie normaalweg kan skool toe gaan nie, sosialiseer of inkopies kan doen nie. Ons mag dalk ons vriende sien, maar jou “borrel” mag nie meer as tien mense insluit nie.

Die ekonomie gaan vir seker hieronder ly. Daar is ook implikasies ten opsigte van ons visumstatus, en baie mense wat aansoek om permanente verblyf gedoen het, se visums is nog nie uitgeklaar nie.

Ons is darem amper deur die ergste.

Interessante goed gebeur hier. Mense wat hul werk verloor het, herbekwaam hulself vinnig om sleutelposte te vul. Ander leer nuwe vaardighede aan en raak baie kreatief om ernstige probleme op te los, soos om gesigsmaskers te maak en te voorsien.

Almal se fokus het verskuif na help mekaar, help die ekonomie en hoe ons saam hierdeur kan kom.

Tans is daar ‘n teddiebeerjag in die land, waar mense beertjies in die vensters sit vir kinders om te vind wanneer hulle in die buurt gaan stap (hoewel jy so naby as moontlik aan jou huis moet bly). Dit laat ons almal glimlag, en baie mense neem deel.

Ek besef ons het ‘n ander ervaring van afsondering as wat ons geliefdes in Suid-Afrika het. Daar is goed wat ons kan doen en kry wat ons mense in Suid-Afrika nie kan nie. Daar is beslis ander uitdagings vir Suid-Afrikaners in die buiteland. Ons visums is gekoppel aan ons werkstatus hier, dus is dit ‘n ander vorm van angs vir baie van ons, en maklike oplossings is daar nie.

En natuurlik bekommer ons ons oor vriende en familie wat dieselfde deurmaak in ander lande waar dinge anders werk. Al wat ons kan doen, is bid en fokus op die goeie. Ons is almal saam in hierdie ding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.